Avatar of Barend

by

Verraaiers

February 24, 2013 in Uncategorized

“Oorlog is waansin, en verraad is ’n gebroke woord”

 

“Die eintlike verraaiers is hulle wat nie kan erken dat hulle verloor het nie . . . wat God wil speel met ’n mauser in die hand.”

 

Ek het probeer om hierdie aanhalings uit die film ‘verraaiers’ te memoriseer soos die akteurs dit sê. Ek twyfel of ek dit 100% presies akkuraat onthou nou, maar dit is hoe ek dit nou onthou. Dit is in elk geval die essensie.

 

Daar is iets baie goed wat ons vandag het. Iets wat ons nie altyd gehad het as dit by die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902), kortweg die ABO, sou kom nie. Elke keer wat ek ’n nuwe boek, ’n film, of TV-reeks oor die ABO sien, dan wonder ek, kan mens hierdie oorlog en van die gebeure wat tydens die amper 3 jarige stryd plaasgevind het dan nou NOG ’n keer nuut herinterpreteer? Is daar nie al genoeg boeke en films en dies meer oor die ABO gemaak nie?

 

Maar ’n film soos ‘Verraaiers’, sou bloot net nie moontlik gewees het 50, selfs 30 jaar gelede nie. Want dit was die tyd van die hoogbloei van Afrikanernasionalisme. Dit was die jare toe mense lief was om die verlede te poets soos ’n geliefde paar skoene. Blink te poets. Dinge is weggesteek in die naam van ‘die volk’. Soos byvoorbeeld die ‘Boerevlugtelinge’ van Lesotho. Soos byvoorbeeld ‘henshoppers’. Soos byvoorbeeld ‘joiners’.

 

Daar is, soos wat mens aan die einde van hierdie film sien, geen standbeelde vir ‘hulle’ gebou nie.

 

’n Mens sien hierdie selfde ding in die ‘nuwe’ Suid-Afrika, waar die vryheidstryd met sy gepaardgaande geweld oorverromantiseer word. Waar waarhede nie regtig geld nie. Ek het al voorheen na hierdie aanhaling verwys, en ek wil dit vandag weer doen. Frederik van Zyl Slabbert het gesê:

 

“One thing the ‘old’ and the ‘new’ South Africa have in common is a passion for inventing history. History is not seen as a dispassionate inquiry into what happened, but rather as a part of political mobilisation promoting some form of collective self-interest.”

 

Maar ‘Verraaiers’ is ’n perd van ’n ander kleur. Ek is geen kenner van die ABO nie. Ek weet net daar is al ’n hele aantal jare nou ’n herinterpretasie van die ABO. Daar is verskeie bronne waar die ABO op nuwe wyses gesien word. Een voorbeeld was die publikasie van die boek “The war memoirs of Commandant Ludwig Krause”, waar die Kruger regering onder erge kritiek deurgeloop het vir hul veglustige politiek waarmee enige vredemakers verneder was. Hierdie memoir is reeds tydens die oorlog geskryf. Die laaste dekade of wat is daar ook ’n toenemende fokus op die lyding van mense in die swart konsentrasiekampe (of dan nou interneringskampe).

 

En so was daar ook byvoorbeeld PG du Plessis se boek “Fees van die ongenooides” – ’n boek wat sekerlik uitstaan as een van DIE heel grootstes in die skatkis van letterkunde rondom die ABO.

 

Maar daar is een enorme fundamentele verskil tussen “Fees van die ongenooides” en die film “Verraaiers”. Waar “Fees van die ongenooides” staan in die sentrum van die post-kolonialisme, is die film “Verraaiers” eerder ’n werk wat in die tradisie van die postmodernisme staan. Waar daar in “Fees van die ongenooides” ’n algehele verval van die ‘held’ is, is dit in ‘Verraaiers’ eerder ’n geval van dat die ‘helde’ nie eens die hoofkarakters is nie. Dit is een van daardie tipiese eienskappe van die postmodernisme. In ‘Verraaiers’ is die hoofkarakters ’n gehate familie. Hulle is naamlik ‘Henshoppers’. Hulle is Afrikaners wat besluit het om nie meer deel te neem aan die oorlog nie, en eerder die eed van lojaliteit aan koningin Victoria onderteken. Om hulle vroue en kinders en baba’s se lewens te spaar.

