You are browsing the archive for renosters.

Profile photo of Barend

by Barend

Die renosterredders?

September 22, 2012 in Uncategorized

Ja né. Hoe het die wêreld darem nie verander nie? Die tye. Vat nou maar hierdie spotprent in die Landbouweekblad van 14 September. Daar staan twee boere. En tussen die twee boere is daar ’n heining. Die eenkanste boer se plaas het ’n renoster en die anderkantste boer se plaas het ’n volstruis. En dan sê die boer met die volstruis vir die boer met die renoster ‘Ja, jy bekommer jou oor sy horing, terwyl ek my nou weer dood worrie oor my voël…’ En dan vryf hy so die sieke volstruis se nek.

 

Ja. Tye is anders. In die jare toe hierdie tipe spotprent nie sommer in enige tydskrif in Suid-Afrika sou pryk nie, het die volstruise nie so erg gevrek nie. En daar was ook nie so ’n grootskaalse gestropery van renosterhoring nie. Tye verander maar.

 

Maar hierdie ding van die renosterhoring wat so gestroop word, ek moet sê, ek het die laaste ruk ook al geleer. Die hele storie is baie meer sinister as wat mens ooit sal kan raai. Die debat is lewendig. En hoewel ek nie altyd so mooi op hoogte is nie probeer ek altyd hard om te wees. My nuutste insigte het die appelkar vir my totaal omgekeer. En ek is altyd dankbaar as dit gebeur. Dit is altyd vir my verfrissend as ek daartoe gelei kan word om dinge op nuwe maniere te sien. Selfs al is dit ander mense se maniere van sien, en selfs al stem ek nie noodwendig daarmee saam nie, is en bly dit verfrissend.

 

Nou, ek was altyd een wat positief was oor die verbod op die handel van renosterhoring. Maar vandag is ek nie meer so seker nie. Vandag het daar vir my liggies aangegaan wat twyfel by my laat ontstaan. Want my perspektief gee. In ’n artikel uit die einste Landbouweekblad getiteld ‘Wanneer is groen té groen?’ deur Abré J Steyn word daar gevis na die indrukke van die ene John Hume wat beskryf word  as “Die wêreld se grootste renosterteler” – ’n kenner op die onderwerp van renosters dus. En hier is van die interessante stellings wat na vore kom:

 

“Van die minstens 270 organisasies wat almal op die gee-ons-geld-om-renosters-te-red-wa geklim het, is daar blykbaar net 15% wat enigsins openbaar waarheen die hope geld gaan wat hulle by die goedgelowige Jan Publiek bedel.”*

 

Ons ken almal hierdie ritueel. Of ten minste iets soortgelyks. Jy stap uit die inkopiesentrum uit en ’n man keer jou voor. Hy bring ’n papier te voorskyn wat in ’n voosgevatte plastiekomhulsel is. En hy sê iets soos ‘meneer, ons vra asseblief ’n skenking vir armlastige kinders’. Jy vat die papier. Jy kyk daarna. Dit oortuig jou nie. Jy kan sien die ding is nie amptelik nie. En dan sê jy ‘nee’. En dan, as ’n nagedagte, dan sê die man vir jou, ‘meneer hierdie kinderhuis huisves nét blanke kinders ek sweer voor die Here meneer’. Asof dít nou al was wat jy nodig gehad het om te hoor om jou laaste geldjies uit jou beursie te skud…

 

Die berig gaan dan verder:

 

“Ek verneem dat die International Fund for Animal Welfare (IFAW) na bewering $200 miljoen per jaar insamel. Dis meer as die waarde van ’n duisend renosters se horings en is ’n veel makliker manier om vir jouself werk te skep en groot geld te maak as om, soos wilddiewe, renosterhoring te steel.

Die staking van renosterhoringstroping sal tot hul nadeel wees, want gebeur dit, sit talle van dié aktiviste sonder werk. Cites, wat deur die diereregte-aktiviste gekaap is en direk deur hulle beheer word, is ons renosters se grootste vyand. Al wat Cites eintlik met sy verbod op wettige horinghandel regkry, is dat slegs die té groen organisasies en renosterstropers fortuine uit renosters maak.”*

 

Ek moet erken ek was ook altyd een van daardie mense wat gevoel het dat die verbod op renosterhoring ’n goeie ding is. Vir my was dit ’n saak van dat die hele mark gebou is op ’n pseudo-geneeskunde. Dat om die handel in renosterhoring te wettig en daardeur die internasionale vraag te laat daal deur die mark te oorspoel met die goed, dat dit eintlik maar net die simptoom sal behandel en nie die ware siekte nie. Die siekte van die leuens van Chinese mediese mitologie. Maar nou is ek beslis nie meer so seker nie. En dit is ook duidelik dat die huidige benadering eintlik geen vrugte afwerp nie. Die renosters word nie op hierdie manier beskerm nie.

 

En nou begin ek ook sien hoe baie van hierdie ‘kampvegters vir die natuur’ eintlik maar net vir hulle eie sakke baklei onder die vaandel van ‘diereregte’.

 

Maar hier is die crux van die saak. Die verbod werk nie. Daar is in 2012 alreeds meer as 388 renosters gestroop, en sover ek weet is dit net in Suid-Afrika:

 

“Dertig jaar gelede, toe Cites se verbod op renosterhoringhandel ingestel is, het Zambië op twee na die meeste swartrenosters ter wêreld gehad en was daar nog 2500 swartrenosters net in die Luawavallei. Binne twintig jaar is almal gestroop – baie deur hul opassers sélf. Vandag is dié getal omtrent die somtotaal van die wêreld se renosterbevolking. Ondanks hul verbod en al hul leunstoel-idees oor hoe renosters bewaar moet word, het hulle klaaglik misluk.”*

 

Dit laat mens wonder. Dit laat my ten minste wonder of die verbod op renosterhoringhandel nie maar net ’n ander manier was om ’n mark te skep nie. Want daar sit al hierdie groen organisasies en hulle samel lekker baie geld in. Hulle niks anders as stroop die goedgelowige publiek nie. En in die tussentyd word die renosters uitgeroei.

 

*Uit: ‘Wanneer is groen té groen’ deur Abré J Steyn in Landboeweekblad, 14 September 2012 pp. 74 -75.

 

N.S. Ek wil graag die skrywer van die betrokke artikel bedank vir die keurige gebruik van diakritiese letters wat ’n aangename leeservaring tot gevolg het.