Profile photo of Barend

by

.

January 27, 2013 in Uncategorized

Nee kyk, ek dink dit is net wonderlik wonderlik wonderlik dat ons hierdie uiters bekwame dames, soos ds. Norma Rossow het wat ook die vrymoedigheid kan he om te kan inspring om aan al die verdwaalde skapies (onder andere ’n ene mnr Barend van der Merwe) leiding te prebeer gee. Dit is wonderlik. Self is ek nie die soort wat myself teen die halslyn blind staar wanneer ek na inspirerende leiers soek wat my moed gee nie. Selfs mense wat dan nou ook openlik erken dat die ‘image’ volgens hulle ’n GROOT ding is. En sommer twee teologie grade met lof! Dít is waarlik ’n prestasie. ’n Mens moet dalk nou hier net vir die balans noem dat grade ook nou nie juis alles is nie. Dit is opmerklik dat die groot Leermeester nie juis van die Platoes van hierdie wêreld gebruik gemaak het in daardie eerste bediening nie. En tog het hierdie ongeskoolde vistermanne en ander soorte handearbeiders na bewering glo wondere verrig.

 

Maar nee, ons het elke soort nodig. Ek het so tyd terug gekla dat ek die predikers en ander leiersfigure se predikings erg verwarrend vind by tye. Ek voel dat die oggendpraatjies en aandpraatjies nie ooreen stem nie. Dit is natuurlik ontken. Maar, nie lank daarna nie moet ons lees dat, waar ons in 2010 om en by 10 000 skapies verloor het, en in 2011 om en by 20 000, het die syfer nou opgestoot na nagenoeg 30 000 skapies. Maar wat, ons het mos hierdie ander meneer moderator, ook met die baie grade en goet, wat vir ons vertelle staan dat nee wat, dis gladnie so bad nie. Dit hoort eintlik so want dit is maar net in lyn met die internasionale tendense.

 

Nou sien ek dat ds. Rossouw, toe die onderwerp van gays ter sprake kom, ook ‘die Boek’ nadersleep in die artikel oor haar in Huisgenoot van 24 Januarie 2013. Nee, seg dominee Rossouw, “die kerk het gesê hulle keer nie die daad goed nie, want die Woord is duidelik daaroor . . .”.

 

Tja dominee. Tja. En so het die Boek dit ook oor vroue wat praat by die samekomste. Maar die ‘Woord’ is mos party dae die woorde van God en anner dae die woorde van mense en ons besluit mos maar so saam met die son wat opkom en ondergaan waar geld wat en waar geld wat nie en wanneer en hoe. Wat ons leer veroorsaak mos geen krisis nie. Hoe ons met ons medemense werk veroorsaak mos geen krisis nie. Nee, dit is alles maar net die ‘internasionale tendens’. Eintlik heel natuurlik en dit kan selfs in ’n sekere sin verwelkom word. Dit is maar net sekularisasie. Daar is niks ter wêreld met ons verkeerd nie. Niks.

 

Kyk, ek is al ’n geruime tyd ten gunste daarvan dat die kanon heropen moet word. Maar soos dinge nou loop moet ons dalk eerder die bestaande teksversies hersien. Ons kan hom byvoorbeeld so maak dat hy nou lees – Gaan dan na al die nasies, en vervreem my dissipels van my. Besprinkel hulle in die naam . . .

 

Tja. I rest my case. Praat help in elk geval nie. Dit help niks. Want niemand wil luister nie. Of miskien moet ons sê – Niemandt luister nie.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>