 

Maar ek loop nou dinge vooruit. Die film begin met ’n baie bondige maar goeie uiteensetting van die ABO. Die stem wat hierdie uiteensetting lees kan niemand anders s’n wees as die van die bekende radio en TV-persoonlikheid Rian van Heerden nie. En dan sien mens ’n nabootsing van die sterfte van generaal Koos de la Rey se seun. Generaal de la Rey word geskets hoe hy by sy seun se sterfbed staan, en dan oomblikke nadat de la Rey se seun sterf vra de la Rey vir die hoofkarakter, wat deur Gys de Villiers vertolk word – is vryheid dit werd?

 

En so is daar ’n amperse ‘vyandigheid’ teenoor oorlog aan hierdie hele film. Die ‘helde’, die Boerekrygers, wat ons vandag nog eer as die dapper stryders teen Britse imperialisme (soos wat my eie voorgeslagte in daardie einste oorlog teen die Britte geveg het en ook in ballingskap was), talle van hierdie Boere word as hartelose en bombastiese mense geskets (net soos sommige van die Boere in “Fees van die ongenooides”).

 

Ek wil nie te veel uitwei nie. Ek wil nie dinge weggee nie. Al wat ek kan sê is, waar mens nou in byvoorbeeld “Fees van die ongenooides” ’n ontnugtering in die ‘establishement’ en die aanvaarde norme van die samelewing sien, sal jy in ‘Verraaiers’ iets ergers sien. Daar is hier eerder ’n totale ontnugtering in die hele toestand van menswees. Dit is wel so dat vroue ’n meer prominente rol in “Fees van die ongenooides” gespeel het, maar dit kan verstaan word in die lig van die feit dat die grootste deel van ‘Verraaiers’ wentel rondom die hofsaak van die beskuldigdes.

 

Dit was die geliefde akteur Andrew Thompson se laaste film, en dié lewer ’n briljante vertolking van sy karakter wat gekenmerword aan karakterontwikkeling. Dit was ook een van die heel laaste produksies waarin die legendariese Johan van der Merwe verskyn.

 

Ek sonder nou hierdie twee here uit. Ons sal hulle onthou solank ons lewe. Maar daar was nie een akteur of aktrise in hierdie film wat volgens my oordeel ’n swak vertolking lewer nie. En die rede? Die antwoord lê in die teks self.

 

Dit is die groot verskil tussen ‘Verraaiers’ en byvoorbeeld ‘Klein Karoo’. In ‘Klein Karoo’ is daar ook briljante akteurs. Maar die teks is vervelig en voorspelbaar. Maar hierdie film, hierdie ‘Verraaiers’, dit is ’n monumentale moment vir Afrikaans en vir Suid-Afrika. Dit is ’n universele verhaal wat bloot maar afspeel in Suid-Afrika. Dit skets op die mees dramatiese wyse hoe ‘reg’ en ‘verkeerd’ eintlik maar altyd grensgevalle is.

 

En wat my ook veral beïndruk het is dat die film ‘Verraaiers’, heel aan die begin van die film, nie daarop aanspraak maak dat dit ‘die waarheid’ of ‘a true story’ is nie. Daar word bloot gemeld dat die film gebaseer is op ware gebeure. Dit hou dus rekening met die feit dat geen film of skets ooit die werklikheid na regte sal kan uitbeeld nie. Die einde het ek nie gesien kom nie. Die film is nie na my mening voorspelbaar nie. Dit is alreeds ’n prestasie. Die film eindig op ’n manier wat in eie reg as ’n stuk ‘postmodernisme’ tipeer kan word. Meer as dit wil ek nie sê nie.

 

‘Verraaiers’ kan vir my ten beste beskryf word as ’n produksie wat volg in die voetspore van films soos ‘Roepman’ en ‘Fiela se kind’. Daar is so ’n magdom van ryk genuanseerde en geskakeerde tekste beskikbaar in Afrikaans, dat dit eintlik jammerlik is dat ons so min van hulle verfilm sien. Daar is te veel boeke om te lees in Afrikaans. Ek het self nog nooit die boek ‘Boereverraiers’ gelees waarop hierdie film gebaseer is nie. En daarom is ek ekstra bly dat ek dit in só ’n knap film opgesom kon sien.

 

Ek gebruik nie sommer hierdie woord nie, dit herinner my te veel aan laerskool (nie dat ek iets teen my laerskoolonderwysers het nie, hulle was uitstekend, dis dalk manet omdat my maats meer dikwels as ek dit in rooipen gekry het met ’n mooi plakker en ek maar soms dom gevoel het):

 

Puik!

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>