Profile photo of Barend

by

DIE LAASTE AFRIKANERLEIERS: ’n Opperste toets van mag – Hermann Giliomee

February 10, 2013 in Uncategorized

Die akademikus Hermann Giliomee se studie oor ‘die laaste Afrikanerleiers’ is een van die mees merkwaardigste boeke wat ek al ooit gelees het. Hierdie boek fokus natuurlik, soos die titel aandui, op van die heel grootste Afrikanerleiers van die apartheidsera, naamlik Hendrik Verwoerd, John Vorster, PW Botha en FW de Klerk. En daar is BAIE wat gesê word. Die boek is ’n bekvol. En dit is nie net hierdie presidente en eerste ministers van die apartheidsera wat ter sprake kom nie, uit die aard van die saak. Daar’s ’n hele hoofstuk oor Frederik van Zyl Slabbert. Daar is fassinerende vertolkings van die latere president Nelson Mandela sowel as Thabo Mbeki, asook verskeie ander figure.

 

Die groot krag van Giliomee se studie lê in die manier hoe hy daarin slaag om die verlede en die apartheisbeleid te nuanseer. Giliomee dek nie onderwerpe wat nog nooit gedek was in hierdie boek nie. Nee, hy doen iets ewe belangrik – hy daag bestaande interpretasies en oorvereenvoudiginge uit. Hy gaan uit sy pad uit in hierdie verband.

 

Giliomee slaag byvoorbeeld meesterlik daarin om Verwoerd se termyn as eerste minister te nuanseer. Behalwe dat hy direkte kritiek uitspreek teenoor bepaalde studies se voorstelling van apartheid, slaag Giliomee meesterlik daarin om te illustreer hoe die beleid van apartheid eintlik ’n heel aanvaarde en gerespekteerde beleid was. Hande op wie het geweet dat niemand anders nie as die grote Nelson Mandela homself, reeds 10 jaar opgesluit op Robbineiland, aanvanklik vol lof vir die tuislandstelsel was? Ek het dit sélf nie geweet nie. Oor die tuislande het Mandela glo by geleentheid gesê ‘Vir die eerste keer sedert verowering sal die mense hul eie sake bestuur’ (pp. 432 – 433).

 

Verwoerd, skryf Giliomee, word dikwels as ’n rigiede en onbuigsame leier geskets. En tog was Verwoerdiaanse apartheid nie altyd deel van Verwoerd se visie nie. Inteendeel, dit was of Verwoerd ’n change of heart gehad het iewers langs die pad, omdat hy aanvanklik die model van Malan gesteun het. En alhoewel Verwoerd ’n uiters outoritêre leier was, weerlê Giliomee die bewering dat Verwoerd ’n totaal onbuigbare leier was. Hy laat nie die moontlik uit dat Verwoerd, sou hy nie in 1966 gesterf het nie, potensieel sy eie beleid sou hervorm het in die lig van die foutiewe projeksies waaraan sy administrasie gekenmerk was nie.

 

En dit is op hierdie trant dat die hele boek jou bestaande interpretasies voortdurend uitdaag.

 

Vorster word nie baie positief as leier geskets nie. Hoewel die eerste krake in die Verwoerdiaanse beleid reeds onder Vorster deurgevoer was, byvoorbeeld die toelating van ‘gemengde’ sportspanne, word Vorster geskets as ’n man wat nie daarin kon slaag om met ’n nuwe visie vorendag te kom nie. Hy was mettertyd toenemend, baie soos Smuts voor hom en Mbeki ná hom, opgeslurp deur ’n kragtige visie van homself in die internasionale politieke arena. In die media is Giliomee aangehaal waar hy aandui dat Vorster ’n uitdagende historiese figuur is om te bestudeer, en mens kan dit duidelik lees uit hoe hierdie werk saamgestel is.

 

Giliomee is dikwels vol lof vir PW Botha se leierskapsvaardighede, maar nes al die ander figure is dit weereens ’n uiters genuanseerde Botha wat hier geskets word. Dit is duidelik dat PW Botha ’ n man was wat probeer het om Suid-Afrika van die grond af boontoe te verander. En duidelik het hierdie beleid ook nie sukses beleef nie. Vir Botha en die Nasionale Party was die sogenaamde beleid van ‘aanpas of sterf’ uiteindelik maar net iets wat vir hulle tyd gekoop het. Botha se opvolger, FW de Klerk, wat in 1993 met die Nobelprys vir vrede vereer was, het uiteindelik baie minder reggekry in terme van sosiale geregtigheid as Botha. Dit was onder Botha wat van die mees gehate apartheidswetgewing geskrap was. Swart Suid-Afrikaners was toegelaat om by vakbonde aan te sluit en daar was ’n noemenswaardige herverspreiding van rykdom.

