Avatar of Barend

by

Die vreemde God en sy mense – Willem de Klerk

January 21, 2013 in Uncategorized

Aaaah, doktor Willem Johannes ‘Wimpie’ de Klerk (1928 – 2009). Teoloog. Prerikant. Stigterslid van die Demokratiese Party. Broer van die oud president FW de Klerk. Seun van die senator Jan de Klerk (1903 – 1979). Ja daar is mense, so het ek al gehoor, wat so ver gaan om te beweer dat dok Wimpie die ‘swartskaap’ was in sy familie. Daarop sal jy dalk mense kry wat sinies sal opmerk, Wimpie swart ja, en FW pienk. Dis mos altyd pienk Frikkie dit en pienk Frikkie dat met van hierdie mense. Maar hoe ook al, ek vind dit absoluut verstommend dat daar geen Wikipedia blad oor Wimpie de Klerk is nie. Of nee, laat ek dit anders stel, daar is geen Afrikaanse of Engelse Wikipedia blad oor hierdie invloedryke figuur nie. Want nee, raai net, ek spoor vir Wimpie de Klerk op op die Franse weergawe van Wikipedia.

 

En die probleem is my Franse instruktrise was destyds so beeldskoon dat ek niks geleer kon kry van Frans nie.

 

Ek maak nie self bydraes tot Wikipedia nie. Met ’n voltydse blog en werk is dit net nie moontlik nie. Maar ek voel die man wat die begrippe ‘verlig’ en ‘verkramp’ practically ontwerp het, verdien regtigwaar om geWIKIniseer te word.

 

Daar was weer ’n interessante stuk in die Volksblad vandag. Oor die Heidelbergse Kategismus. In sy brief skryf Jan Venter “Die tyd is dalk juis nou ryper as ooit om die 450 jaar oue Kategismus en Hervorming, aan die hand van nuwe kennis te herbesoek”.

 

In sy boek, “Die vreemde God en sy mense”, wat alreeds in 1998 gepubliseer is, skryf dr. de Klerk as volg “Die Christelike kerk moet in die lig van die nuwe kultuur van ons tyd; die nuwe lig van die bevindinge van Bybelwetenskappe; die nuwe vrae oor kernaspekte van die oorgelewerde belydenis van die ou kerkvaders en die hervorming; en die nuwe problematieke en aktualiteite van die geloof aan die einde van hierdie eeu; teen dié agtergrond moet die kerk wêreldwyd met nuwe oë kyk na sy leer, sy belydenisskrifte en sy kerkpraktyk. Die ou, ou waarhede moet weer herbesin, herformuleer en herinterpreteer word. Nie net die kerk as instituut het hervorming nodig nie, maar die oorgelewerde kerkleer moet ook in sekere uitlegte en beklemtoninge weer oorweeg word. Dit is ’n agenda wat ’n dekade of twee in beslag kan neem.” (p. 79)

 

’n Dekade, skryf die doktor in 1998. Óf twee. Ons is nou dus by een en ’n half. En waar staan ons vandag? Ons staan nog steeds en pleit. Ons pleit nog steeds vir ’n kerk wat  . . .

 

Jare gelede, toe ek ‘voorgestel’ was, is ons nie eens hierdie belydenisskrifte geleer nie. Ons hoef dit nie eens te geken het nie. En die rede is voor die hand liggend. Want die goet is so ‘outdated’ dat enige regdenkende mens daarvoor skaam sal kry. Al mense wat die goet nog moes leer toe ek’n kind was was Dopper mense. En Dopper mense is lieflike mensies, verstaan my mooi. Ek het baie Dopper vriende gehad oor die jare. Sout van die aarde mensies. Maar die punt wat ek maak is, ek het altyd as kind gewonder hoekom ‘ons’ NG mensies nie die belydenisskrifte hoef te ken nie. Tot ek die goet goed gaan deurlees het. Toe weet ek.

 

Tog, in 2013, en 2012, en 2011, en 2010 en en en, baklei ons eerder téén die aanvaarding van die Belhar belydenis as teen die hervorming van daardie belydenisse wat ons elk geval nie eens meer amper gebruik nie. Hierdie feit vertel vir my ’n storie in eie reg. Dit vertel van mense wat fanaties vasklou aan hul laaste stukkie mag, en dit als onder die voorwendsel van ‘Jesus saves’.

 

En dan later bitter sê – mense kom nie meer kerk nie . . .

 

Maar doktor de Klerk skryf by tye dinge in hierdie boek wat vir my baie minder sin maak. Oor vroue, oor seks. Ek wil nie op als ingaan nie. Ek het hierdie boek baie geniet en beskou dit as ’n goeie boek. Dit is in filosofiese styl geskryf. Dit is beslis nie ’n geskiedenisboek nie.

 

Só skryf dr. de Klerk byvoorbeeld oor vroue – “Die vrou kan feller haat as die man; sy kan ’n gemeenheid huisves wat skrikwekkend is; sy is ’n gevaarlike manipuleerder; die kilheid van ’n vrou is die kilheid van die dood; sy kan skynheiliger wees as die man; as verleidster kan sy dodeliker wees as die man; die vrou kan in bose strategie die man oortref met haar masker van naïewe uitlokking waardeur ’n koue berekendheid verberg word” (p. 102)

 

Hierdie is die probleem wat ek met baie filosofiese besinninge het. Dit is so niksseggend dat die hele stuk kan reduseer tot ’n paar woorde. Eintlik is dit vaag en niksseggend en al wat dit uiteindelik sê is jy moenie vroue tipeer nie.

