Profile photo of Barend

by

Ek droom van ’n droom – Elsje Neethling Blair en Maretha Maartens

February 25, 2013 in Uncategorized

Elsje Neethling Blair. Ek weet nie hoekom nie maar ek het dit altyd hier in my agterkop gehad dat Neethling SA kleure in duik het (in die ou taal ’n Springbok duiker dus, ek campaign nogsteeds dat al ons nasionale kodes eendag onder daardie trotse Afrika simbool, die Springbok moet verenig, al weet ek dit sal nooit gebeur nie). Ek vermoed ek moes dit iewers gelees het dat Neethling ’n SA duiker was. En ek het tog gehoop daar word iets hiervan belig in die boek. Maar al wat dit sê, is sy is ’n “swem en duikkampioen”. Nou wonder ek nog steeds of sy ’n SA duiker was of nie, maar die boek gee wel te kenne dat sy “8 keer” provinsiale kleure in swem verwerf het.

 

Maar “Ek droom van ’n droom” is nie ’n verhaal van Elsje nie, dis eerder ’n verhaal van menswees, wat bloot maar in terme van die lewe van Else Neethling Blair vertel word. Dis die verhaal van ’n mens wat probeer om na sin en rede in die lewe te soek te midde van verval. Te midde van erge fisiese lyding en verwarring oor die agteruitgang van wat vir elke mens sekerlik die kosbaarste ding is wat ons het – ons gesondheid.

 

Nou, omdat hulle die Neethlings is (en nie die van der Merwes nie), het Elsje reeds op ’n baie vroeë ouderdom belofte as sportvrou getoon. En as dit by sport kom, dan is die Neethling familie mos nou juis bekend veral vir een ding. Swem. Neethling beskryf swem en water treffend as haar “tweede wêreld … Dis die koel wêreld waarin ’n mens soos ’n vis in die see word – nooit soos ’n goudvis in ’n visbak nie. Alles is so mooi in die water, soos musiek, soos dans. Hoofpyn en ander pyne los in water op, soos sout of suiker. Jy duik met ’n hoofpyn waarvoor Disprins nie help nie in die water in en jy kom daar uit met niks, clear as crystal. Jy skiet jouself van die kant van die swembad af weg met ’n neus wat tóé gehuil is oor iets. Jy doen vier 50 meter-lengtes rugslag of vryslag en alles word blouer en blouer, soos lapis lazuli, een van die mooiste kleure in die heelal, sê my kunsjuffrou. In die water dink ek aan niks anders as water nie. Water is vir altyd. Dalk is water beter as first kisses.” (pp 41 – 42).

 

En dit is dan ook daar waar Neethling se verhaal in hierdie boek begin. Dit begin waar sy in die vroeë tienerjare haar skool, die Oranje Hoër meisiesskool, verlaat omdat beter swemafrigting te kan kry aan die baie bekende Eunice Girls High. Swem vorm dus ’n sentrale tema regdeur die boek. Nie net Elsje se verhouding met die swembad nie, maar ook, uit die aard van die saak kan mens seker sê, dié van broer Ryk en suster Jean-Marie kom prominent na vore. ’n Belangrike onderdeel is dan natuurlik ook hoe Neetling Blair se liggaamlike lyding haar swemloopbaan kortgeknip het, en hoe die siekte haar lewe omvorm het sodat sy nuwe ‘drome’ moes vind.

 

Oor die titel van die boek “Ek droom van ’n droom”, kom mens veral iets meer te wete in hoofstuk 17. Elsje word gevra om ’n kankerlyer wie sy nie ken nie in die hospitaal te gaan besoek, om dié hopelik te motiveer. Maar dit sukkel. Die gesprek tussen die twee vlot nie. Uiteindelik merk Elsje teenoor dié persoon op “Dis wat ons anders as ander kinders maak . . . Hulle hoef nie nou al uit te figure wat hulle wil doen voor hulle doodgaan nie. Ons móét, anders gaan ons dood (p 108).”

 

Die skoolloopbaan vorm ’n groot deel van die boek. Sy gee ’n venster in die wêreld van ’n lyer van breinkanker. In haar geval, choroïed pleksus karsinoom, wat veral erge kopseer veroorsaak. So gee sy ’n beskrywing  van ’n gala geleentheid, en hoe die siekte haar lewenskwaliteit op ’n jong leeftyd reeds gerem het.

