Avatar of Barend

by

niks is wit en swart nie al is alles wit en swart

January 15, 2013 in Uncategorized

Daar is ’n absolute fassinerende artikel in hierdie week se Huisgenoot. Dit is getiteld ‘Dokter regruk’ en dit handel oor onse minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi. Nou, hier by die Barend van der Merwe blog het ons geen witbroodjies nie. En die regering loop dikwels onder kritiek deur. Maar minister Motsoaledi is waarlik een van die blinkste sterre in ons kabinet. Hy is een van net 2 ministers wat ’n ‘A’ simbool van die amptelike opposisie ontvang het. En dis nie moeilik om te sien hoekom nie. Tydens sy termyn as minister het die lewensverwagting van die mense van die land toegeneem, van 56,5 na 60 jaar. En minister Motsoaledi is ’n man wat boonop sommer self inspring en ’n voorbeeld stel vir sy mede-Suid-Afrikaners. Weens sy eie gesonder leefstyl het sy heupmaat afgeneem van 46 na 42.

 

Daar is waarlik knap leiers binne die regerende party, weliswaar kan mens nou nie oor almal ewe opgewonde raak nie, maar waarlik, daar is uitsonderings.

 

Maar ek sien hier op die net ’n baie ontstellende en waar plasing. Oor die stakings. Die hele ding is so gemors. Hoe baie mense gaan hulle werke verloor? En dit is so pynlik vir my, as lid van die kerk, wat Johan Swarts alles skryf. Maar as wat hy sê waar is, dan moet ek ongelukkig saam met hom stem.

 

Die rede hoekom so baie knap boere vandag in die buiteland boer, is omdat die landbou in Suid-Afrika nie meer lonend is nie. Ek sweer, as ek self vandag ’n klomp florerende plase verniet kry, dan sal ek nie eens begin oorweeg om te boer nie. Ek sal nie eens voormanne aanstel nie. Ek sal die hele spul net so verkoop en aangaan met die lewe. Dat mense wat WAARLIK die passie het dit maar liefs aanpak.

 

Dit is gevaarlik om ’n boer te wees in Suid-Afrika. Jou lewe is meer in gevaar as die van ’n Suid-Afrikaanse polisieman/vrou. En dan is daar die ding van grondsekuriteit. Ons sit almal en wonder oor wat gaan gebeur as gevolg van die stadige pas van transformasie. Hoe gaan die onteienings plaasvind? En meng dan nou boonop hierdie ding van werksekuriteit in die hele gemors in . . . Wat bly oor? Wat kry ’n boer vir sy produk by die mark? As die petrolpryse styg, dan styg die voedselprys. As die belastingprys styg, dan styg die voedselprys. As die inflasieprys styg, dan styg die voedselprys. Maar kry boere ooit meer vir hulle produkte?

 

Daar is geen sekuriteit nie. Hoekom sal enige mens op aarde wil boer onder sulke omstandighede?

 

En dan, om alles te kroon, soos Johan opmerk, is die kans daar jy kry nog sommer vir God ook teen jou. En mens wen nie vir God nie. Jy kom tweede . . .

 

Maar die ironie, soos so dikwels in Suid-Afrika, is, soos Johan tereg opmerk, dat die rasgrense baie meer troebel is as wat mense soms dink. Daar is vandag baie swart en ‘bruin’ boere. Die feit is dat niemand presies weet hoeveel grond presies in swart hande vandag is nie. Toe ’n lid van die opposisie op hierdie feit gewys het ’n tyd gelede, is hy summier as ’n rassistiese tipe mens afgemaak deur talle. En tog moes die regering later toegee – ons weet nie.

 

Ag ja, maar een ding staan vas, en dit is mens kan net nie teen God wen nie. Maar hopelik kry God weer een of anner tyd ’n change of heart. Soos ek die geskiedenisboeke lees is God genadiglik nogal geneig daartoe.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>