Profile photo of Barend

by

Klein Karoo

February 3, 2013 in Uncategorized

Pfffffff, die Afrikaanse filmbedryf in post-apartheid Suid-Afrika . . . Nee kyk, gone are days toe ons nog flieke gemaak het oor regte egte stóries soos ‘Fiela se Kind’. I’m sorry to say it maar die Afrikaanse filmbedryf is deesdae maar net nóg ’n korporatiewe worsmasjien. Die idee is uiteindelik om maar so baie as moontlik geld te maak. Dit is eintlik so jammer. So bitter jammer. Mens kry die gevoel dat daar soooooo baie druk is om soveel as moontlik wins te maak, dat die ruimte vir oorspronklikheid nou maar eenmaal toegedruk MOET word. Die punt is natuurlik dat jy moet kompeteer met Hollywood. En daar is ongelukkig tye (die Prediker seg mos al toentertyd korrek daar’s ’n tyd vir als), daar is tye wat jou enigste opsie is, so lyk dit my, to out-Hollywood Hollywood. En dís vir my die sad storie van ‘Klein Karoo’.

 

Hier oor Krismis iewers toe sien ek my gawe vriendjie van hunter en gunter se dae. En hy seg nee kyk, ons het nou bewys dat ons die meeulsiekul kán doen – Mag 2013 die jaar wees wat ons Afrikaanse films sien waarin hulle méér as net sing! Ja want kyk, ons films is lyk dit my baie soos ons kommersiële musiek, dit is erger as suiker – dis spookasem. En dis natuurlik hoekom die twee so perfek kombineer. Maar vir my eie kinders (as die groot Skepper my ooit met sulke dinge seën), gaan die name ‘Liefling’ en ‘Pretville’ en dies meer grootliks onbekend wees. As Kyknet teen daai tyd weer die miljoenste rerun daarvan het (as ons aanneem Kyknet bestaan dan nog en dat mense nog daai tyd TV gaan kyk en TV nie verouderde tegnologie gaan wees nie), dan gaan hulle waarskynlik jammer voel vir ‘my pa se generasie’.

 

As daar een groot pluspunt is van die film ‘Klein Karoo’, dan is dit dat hulle die pragtige Suid-Afrikaanse landskap ontgin. Ek dink dit is so bitter belangrik. Hierdie tendens volg in die voetspore van ander Afrikaanse films soos ‘Wolwedans in die skemer’ en ‘Semi-soet’. Die ontginning van spesifiek die Karoo landskap sluit dan ook aan by films soos ‘’n Saak van geloof’ en ‘Stilte’. En laat ek net, voor ek enige iets anders sê, sê dat ek is seker daar is mense wat totaal gek gaan wees oor hierdie ‘Klein Karoo’. En, dit is goed so. Ek is ’n mens wat glo in die beginsel van leef-en-laat-leef. As daar mensies is wat ‘Klein Karoo’ geniet, dan WONDERLIK! Maar in ruil vir my verdraagsaamheid, gun my maar my stukkies kritiek. Want behalwe vir die wonderlike natuurtonele is daar so bitter min wat my opgewonde gemaak het van hierdie film. Waarlik, dit is min wat dit gebeur wat ek hier na die einde toe wens dat die ‘held’ en die ‘heldin’ mekaar nou tog liefs net gryp en klaarkry dat ons almal kan huistoe gaan. Hierdie fliek was net sooooooo voorspelbaar. Ek sal nie weer ’n Afrikaanse fliek gaan kyk sonder goeie huiswerk nie. Dis bloot net nie die geld en tyd werd nie.

 

‘Klein Karoo’ is uiteindelik maar net ’n ander weergawe van ‘Liefling’ en ‘Semi-soet’. Die sentrale tema is daar is ’n liefdesdriehoek. O ja, en dit is natuurlik, uit die aard van die saak, hoofsaaklik ’n saak tussen twee manne en ’n beeldskone dame want sien, Suid-Afrika is ’n paternalistiese samelewing waar die man die jagter is. Daarom, net soos in die ander flieks is dit twee mans en een vrou, nie anders om nie. Daar is wel ’n ‘ander vrou’ (Rooies van 7de Laan), en jy kry wel vroeg reeds die tekens dat Rooies en die skurk in die verhaal uiteindelik vir mekaar bedoel sal wees. Maar Rooies bly vir die duur van die film maar so terloopse karakter in die gebeure.