 

Maar ek wil tog nóg iets baie spesiaal uitsonder in hierdie boek. Dit is ’n langerige stuk wat ek nou wil aanhaal. Ek haal nie altyd sulke lang stukke uit boeke aan nie maar hierdie stuk is net erg spesiaal. As daar een, nét een rede is hoekom ek my lewe lank vir Wimpie de Klerk sal bewonder, dan is dit vir hierdie wonderlike stuk wat hy neergepen het:

 

“Alle mense is, kragtens hul aard en die aard van die lewe, vasgevang in paradokse. Mense moet dit verstaan en hanteer. ’n Paradoks is ’n skynbare teenstrydigheid. Dis twee teenoorgestelde begrippe wat albei waar is, al is die een die teenoorgestelde van die ander. Die twee teenoorgestelde begrippe saam, as ’n begripspaar, gee ’n vollediger perspektief op die persoon of saak.

Afhanklikheid en onafhanklikheid is ’n voorbeeld. Albei die begrippe is in die ganse werklikheid en waarheid verweef. Alle mense ‘van prinse tot bedelaars’ is afhanklik én onafhanklik. As ’n persoon oorafhanklik is, is hy ’n skeef getrekte mens. As iemand alleen klem lê op sy onafhanklikheid, trek hy ook skeef. As hierdie paradoks in ewewig gehou word – die persoon besef, beleef en beoefen sy afhanklikheid sowel as sy onafhanklikheid – is daar op hierdie punt balans in sy lewe.

As mense nie paradoksaal dink en leef nie, word hulle eensydige mense. Eenoogmense. Hulle leef net op die wysie wat hulle uittokkel op een snaar. Hulle sien net wit of swart, reg of verkeerd, waar of vals, mooi of lelik. Niks tussenin nie, nêrens twee kante van ’n saak nie, maar net óf dit óf dat. Nooit én dit én dat nie.

Hulle is die eentonige en ongenuanseerde mense. Ekstremiste. Rigoriste wat styf en rumatiekagtig hulle enkele voetpaadjies uittrap. Dwingers en boelies wat aggressief almal in hul een waarheid inforseer. Oogklapmense. Vervelige mense sonder skakering.

Die paradokse is daar. ’n Mens moet dit net registreer en jou oefen om ’n lewenshouding te kweek wat die twee snare tegelyk bespeel.

Geen saak, geen persoon, is enkelvoudig nie. Verskillende drade wat saamgekoek is, moet een vir een losgeknoop word. Daar is kompleksiteit in die lewe. Dis nóg enkelvoudig, nóg eenvoudig. Botone en ondertone, hoeke en vlakke, ’n samespel van ’n verskeidenheid kragte, motiveringe, houdinge, vooroordele en uitgangspunte. As jy iets oorvereenvoudig, verdraai en verarm jy die werklikheid. Dis gevaarlik en dwaas om te dink jy kan iets een-twee-drie deurskou en van ’n etiket voorsien. Deur meerkantigheid te belewe, word ’n mens versigtiger en nederiger.

Hierdie lewenshouding kan ’n mens relatiwisme noem. Oordrewe en siek relatiwisme lei ook tot skeeftrekking. Daar is wel absolute waarhede – een weg, waarheid en lewe –wat vasstaan. Reg is reg, vals is vals. Skewe relatiwisme hang knaend tussenin, kies nooit kant nie en stel alles op losse skroewe. Gesonde relatiwisme onderskei en verken en kom tot ewewigtige beslissings.

Gesonde relatiwisme eet nie alles vir soetkoek op nie en proe fyn aan al die bestandele voor hy tot ’n besluit kom. Hy weet alles wat blink is nie noodwendig goud nie en daarom verken hy voor hy dit as eg bestempel. Hy neem dit wat as voor die hand liggend aangebied word met ’n knypie sout, want daar is dikwels ’n storie agter ’n storie. Hy hardloop nie agter elke slagspreek aan nie, want hy weet slagspreuke en ideologieë is veralgemenings wat nie ’n oog het vir die pole van die waarheid nie. Hy koop nie ’n idee of standpunt op sigwaarde nie, maar haal eers die dele uitmekaar om te sien hoe die standpunt inmekaar gesit is. Hy verwag nie te min van die lewe of ’n persoon nie, want mense en lewe is God se geskenke, maar hy verwag ook nie te veel nie, want alles is aangevreet. Onvoltooidheid en onvolmaaktheid is ’n lewensfeit. Niks aards is perfek nie: geen kerk, geloof, vertroue of godsdiens nie; geen volk, liefde, trou, vriendskap, opwinding of rus nie. Die reg geskied nie altyd nie, die waarheid seëvier nie altyd nie en aanhouer wen nie altyd nie.

Gesonde relatiwisme is ’n posisionering wat allerlei valse absolutismes van jou lyf afhou.” (pp. 153 – 154).

 

Nou kyk, ek is oor die algemeen te onooslik vir die filofisie. Maar al wat ek hierop kan sê is ‘amen’. Ek sing sommer ses keer amen soos ons altyd aan die einde van die dienste by die kerk doen net na die seën!

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>