Avatar of Barend

by

’n Kort inleiding tot die ontploffing van amateur Afrikaanse skryfkuns publikasies op die wêreldwye web

February 10, 2013 in Uncategorized

Na aanleiding van ’n baie interessante stuk wat in Rapport verskyn het oor die sogenaamde ‘Facebook digters’ het ek aan die dink geraak en besluit dat ek net so ’n terloopsie wil skryf. So ietsie tussen vermaak en filosofie. So ietsie ek-wetie-mooi-wat-presies-dit-is-nie-maar-ek-doen-dit-steeds ietsie. Die metodiek wat hier gebruik word is grootliks die van die persoonlike herinneringe, wat gemeet sal word aan uittreksels uit die stuk in Rapport en waarop verdere kommentaar volg. So, hier gaan ons.

 

Ons storie, soos so baie ander interessante stories, begin ook baie jare gelede. ’n Mens kan dus sê ‘lank lank gelede’. Nog voordat daar so baie mense op Facebook was, en beslis nog voordat mense begin ‘dig’ het op Facebook, het die idee onder die mensdom begin posvat om die internet te begin inspan met die oog daarop om andere aan hul skryfkunswerke bloot te stel. Verskeie platforms het ontwikkel. Een van die leiers op hierdie gebied was ’n webwerf met die naam woes.co.za, kortweg sommer net Woes. Woes is, sover my kennis strek, nie spesifiek begin met die oog daarop om ’n reuse kommersiële sukses te wees nie. Die primere doel was vir amateurs om hul skryfwerk aan andere te kan toon. En só is Woes dan in die lewe geroep nagenoeg sewe jaar gelede. In 2010 is die eerste groot Woes amateur skryfkompetisie van stapel gestuur. Teen 2011 was dié webwerf ’n fenomenale sukses. Dit het ’n platform geskep vir verskeie uiteenlopende soorte individue wat elk sy eie nering gehad het, maar die hooffokus van die blad was poësie.

 

Maar dit was nie lank nie of die webwerf is in erge omstredenheid gedompel. Dit het alles op die aand van die prysuitdeling van 2011 se Woes amateurskryfkompetisie by die Formun Homini Hotel begin. Tydens dié geleentheid, wat ook televisiedekking geniet het deur E-nuus,  is die digter Coen Havenga gekies as die skrywer van die wen gedig. Maar verwyte het spoedig die rondte begin doen dat die keuse van die wenner nie objektief was nie. Die omstredenheid het later uitgekring en ook in felheid toegeneem nadat aantygings van ondeursigtigheid en onregverdigheid ook gemaak is. Maar dit was bowenal die aard ‘wengedig’ van die kompetisie wat tot onmin gelei het. Verskeie deelnemers en waarnemers het die gedig as argaïes beskou – ’n vers wat meer herinner aan verse uit die vroeë 20ste eeu, toe Afrikaans nog nie gestandaardiseer was nie, as aan ’n vars nuwe rigting in die Afrikaanse skryfkuns. Woes se beeld as platform vir amateurskrywers van vars en unieke verse het destyds in die proses ’n geweldige knou gekry, ook onder talle lede van Woes, wat gevoel het dat die 2011 wengedig nie ’n waardige opvolger vir die 2010 wengedig was nie.

 

Maar wat is ‘swak’ poësie? Met respek gesê, ek dink niemand weet nie.

 

Dr. Amamda Lourens word in Malan se stuk aangehaal waar sy verklaar oor poësie en gehalte dat “’Swak’ is wanneer dit [die gedig] verveel, clichés bevat, in die taal niks nuuts bring nie. Wanneer die gedig duidelik geensins in voeling is met die tydsgees of heersende poëtiese norme nie.”

 

Die ‘heersende poëtiese norme’. En dít is presies hoe die omstredenheid in 2011 met Woes was.

 

Dit is interessant dat die digter Johann de Lange aangehaal word in Malan se stuk waar hy verklaar dat “Oor presies wat ’n ‘gedig’ is, word daar al eeue lank gekibbel”. Vir my is dr. Lourens se opmerking eintlik teenstrydig. Waar sy aan die een kant sê dat ’n gedig iets moet wees wat iets ‘nuuts bring’, verklaar sy aan die ander kant dat dit aan die ‘tydsgees’ en die ‘norme’ moet voldoen. Pffffff dit maak my amper so deurmekaar soos as die dominee sê dat jy moet bekeer sodat jy gered kan word maar dat jy eintlik niks kan doen om gered te word nie, maar jy móét bekeer.

 

Nee kyk, ek is jammer, maar ek is nie oortuig daarvan dat ’n mens enigsins kan léér wat digkuns regtig is óf hoe om te ‘dig’ nie. Die enigste kriteria van sukses is uiteindelik hoeveel mense jy kan oortuig. Wat geag word as poësie en wat nie, maar veral wíé as ‘digters’ geag word en wie nie, is uiteindelik ’n onderhandelde proses. Ons het geen riglyne oor die saak nie. Kortom, ons weet nie wat is poësie en wat is nie.

 

In 2011 was ek self by daardie Woes skrywerskompetisie finalis aand as finalis in die kategorie artikels. Ek kan nie meer die dame onthou wat uiteindelik die artikel afdeling gewen het nie, maar ek kan onthou ek het later haar wenartikel gaan lees en het haar as ’n waardige wenner beskou. Daar was by my geen nasmaak nie. Die hele drama het rondom die ‘gedigte’ begin. En die armdruk hou vandag nog aan. Na die Woes debakel het klomp Woesters hulle ook tot die kuberruim gewend, spesifiek Facebook. En daar is van hierdie skrywers wie se werke ek vandag nog volg.

