Profile photo of Barend

by

’n Rare geval van die ‘professor doktor’ verskynsel in die 21ste eeu

February 22, 2013 in Uncategorized

Ek het nou hierdie ervaring gehad, so ’n ervaring wat mens kan sê jou so ’n ouwêreldse gevoel gee. Dit is hierdie ding van die ‘professor doktor’. Professor dokter Poggie Poggenpoel. En dan het jy ook dikwels daardie verdere uniekheid van die ouwêreld gehad in die vorm van dat die vrou dan bekend sal staan as mevrou professor doktor Poggie Poggenpoel. Maar dis nie in hierdie geval ter sprake nie. Ek het maar net gedink aan hierdie verskynsel toe ek van hierdie spesifieke professor doktor lees. Deesdae, in die 21ste eeu, is die neiging mos meer om die hoogste van al jou titels te kies en dan die res te drop, in hierdie geval sou die ‘doktor’ gedrop gewees het. Ja maar nie almal is mos al by die 21ste eeu nie.

 

Ja, want nie alle professore is mos doktore nie né, en nie alle doktore is mos professore nie. So ons moet wéét, dis nie sommer só nie.

 

Ma wat my die meeste opgeval het, is die dinge wat daar oor God gesê word. Ag liewe aarde. Ek wens ons was almal so gelukkig dat ook ons presies kon weet hoe God se kop werk. Want volgens die professor doktor is dit so dat “As ’n boer voor sy Skepper staan, is die eerste wat Hy sal doen om na te gaan of die boer se werkers op ’n menswaardige manier kon leef”.

 

In hierdie geval sien ons dat die betrokke professor doktor vir ons geen Bybelversie bylas nie. Sien, die gebruik is mos tipies om die Bybel so te vat, en dan as jy jou stelling gemaak het, dan word dit gestipstandieer en geverivibreer deur teksverste uit Bybel. Jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie wat drie Bybel wat vers wat sê sus en so. En as jy dit doen gaan jy hel toe. Vir ewig.

 

Maar nou moet jy ook nie dink hierdie is presies die laaste woord nie. Want so sal jy dan die een of ander andere heer of dame raakloop wat weer die hele storie sal omdraai. Jy sal daai een kry wat sê nee, God se pyn is nie eintlik by die boere nie maar eerder by die werkers, want hoekom het hulle nie hulle se talente gebruik nie en dit eerder gaan begrawe? Hoekom het hulle nie hulle se matriek voltooi toe hulle die kans gehad het nie? Hoekom het hulle nie die merietebeurs gewen en ook professor doktor by Cambridge gaan word nie? Nou moet hulle tot soveel as die duisendste geslag gestraf word met die hel.

 

Uiteindelik sal ons dan almal moet hel. Die boere, die arbeiders, die verbruikers, die middelmanne (en vroue), die hele lot gaan hel.

 

En die dominee kry die kollekte.

 

Mens wens dat hierdie professor doktor sommer ook vir ons wil vertel hoekom so baie van ons jong en talentvolle boere nou gewerf word om reg oor die wêreld te gaan boer, selfs op ander kontinente. Dit is darem vreemd dat hierdie boere, wat nou sulke monsters hier in Suid-Afrika is, so baie erg gesog is daar oorkant die water. Dit is nogal n klein verliessie vir onse landjie. ’n Ligte mistykie kan mens sê. En wie kan hulle kwalik neem as hulle waai? En meen, jy koop die plaas, jy koop die bees, die entstof, die lek, jy bou die melkery en jy melk die koei. En dan kry jy dalk R2 vir jou liter melk. Maar by die winkel kos daai selfde liter melk R13 of R14. Of R15.

 

Dat daar boere is wat minder rojaal kan lewe, daarmee kan ek nogal saamstem. Maar ek twyfel sterk of ALLE arbeiders ALTYD net klein bietjie hoender op naweke kry om te eet. Ek betwyfel dit. Ek wonder nou of die professor doktor self daardie praktiese studie gaan doen het, en ook of hy dit net by een spesifieke plaas gaan doen het en nou sy bevindinge wil projekteer op die ganse landbougemeenskap nie. Ek dink hy moet dalk kyk na so ten minste 25 na 30 verskillende plase regoor Suid-Afrika waar hy elke keer ’n hele jaar as arbeider gaan werk. Hy kan sommer ’n lewenslange studie van die saak dus maak.

 

Ag, ek praat te veel. Al wat ek eintlik wil sê is dit is wonderlik dat daar mense is wat presies weet hoe God se kop werk en sommer in die toekoms in kan sien oor wat God met elke liewe boer gaan doen die oomblik as hulle daar voor die pearly gates aankom. Ek wens ek kon self sien wat God alles beplan. Nee kyk, dis min mense wat oor dié klas van kapasiteite beskik.

 

G’n wonder iemand het hom ’n ‘professor doktor’ gemaak nie.

2 responses to ’n Rare geval van die ‘professor doktor’ verskynsel in die 21ste eeu

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>