 

’n ‘Interessante’ toevoeging tot die hele drama is die karakter Bongi (gespeel deur Sisanda Henna). Ja kyk, Bongi laat my baie dink aan daai sideline karakters in die een of ander C.M. van den Heever novelle. Bongi is eintlik niemand. Hy het eintlik geen karakter nie. Hy is die vriendelike matchmaker. Cupido. Sien, Bongi se énigste énigste doel op aarde is om te sorg dat Donnalee en Tim uiteindelik bymekaar uitkom. Tipies nes ’n C.M. van den Heever karakter, is Bongi se Afrikaans dan ook natuurlik nie presies in dieselfde klas as dié van die witmense (en dus die beskawing) s’n nie. En al wat van hom verwag word is om die vriendelike matchmaker te wees.

 

En dan is daar Pierre Breytenbach. Pierre se karakter is so tipe Adrian Monk – hy mag nie kieme inkry of met vuil mense (en dus enige mense) te doene kry nie. Skud hy Bongi se hand, dan moet die hand met skoonmaakmiddels gedokter word en dan word dit ’n drama oor of het hy Bongi se hand geweier omdat Bongi ’n swart hand het of omdat dit ‘kieme’ bevat (Hollywood, Hollywood, Hollywood).

 

Hykie speel die vark. As Donnalee ’n toespraak lewer, dan luister Hykie (wat Donnalee se verloofde in die storie speel) grootliks niks na sy eie aanstaande se gepraat nie, maar natuurlik nét totdat die woord ‘alkoholisme’ in haar toespraak opduik, waarop Hykie dan skree ‘skuldig’ – als natuurlik om te wys watse oppervlakkige mens hy is en hoe hy vir Donnalee eintlik erg seermaak in plaas van liefhet, en natuurlik sodat Donnalee uiteindelik genoeg redes het om hom te drop wat (natuurlik!) die deur oopmaak vir Tim om uiteindelik haar lewensmaat te word (soos dit eintlik hoort en soos wat die heel eerste toneel in die film dit alreeds duidelik maak dit behoort te wees).

 

En dan, soos dit maar gaan in hierdie tipe ‘stories’, loop dinge tussen die twee protagoniste verkeerd net mooitjies die oomblik wat dit lyk of dit begin reg loop. Donnalee en Tim ervaar teleurstelling. Dit gebeur (NATUURLIK) net mooitjies presies op die oomblik wat Hykie probeer om dinge tussen hom en Donnalee te fix. Want presies in daardie spesifieke oomblik wat Hykie vir Donnalee onverwags gryp en soen, verskyn Tim op die toneel (met blomme in die hand bedoel vir  . . .). Donnalee gewaar vir Tim, en storm na hom, maar Tim is daar en dan vir geen maar geen rede te vinde nie. Hy aanvaar op die daad onvoorwaardelik dat Donnalee sy liefde verwerp het en dat hy die verloorder is. Hy smyt die blomme net daar neer en verklaar wrang dat Donnalee en Hykie ‘verdien mekaar’, en die res van die film word dan natuurlik daaraan spandeer om die verhouding tussen Donnalee en Tim te herstel. En dit doen natuurlik. Uiteindelik.

 

En só was dit met ‘Klein Karoo’. Die teks was vervelig en onnatuurlik en onoortuigend (ek sê hierdie dinge as gewone fliekganger en beskou myself geensins as enige kenner nie). Die film wemel van goeie akteurs maar die teks doen die laaste een van hulle ’n onreg aan. Tim se vreemde broer sowel as Leandie du Randt bring wel ’n mate van verligting op wat verder ’n uiters vervelige en voorspelbare film is. Donnalee se kinderwelsynaksies bring darem ook ’n sekere mate van nuanse aan die film, maar word ewe-eens oordonder deur die voorspelbare soetsappige liefdesdramatjie tussen haar en Tim.

 

Ná hierdie film is ek lus en sê soos Tutu: ‘Ngeke futhi’. Ek doen dit nie wéér sonder om eers my huiswerk te doen nie. Ek het vir eens en altyd nou genoeg teleurstelling beleef. Ek het nou genóég ‘Lieflinge’ gesien. Genoeg spookasem. Nee dankie. Volgende keer stap ek nie sommer net weer in ’n teater in en kyk ’n Afrikaanse film NET omdat dit Afrikaans is nie.

 

Ek sou die tyd beter gebruik het as ek generaal de Wet se oorlogmemoirs begin lees het soos ek graag nog een of ander tyd wil, nee kyk, ek het my les geleer hierdie keer.

 

Maar dink ek hierdie fliek gaan ’n wenner wees? Ja, ek het so vermoede. Dit gaan ’n treffer wees. Dit gaan die ‘flavour of the week’ wees. En dis mos tog al wat tel né?

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>