Profile photo of Barend

by

Daantjie! Daantjie!

January 22, 2013 in Uncategorized

Soos meeste regdenkende gesonde heteroseksuele vrygeselle in Suid-Afrika wat soms in die geelpers belê, doen ook ék dit soms vir uitsluitlike rede om die blokkiesraaisel in te kan vul. Ek koop regtigwaar nie af en toe die SONDAG om na die bostuklose dames te kyk nie. Ek koop dit want ek is nuuskierig. Ek stel belang in mense. En SONDAG gee jou ’n unieke perspektief op mense met wie jy dalk soms minder (veral sosiaal) te doen kry. En as jy Rapport koop dan, wel, dis dieselfde mense wat SONDAG uitgee. Ek koop af en toe die Mail & Guardian sjame. Ek weti altyd hoekom nie. Want dis net so goed ek belê in boek van Shakespeare of Dickens . . . die kans dat ek dit GOED gaan lees is bitter, bitter skraal.

 

Ek het nie altyd beswaar teen die artikels in SONDAG nie. Dit is natuurlik as ’n reël baie sensasioneel. Die beeldskone Chantell Stander was die afgelope week prominent op die voorblad. Maar regtigwaar, ek moet sê ek skaf nie elke liewe Sondag my kopie van SONDAG aan nie. Ek is dus seker nie altyd op hoogte van wat aangaan nie. Maar daar was ’n berig in die pas afgelope SONDAG waarteen ek erge gewetensbesware het. En daardie berig het betrekking op onse Daantjie Badenhorst.

 

Nou kyk, ek stem nie saam met alles wat Daantjie seg nie. Die berig wil dit hê dat Daantjie glo dat  “as jy dit waag om voor jou troue, al is jy 40, SEKS te hê, gaan jy reguit hel toe”.

 

As dit REGTIG is wat Daantjie Badenhorst verkondig, dan moet ek ongelukkig verkil van Daantjie. Ons kan nie sê wie hel toe gaan en wie nie gaan nie. En wat meer is, die hel is wat my betref ’n omstrede begrip. Daar is invloedryke mense in die kerk wat die idee van Satan en die ewige hel verwerp.

 

Maar wat my pla van hierdie berig is dat, is dit regtig nodig dat ons die spot dryf met ’n andere se seksualiteit? Ek meen, as ’n volwassene REGITGWAAR besluit om kuis te bly tot die dag van die huwelik, wie is enige een van ons om dit te wil beledig en verkleineer? Ek weet daar gaan diegene wees wat sê maar ja, dit is die SONDAG, wat verwag jy? Het jy nie beter leesstof nie? Maar ek voel ek gee nie om watter publikasie hier ter sprake is nie, die feit is hierdie publikasie is op elke winkelrak gewees. En wat my betref bots hierdie tipe verslaggewing lynreg met die gees van ons Grondwet. Daar is dalk, miskien, niks onwettig daaraan nie vir al wat ek weet, maar die vraag is, hoe kan ons die seksuele keuses van ’n ander sommer net so beledig? Ek praat nie van kritiseer nie. Ek praat van plainweg beledig. Asof daar iets ‘fout’ is met hierdie man dat hy sy kinders wil leer om te wag tot die huwelik voor hulle seks het. Asof daar fout is met hom, omdat  hy verkondig dat leerders moet LEER in plaas van seks hê – omdat hy glo dat hulle (die kinders) die volgende geslag leiers gaan wees, die volgende geslag onderwysers, dokters, verpleegsters, boere ens. ens. ens.

 

Nee wat. Ek weet die geelpers is daar om die grense van ‘normaal’ en ‘abnormaal’ soms bietjie te toets, maar hierdie is belaglik.

 

En om bo-op dit alles vir Daan verdag te wil maak omdat hy verkies om nie die populêre growwe woorde vir seksuele omgang te gebruik nie – nog méér belaglik.

 

Kom ons stel hierdie saak in terme van die beginsel van noemenswaardige kontras. Die beginsel van noemenswaardige kontras stel dit dat vir ’n saak om ‘waar’ te wees, moet die teenoorgestelde ten minste ’n moontlikheid wees. Nou, kom ons stel Daantjie se beweerde beleid oor seks in teenoorgestelde terme:

 

Mense moet die huwelik minag. Om te trou is sommer net om dinge te ‘sê’ vir ’n ‘god’ en jou handtekening op ’n stuk papier te maak. Die beloftes van die huwelik en die verbintenis tot een seksmaat en al die emosionele en ander verwagtinge wat daarmee gepaardgaan, dra eintlik geen gewig nie. Jy gaan beslis nie jou vrou/man seermaak as jy ander seksuele maats aanskaf nie. Inteendeel, geen mens kan van jou verwag om slegs binne die grense van die huwelik seksueel aktief te wees nie. Skoliere behoort geensins afgeraai te word om seksueel aktief te wees nie. Of hulle nou wag vir ‘die regte een’ of nie, dit is niemand se besigheid nie. As skoliere eerder seksueel losbandig wil wees as om op hul studies te konsentreer, dan behoort geen haan daaroor te kraai nie. Dit het niks met niemand te doen nie – minste van als hulle ouers wat eerder vir hulle kinders die ruimte moet skep om so veel as moontlik verskillende seksmaats te he indien die kinders dit so sou verkies . . .

 

Nee wat, los maar vir Daantjie. As meer manne (en ook dames) soos Daantjie was, dan wil ek tog dink dat daar minder seerkry sou wees. As alle mans in Suid-Afrika glo dat seks buite die grense van die huwelik taboe is, dan glo ek daar sou minder verkragtings ook gewees het.

 

Belangrikste van als – is dit reg dat ons andere se seksuele keuses beledig? As ons van andere verwag om ons te aanvaar al volg ons nie presies die meer tradisionele roetes nie, wat gee ons die reg om daardie mense wat wel die meer tradisionele benadering te volg te beledig en as ‘belaglik’ uit te beeld.

 

Nee wat SONDAG – dit is swak.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>