Avatar of Barend

by

.

January 17, 2013 in Uncategorized

Pfffff, gee vir ’n man ’n koning en ’n god en hy is jou ewige slaaf. Hy is halfpad in die hemel, al is hy in die hel. Truly, dis hoekom daar al duisende gode was en baie meer konings as dit. Ons leer elkeen om ons helle lief te kry. As ons nie daardie wonderlike gawe gehad het nie, sou Suid-Afrika nie gefunksioneer het nie.

 

Maar as jy die ding vas wil sement, dan gee jy, on top of die koning en die god, gee jy ook ’n antieke boek vol volksverhale of profesieë.  Hier waar ek bly is daar elke Woensdag ’n doom opi draadloos. Net annerdag toe sê doom daar oppie draadloos dat nee, Satan verskyn dikwels as ’n engel vannie lig aan die mense. En, seg doom, dit is presies wat gebeur het met die profeet Mohammed. Van die Islam-faam sien. Want die profeet Mohammed het mos sy boodskappe van die engel geskry sien. Maar doom seg aikona, ut was Satan. Kan nie anders gawies hetie.

 

Ja, en so loop ons Christene rond en vergelyk die Moslems met ‘Sataniste’, en beledig die Qur’an, terwyl die Moslems weer hulle messe geslyp hou vir die Bybel. Die Bybel, so seg die Islamiete weer, is gekorrupteer. Die heilige profeet Isa (Jesus) was beslis ook ’n Moslem. En Allah (God) kan nie ’n mens wees nie. Dis lasterlik om te beweer Allah is drie. Allah is nie drie nie. Allah is één. Kyk! – Selfs sommige vertalings van jul eie skrifte sê so:

 

“Hear, O Israel: The Lord our God is one LORD” –  Deuteronomy 4:6 (King James vertaling)

 

Nou is dit interessant as mens daardie vers vergelyk met jou meer moderne vertalings. Kyk nou net hierna en hoe die betekenis verander:

 

“Luister, Israel, die Here is ons God. Hy is die enigste Here.” (1983 Afrikaanse vertaling)

 

Skielik is hier nou geen sprake van dat God EEN is nie, nee, hier is dit nou DIE ENIGSTE. En by die een is dit ‘die Here ons God’ waar dit by die ander lees ‘die Here is ons God’ . . .

 

In elk geval. Ai, ek wens tog mense wil meer direk met my praat en minder vir my antwoord met skakels. Ek sukkel NOG STEEDS om te verstaan hoe iets wat as ‘riglyne’ beskryf word dan ‘duidelik’ genoem word. Ag, miskien verstaan ek net die begrip ‘riglyne’ nie so goed nie. Maar dan, iets wat boonop so vaagweg sê ja, party dele van die Bybel het gesag en ander dele nie juis nie . . . Wat ek dan dalk dus benodig is ’n verslag of studiestuk wat vir my duidelik aandui watter dele ons as gesaghebbend beskou en watter dele minder so en watter dele geensins. Ons kan begin by Genesis hoofstukke 1 tot 11. Sal graag wil weet wat die gesag van dié is aangesien ek net verlede jaar by ’n NG geleentheid was waar daar konsensus was dat hierdie verhale historiese feite is en dat mense wat anders dink beslis nie lekker is nie.

 

In elk geval, ek mors my tyd met hierdie onderwerp. En as ek weer ’n skakel as ’n antwoord kry gaan ek lelik in my binneste ruim vloek. Wat ek soek is ’n kerk wat ophou om mense te verwar oor die aard van die Bybel, maar ek weet die stryd is verlore. Ons antwoord, alle antwoorde lyk dit my, lê in internetskakels. Dis die ding van die toekoms lyk dit my. Amper soos huiskerke of so iets.

 

In elk geval – Ek bewens almal ’n lieflike naweek toe.

2 responses to .

  1. Môresê Barend
    Liewe genugtig, gee net eers vir Ding ‘n stoel om op te rus – om hier te kan kommentaar lewer, is amper soos om sake in ‘n bank te verrig!
    Enewel, Barend, Ding het lankal by die punt gekom waar Ding glo en aanvaar soos Moedertjie gesê het: manman sal op sy eie wysheid salig word.
    Vir Ding is die Bybel in totaliteit soos ‘n weegskaal: vir elke versie wat jy uit die Bybel loop haal en aan jou kant opsit om jou rigting te motiveer, sal Ding waarskynlik ‘n ander versie loop uithaal om jou rigting te “demotiveer” en Ding s’n, wat dalk in kontras met joune is, motiveer.
    Ding reken so:
    God het jou / jy het in elk geval, die vermoë gegee om self te dink en self te besluit. Daar is die riglyne, voorskrifte, noem dit wat jy wil, in die Skrif, maar allerheellaas bly dit JOU keuse wat jy met die inligting doen. Of dit nou is dat Islam die duiwel toegedraai in kopdoek en ander lae lappe is, en of dit nou is dat God een, enigste, of drie is, maak nie saak nie – g’n predikant of ander gelowige gaan uit eie wil vir of saam met jou dood nie. Gebruik die geleentheid waar al hierdie kennis beskikbaar is, om jouself te verryk en loop jou eie pad met jou eie voetspore – die gevolge is verreikend!
    Staan sterk, sit stewig, lê laag, maar skiet sekuur!
    D

    • Dankie Ding. Vir die lees en kommentaar.

      Wel, ek sien die saak so, as die NG doom sy kanse kan gebruik om die op draadloos te klim my Moslem broers en susters ‘sataniste’ te noem, dan kan ek seker my blog gebruik om my misnoee oor hierdie saak te kenne te gee. Wat die res betref, ek het by daardie gesprek betrokke geraak omdat daar skynbaar mense is wat wonder oor hoekom die kerke so bietjie sukkel aan die belangstelling kant. En ek besef dat ek ‘n verlore stryd voer. Ek meen, wie is ek om te pleit vir ‘n kerk wat vir my en ander mense presies kan se wat ons oor die Bybel moet glo? My uitdaging was en is maar nog altyd net dit – gee my ‘n verstaanbare beleid oor die Bybel, en dan kom doen ek weer my ding aan daai kant. Moenie vir my se party dele het gesag en ander nie maar dan nie vir my uitlig presies watter dele het gesag en watter nie. En ook nie vir my se die Bybel is ‘duidelik’ net om dan te se mense kan nie sommer net dink hulle ‘verstaan’ die Bybel nie. Ek beleef op ‘n daaglikse basis hoe hierdie beleid van die kerk mense se verhoudinge omkrap. Ek voel dit aan my eie lyf. En ek sien hoe die wind elke ander dag anders waai, ja, ek sien wat hierdie beleid in praktiese terme veroorsaak.

      En ek weet dit is totaal belaglik van my om hierdie dinge te eis, en dat ek, wat net een taal kan lees en skryf (en nie eens baie goed nie) dit waag om die doomse tee te gaan. En daarom vra ek vandag nederig om verskoning, sowel vir die kere wat ek dit in die verlede gedoen het as vir die kere wat ek dit nog in die toekoms weer gaan doen.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>