 

Volgens Malan se artikel is dit grootliks die amateur Facebook digters wat aanvalle loods op die establishment. Ek weet nie waar die bewyse vir hierdie bewering is nie maar ek aanvaar die stelling ter goeder trou, wel met ’n mate van skeptisisme. Dit was juis tydens die ontvouende drama rondom die 2011 Woes amateur skryfkompetisie dat ’n baie bekende skrywer by Versindaba ook tot die kruitvat toegetree het, en felle kritiek losgelaat het teen die hele woes.co.za beginsel. Die kritiek is destyds uiteindelik mettertyd verwyder van die webwerf.

 

Wat is my ervaring? Wat is my eiertjie? Ek dink die saak is baie meer genuanseerd as wat Malan se stuk te kenne gee. Ek dink gevestigde skrywers en publikasiehuise voel bedreig deur hierdie sogenaamde ‘Facebook’ digters. Ek besit self verskeie digbundels wat deur Versindaba uitgegee is. En ek het hulle gelees. En dit bevat goeie verse. Maar daar is verse in van daardie bundels wat ek dalk maar nie slim genoeg is om te verstaan of iets nie. Ja, ek lees soms verse op Facebook wat vir my beter is as van daardie verse in Versindaba se digbundels.

 

Die hele ding, so dink ek, kom uiteindelik terug, nie na wat ‘kwaliteit’ is en wat nie ‘kwaliteit’ is nie. Die hele ding kan, uiteindelik, teruggevoer word na hoe die ontwikkeling van tegnologie die bekende wêreld op sy kop gekeer het. Ons sien dit met CD’s, wat amper oornag verouderde tegnologie geword het en CD winkels wat stadig maar seker besig is om ’n vreemde verskynsel te word.

 

’n Familielid van my het so tyd gelede weer bietjie foto’s geneem, en toe amper vergeefs gaan soek na een van daai ‘one-hour photo labs’ . . .

 

En die wonder van die internet is dat dit veroorsaak dat ‘like-minded’ mense in die gemak van hulle eie huise met mekaar in verbinding tree. Die ander voordeel vir mense is dat daar, ironies genoeg deur ’n tegnologiese monster soos die internet, weer iets romanties van die skryfkuns teruggekom het in die sin dat daar persoonlike kontak tussen die skrywers van hierdie verse en hulle lesers is. Net soos in die tye van jare gelede, toe skrywers nog lief was om met hul lesers in gesprek te tree met briewe wat per hand geskryf was, kan lesers nou direk kommentaar lewer op die vers. Daardeur word die afstand tussen die skrywer en die leser verklein, en die skrywer word nie hierdie groot, onbereikbare belangrike wese nie. Die leser beleef die skrywer se menswees – En dis tog so ’n tipiese ontwikkeling in lyn met hierdie post-moderne samelewing waarin ons onsself bevind is dit nie?

 

As hierdie mense so baklei moet mens nie eens luister nie. My vermoede is dat baie van hierdie omstredenheid uiteindelik handel oor geld. Groot bekende skrywers wat vír jou wil besluit wat jy moet geniet en wat nie, omdat hulle eintlik wil he jy moet húlle digbundels koop. Swak skrywers wat jaloers is op gevestigde skrywers. Op hulle glorie. Op enige geld wat hulle toekom.

 

Om saam te vat. Ek dink in die eerste plek dat die ontwikkeling van die internet as medium vir onbekende skrywers nie regtig ’n slegte ding is nie, of dit nou Facebook of watter ander platform ook al is. Ek dink in die tweede plek dat dit nie net die sogenaamde ‘Facebook digters’ is wat die uitsluitlike vark in die verhaal is nie. Ek kan getuig hoe ek self gesien het hoe gevestigde skrywers daardie tipe platforms aanval.  Ek dink voorts dat daar weinig tot geen kriteria is waarvolgens mens kan sê of ’n bepaalde vers goed of swak is nie. Dit kom uiteindelik neer op wat is die leser se smaak. Hoe onderhandel die samelewing oor wat ‘goed’ en wat ‘sleg’ is. Ek dink mense moet maar liefs onnodige aanvalle los. Want die ‘Facebook digter’, net soos die e-boek, het gekom om te bly. Kritiek teen publikasiehuise sal daar altyd wees. Hierdie kritiek moet ook elk aan sy eie meriete geweeg word. En deur die ‘Facebook digter’ oor die vingers te tik gaan nie ’n duit van ’n verskil maak aan die toekoms van publikasie nie. Inteendeel, daar moet eerder gewaak word teen ’n situasie van ‘ons’ en ‘hulle’. Dit moet ten alle koste vermy word.

 

Toe ek in 2010 lid van Woes geword het, het dié instelling vir my meer as ’n paraliterêre platform as enige iets anders gedien. Die skyfwery was uiteindelik maar net die vertrekpunt van hartlike vriendskapsbande wat daar rondom gevorm het. Vir my en baie mense soos ek was dit so, en so is dit met talle van hierdie skrywersnetwerke. Hulle funksioneer op meer vlakke as die blote ontginning en ontwikkeling van skryfvaardighede. Daarom moet mens versigtig wees om eendimensioneel na hierdie netwerke te kyk, en hulle waarde bloot te skat op die gehalte (of dan nou gebrek van gehalte) van die werk wat ter sprake is.

 

Ek wil ten slotte my opregte hoop uitspreek dat ons almal net lekker sal lees en lekker sal skryf. ’n Mens kan seker sê: lees, en láát lees. Skryf, en láát skryf.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>