 

Daar is ’n fassinerende uiteensetting van de Klerk se termyn en spesifiek die onderhandelinge wat gelei het tot die eerste demokratiese verkiesing. Uit Giliomee se bespreking word die uitdagings waarmee die ‘nuwe’ Suid-Afrika sou voortworstel duidelik tydens die onderhandelinge, onder meer grondhervorming en regstellende aksie. De Klerk, word daar geargumenteer, kon nie die 1992 referendum van magsdeling nakom nie. Daar was uiteindelik maar bloot ’n oorgawe van mag. Giliomee kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat de Klerk het “nóg ’n omvattende plan vir die onderhandelinge gehad nóg ’n ervare onderhandelingstrateeg. Daar was geen plan om sleutelkwessies te hanteer nie, soos die behoud van vaardighede in die staatsdiens, amnestie aan lede van die veiligheidsmagte en die samestelling van die Regdienstekommissie wat op die duur ’n gebalanseerde regbank moet verseker (p. 430).

 

Die hoofstuk oor Frederik van Zyl Slabbert is ewe-eens besonders. Giliomee skets vir Slabbert, hoe formidabele intellek hy gehad het, maar hoe sy politieke ambisies waarskynlik sy goeie oordeel ten gronde laat gaan het. En hoe Slabbert uiteindelik ’n erg ontnugterde figuur geword het wat weens sy bedanking uit die parlement in 1986 uiteindelik geen direkte bydrae tot die onderhandelinge gemaak het nie.

 

Wat was die onderhandelinge werd? Watse gesag het dit gedra? Dit het twyfelagtige gesag gedra. “In 1995”, skryf Giliomee, “sou Thabo Mbeki, toe adjunkpresident, aan ’n ANC konferensie sê dat die onderhandelinge van ’n tussentydse grondwet ‘kunsmatige elemente’ van ’n oorgang was wat nodig was om wit oorheersing te beëindig. Die ANC het hulle in geen stadium as ‘permanente elemente’ beskou nie (p. 377).

 

Giliomee dokumenteer ook Mandela se leierskapstyl. Hoe Mandela vir de Klerk domineer het, onder meer deur de Klerk dikwels te verneder. Mandela se taktiek om de Klerk se beeld af te breek was waarskynlik een van die groot redes hoekom die ANC suksesvol daarin was om die NP totaal uit hulle eie mag uit te onderhandel. Onder die leierskap van PW Botha sou dit nooit kon gebeur het nie, want Botha was bloot nie die tipe man wat sulke soort aksies sou toelaat nie. Daar is veral twee gebeure wat uitstaan – Mandela wat vir de Klerk verneder tydens KODESA, sowel as na afloop van die dood van Chris Hani. Maar wat telkens weer na vore tree is uiteraard die geweld tussen die ANC en die IVP, en hoe Mandela telkens die blaam op die NP en de Klerk probeer plaas het, deur ook te ontken dat die ANC betrokke is by geweld. Mandela sou wel later toegee dat die ANC ook betrokke is by geweld, maar vir de Klerk was die koeël basies reeds deur die kerk. Mandela was te sterk vir hom.

 

‘Die laaste Afrikanerleiers’ is ’n meesterstuk. Daaroor kan geen twyfel bestaan nie. Maar selfs meesterstukke bevat foutietjies. En die feit dat ek in ’n grootse werk soos hierdie foutitjies lees, laat my sommer beter voel oor my eie skryfpogingtjies. So staan dit byvoorbeeld daar op bladsy 407 dat “In Maart het [Constand] Viljoen 4 000 goed opgeleide mans gemobiliseer om pres. Lucas Mangope in Botswana te gaan help.” Hierdie stelling is natuurlik foutief. Lucas Mangope was nooit die president van Botswana nie. Die konflikte waarna Giliomee hier verwys, het plaasgevind in die ‘tuisland’ van Bophuthatswana en die president van Botswana op daardie stadium was Quett Masire, nie Mangope nie.

 

Op p. 343 is die onvertaalde woord ‘and’ twee keer aanwesig in die teks, in ’n deel waar daar met persentasies gewerk word. Ek het ook iewers in die boek ’n sin gesien sonder ’n punt, maar ek kan nie meer onthou waar nie.

 

Maar hierdie is bloot klein lastigheidjies. Dit doen uiteindelik weinig afbreek aan hierdie meesterlike werk. Dit is goed dat hierdie geskiedenis nou gedokumenteer is op ’n manier wat dit baie meer nuanseer as wat dikwels die geval is wanneer hierdie soort onderwerpe ter sprake kom. My groot hoop is nou net dat mense hierdie boek sal léés.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>