Profile photo of Barend

by

.

February 21, 2013 in Uncategorized

Dokter Mamphela Ramphele. Sy het mense omtrent aan die gons gehad die afgelope tyd. Was dit nou nie vir die atleet wat die ganse mensdom se aandag gegryp het nie, dan was dr. Ramphele sekerlik méér in die nuus.

 

Maar daar was kwaai kritiese stemme teen dr. Ramphele se inisiatiewe. Dit is verstaanbaar eintlik.

 

Dr. Ramphele se inisiatiewe word deur sommige in verband gebring met die stigting van die Congress of the People (COPE), en ook met die stigting van die United Demcratic Movement (UDM). Pasopens, word daar gesê, dis swaar om ’n nuwe party te stig. Kyk maar wat het met COPE gebeur, kyk wat het met UDM gebeur.

 

Maar COPE was eintlik hul eie doodskoot. Die kiesers het vir COPE ’n redelike mandaat gegee. Dit was die leierskap van COPE wat hul eie grootste doodskoot was. En in vergelyking met die UDM was COPE nogal ’n ‘verbetering’.

 

Dit is, na my beskeie mening, amper onmoontlik om te voorspel wat gaan word van dr. Ramphele se inisiatiewe. Maar daar is een ding wat ek tog wil waag om te sê, en ek weet dat ek selfs dáároor verkeerd kan wees, en dit is dat indien ons ooit in Suid-Afrika gaan beweeg na die tipiese twee groot partye stelsel, dat die Demokratiese Alliansie (DA) nie die ‘ander’ party gaan wees nie. En dit het niks met die leierskap of die beleid van die DA te make nie. Dit is maar bloot ’n kwessie van die aard van die erfenis wat die DA met hom saamsleep. Ok, dis wonderlik vir hulle dat hulle die Wes-Kaap regeer. Eintlik het die DA die Wes-Kaap al sedert 1994 regeer, net met ’n tussenpose van ANC regering. Dit was tog die mense wat in ’94 die NP daar ingestem het wat maar uiteindelik hul rug op beide die NP en die ANC gekeer het.

 

Die feit dat dr. Ramphele nie deel van die DA wil wees nie, vertel ’n verhaal in eie reg. Dit vertel dat die unieke erfenis van die DA stééds ’n rol speel. Dis ’n erfenis wat nooit oorkom sal word nie. Selfs al absorbeer hulle simbole van die ‘struggle’. Selfs al praat hul leier al beter en beter Xhosa. Selfs al is hul parlementêre leier swart . . .

 

Daar is al ’n geruime tyd ’n ongemaklikheid te bespeur oor die presiese manier waarop die erfenis ontgin en bestuur word in Suid-Afrika. (Lees gerus hierdie wonderlike gratis artikel op die web uit die wonderlike boek). Die verlede is, net soos in dit tyd van apartheid, geen lig waarmee onkunde bestry word nie, maar eerder ’n wapen, waarmee daar gepoog word om mense se koppe en harte te beheer.

 

En daar is ’n baie mooi ou ding in Afrikaans, dit lui só: Al nael die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel.

 

Vra maar vir Lance Armstrong.

 

Ek gee nie regtig om oor of die nuwe inisiatiewe uiteindelik ’n sukses sal wees of nie. Dit is bysaak. Die feit is ons het hierdie stemme nodig. Ons het almal nodig wat, al is dit net ’n titseltjie, omgee vir ons land en die mense van ons land.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>