 

Die Christelike geloofsoortuiging speel ’n belangrike rol in haar stryd. Daar word regdeur die boek herhaaldelik na haar geloof in God verwys, maar onderliggend hieraan is ook ’n worsteling met God oor kanker en wat dit alles behels. Vir ’n totaal ongelowige mens mag hierdie aspek van die boek dalk bietjie oordadig wees. Maar mens kry die gevoel dat sonder die sterk spirituele element van hierdie boek, sou dit nie so eerlik gewees het nie. Want vir Elsje en haar familie is God deel van wie hulle is.

 

Alhoewel die boek aandui dat dit deur Neethling Blair en Maartens geskryf is, is dit duidelik ’n groter spanpoging. Want hier is ook hoofstukke wat geskryf is deur die bril van die pa Ryk snr., die ma San-Marie, suster Jean-Marie en lewensmaat Bruce Blair. Hierdie ‘ander’ hoofstukke word tipies aangedui deur ’n foto waarop die bepaalde spreker verskyn. So skryf San-Marie in die een hoofstuk: “My kind lees dinge waarvan kinders nie eens behoort te weet nie: Side effects of radiation therapy to the brain may include: headaces, extreme fatigue, loss of hearing; nausea and vomiting, loss of hair, cerebral oedema, seizures and memory relapses … Delayed effects of brain radiation may be caused by necrosis of brain tissue, resulting in amnesia, impaired brain function and strokelike syptoms.” (p 92)

 

Nadat sy in 1998 aan die Eunice Girls High gematrikuleer het, bevind Elsje haarself in Londen Engeland waar sy in die gasvryheidsbedryf werk, as kroegdame, as ek reg verstaan. En hier beland sy kort voor lank in lewensgevaar. Dit gebeur nadat ’n lid van die publiek, wat ook ’n gevaarlike bendelid is, wraak sweer nadat sy nie in die man se toenadering belangstel nie. Sy beskryf hoe hierdie situasie handuit geruk het en hoe sy dikwels moes wegkruip uit vrees vir haar lewe, en hoe daar spesiale stappe deur haar werkgewers geneem moes word om haar veiligheid te verseker.

 

Behalwe vir hierdie interessante saak is Elsje se verhaal in Londen maar die van menige jong Suid-Afrikaner wat daar land – ’n ewige konflik tussen hulle konserwatiewe Suid-Afrikaanse waardes en hoe om dit te laat klop met die lewe in Londen.

 

Daar is, verstaanbaar, groot gapings in die boek, want die boek is nie oor Elsje se lewe nie, maar oor haar stryd met die onsekerhede van ’n lewe met kanker. So word dit baie dramaties toe sy, slegs enkele maande voor haar troue, weer siek word. Dit laat haar in ’n tweestryd binne haarself. Oor haar huwelik en haar lewe met Bruce. Hierdie tweestryd is uiteindelik regdeur die boek ’n belangrike motief. Dis ook, soos reeds genoem, ’n stryd met God. Dit is wat jy alreeds kan sien deur slegs na die buiteband van die boek te kyk, waar Elsje se gesig verskyn met ’n kruk wat haar gesig in twee deel. Aan die een kant is daar dan baie blomme en dis helder en vrolik, waar die ander kant van haar gesig in donker gehul is.

 

Ek was gelukkig dat ek hierdie boek te lese kon kry. Daar is so baie dinge, boeke veral, en so min tyd, dat ek nooit by hierdie ene sou uitkom was dit nie dat ek dit by iemand kon leen nie. En al wat ek eintlik wil sê is dat dit my nie verbaas dat hierdie boek so ’n topverkoper is nie. Elsje se verhaal gaan uiteindelik oor hoe om ’n lewe van oorwinning te lewe, selfs ten spyte van baie wat verloor word. Haar hele boodskap is – die lewe is kosbaar. En die hele boek word uiteindelik vir my ten beste opgesom in hierdie woorde:

 

“Ek het geleer dat ek elke dag uit my mooiste teekoppies moet drink, want ’n mens weet nooit nie. Daar bestaan nie iets soos ’n special occasion nie. Elke dag is ’n celebration en ’n miracle.” (p 247)

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>