Avatar of Barend

by

STRAATLIGKINDERS – KONINGS MET VERSKONINGS

February 24, 2013 in Uncategorized

Ah, ja. Ek het danksy die gawe mense van Rapport al weer ’n pakkie in die pos gekry. Die Straatligtjinners.

 

Sjoe. Ek moet tot my spyt erken ek is nou nie goed vertroud met hierdie orkes of enige van hulle musiek nie. So, toe ‘Wiki’ ek die storie. Ah. Wikipedia. Die lui navorser se vinnigste kortpad.

 

So leer ek toe dinge van die Straatligkinders. Dit is ’n baie suksesvolle orkes. Miskien nie die heel bekendste orkes ooit in Afrikaans nie. Maar redelik gewild.

 

Maar ek het nie geweet dat hulle ‘gospel’ sing nie. Groot verassing. Gospel. Ek wonder of hulle nog altyd liedere van hierdie sterk geestelike aard gesing het. Ek kon dit nie regtig lekker aflei van die Wiki blad nie. Maar dis moontlik. Gegewe die naam, wat nou ook vir my ’n heel nuwe dimensie gekry het nadat ek deur ‘KONINGS MET VERSKONINGS’ geluister het.

 

Dit is ongelukkig nie musiek waarna ek lank sal kan luister nie. Dit is baie sterk kitaargedrewe musiek. Het my gevoel ek is weer iewers in my duistre verlede. In een van my eksperimentele fases. In ’n oorgangsfase waar ek die ‘nuwe’ Barend moet ontdek. Ek het lanklaas sulke fases beleef. En hoewel ek regtig glo in nuwe dinge uit probeer, en ek glo ek redelik ‘oopkop’ is, veral in terme van musieksmaak, is daar ongelukkig vir my net nie iets wat my regtig geboei het aan hierdie album nie.

 

Ding is, ek is dalk maar te oud. Ek soek sterk melodieë. En ek soek variasie. Die musiek op hierdie album is vir my bietjie soos ’n sekere radiostasie waarna mense graag hier in my dorp luister. Dis net alles dieselfde. Daar is ’n doef-doef wat voel of dit net aanhou, en aanhou, en aanhou, en . . . ek dink u kry die punt.

 

En dan die spiritualiteit. Ek dink dit is wonderlik dat mense hulle spiritualiteit uitleef. En daar is werklik interessante lirieke hier op hierdie album. Oor onderwerpe waarmee mense dikwels worstel. Maar vir my is dit net een te veel. Daar’s net té veel spiritualiteit hier ineengeryg.

 

Dit maak my bekommerd as mense té veel aan God dink. Want ons dink dikwels goet uit oor God wat, met respek gesê, nie regtig van God kom nie. En dan wil ons andere hierdie dinge laat glo wat ons self oor God uitgedink het.

 

Die Prediker sê mos al toentertyd daar’s ’n tyd vir alles. Elke ding het sy tyd en plek. God kan ’n plek he. Vir my is dit ook goed en wel. Maar menswees moet ook ’n plek he. Daarom sal ek graag nogal eendag ook van Straatligkinders se ‘ander’ musiek ook wil hoor, bedoelende nou, hulle nie-gospel of dan nou, nie-geestelike musiek. Want dis swaar om ’n hele album lank na dit te luister. Toe dit tyd word vir die BONUS SNITTE kon ek net nie meer nie. Ek het afgeskakel. En ’n draai gaan loop in die tuin. En opgekyk en ek dink ‘dankie’ gesê. As ek reg onthou. En toe’s dit verby. Salige verkeerslawaai.

 

Maar gelukkig vir die STRAATLIGKINDERS sowel as al hulle ondersteuners is hoe en wat ek oor hulle musiek voel waarlik van mindere belang. Ek weet nou van hulle en ek gaan BESLIS my ore gespits hou en hierdie orkes se ontwikkeling dophou. Miskien bring hulle eendag musiek uit wat ek weer meer van sal hou. En laat ek net sê, ek is baie bly dat daar so baie soorte musiek in Afrikaans gemaak word, want smaak verskil, en daar is duidelik ’n behoefte aan hierdie soort van musiek.

 

Nou, as daar enige STRAATLIGKINDERS fêns is wat nog nie hierdie ene vir hulle versameling het nie, of sommer net enige mense wat van hierdie musiek wil leer ken, vertel my daarvan of sê net ja jy stel belang. Jy wil die CD he. Jou epos adres gaan sigbaar wees vir my maar nie vir andere nie. Ek stuur dit graag aan.

 

Die ding is, ek versamel mos nie CD’s nie. En ek is bevrees hierdie ene gaan ook ’n brood word. Hy gaan, as iemand hom nie gaan opeis nie, gaan hy daar eindig in die vertoonkas van die kry-kontant-vir-die-goet-in-jou-hand winkeltjie hier naby my.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>