Avatar of Barend

by

How much is that doggie (in the window)?

January 8, 2013 in Uncategorized

Die stof wil maar net nie gaan lê rondom president Jacob Zuma se opmerkings nie. So gaan daardie reus van ’n skrywer (wel, ten minste vir my is hy ’n reus), Dana Snyman, en pen ’n Psalm neer. En het hierdie seun van ’n predikant my nie aan die skater gehad nie. Ek kon myself net nie help nie. Veral toe hy by daardie legendariese deel kom van ‘wat is die mens’…

 

Maar nie almal het die storie ewe vermaaklik gevind nie. Dana se psalm het vir Bessie Fourie só die josie in gehad, dat dié nie bloot net die pen in die kritiek in gedoop het nie, maar gewaarsku het dat Dana nie weer aan daai kant gelees gaan word nie. Ja, dit is dalk te verstane dat Dana se stuk reaksie sou uitlok. Dit kan ook nie anders nie. As jy tog glo dat die Bybel die direkte woorde van God is, dan kan ek verstaan hoekom jy nie wil he mense daarmee moet spot nie.

 

Maar mense moet ingedagte hou dat nie almal die Bybel só lees nie. Vir baie mense (insluitende myself), is die Psalms liedere. En dit is liedere wat DEUR mense geskryf is. So moeilik soos dit vir jou, Bessie Fourie is, om te verstaan dat daar iewers daar buite ’n Barend van der Merwe rondloop wat dit tog net sal waag om nie die Bybel as die ‘Woord(e) van God’ te beskou nie, nét so moeilik is dit vir my, Barend, om te verstaan dat daar ’n Bessie Fourie daarbuite rondloop wat glo dat die liedere wat deur gewone mense ter ere van hulle God geskryf is en wat gebundel is as die ‘Psalms’, dat Bessie glo dat dit God se woorde daardie is.

 

As Christen glo ek boonop dat dit goed is as ons sake kritiseer en nie mense nie. Toe daar op ’n dag ’n vrou na Jesus gebring was wat egbreuk gepleeg het, het Jesus duidelik haar dade en nie haar karakter nie gekritiseer. Nou wonder ek, wat sou koning Jesus gedoen het? Sou Hy teen Dana gedraai het? Of sou Dana vergewe geworre het vir enige misstappe?

 

Die enigste ding wat my gepla het toe ek Dana se stuk gelees het, is dat dit eintlik aan ’n tragedie grens dat ons in hierdie situasie sit dat die president so geminag word deur die mense van die land. Ek meen, sit nou eers vir president Zuma opsy. Vergeet van president Zuma. En dan vra jy die vraag, wil ek in ’n land bly waar mense die president só minag? Ek wil beslis nie. Ek wil in ’n land bly waar ek trots kan wees op my president.

 

Dit is tragies.

 

Een van die mees indrukwekkendste stukke kritiek teen Zuma het gekom van Johan Swarts . Swarts se argument is dat jy waarlik nie die kultuur van die mense van Afrika kan tipeer nie. Ja, net soos daar nie ’n tipiese ‘Boer’/Afrikaner is nie, so kry mens nie ’n tipiese ‘African’ nie.

 

Ek wil tog ’n klein stukkie kritiek lewer teen Johan se stuk. Om ‘liberaal’ te wees is vandag dikwels amper ’n vloekwoord. Dit is asof mense toenemend die liberale visie assosieer met die geneigdheid om oordrewe polities korrek op te tree. Ek wil vandag sê, hierdie is wat my betref ’n verwronge voorstelling van die liberale visie. Enige mens wat hom of haarself as ‘liberaal’ wil voordoen maar leef met ’n oordrewe geneigdheid tot polities korrek wees is so vals soos hierdie sogenaamde ‘kommuniste’ wat ons in hierdie land het wat teen nasionalisering is, salarisse van R 30 000 per maand trek en ’n suiwer kapitalis tot hulle adjunkpresident verkies.

 

Ek beskou myself nie as liberaal nie (hoewel dit wat mens van jouself dink grootliks futiel is in my beskeie ervaring). Ek sê maar net wat ek dink van liberaliste. Kom ons gebruik voorbeelde. Vir my is twee baie bekende ‘wit liberaliste’ Max du Preez en Frederik van Zyl Slabbert. Is hierdie twee here die tipe wat enige ras se kultuur getipeer het? Nie van wat ek al gelees/gesien het nie.

 

In elk geval. En dan is daar Leopold Scholtz se skrywe. Scholtz wat op die ander kant van president Zuma se opmerkings probeer wys. Hy probeer nie die hele onsmaaklikheid toesmeer of goedpraat nie. Maar hy stel ’n belangrike moontlike verklaring vir Zuma se woorde wat ek dink baie belangrik is. Dit is goed. Daar is baie mense van reg oor die rassespektrum wat geskok was deur president Zuma se opmerking, en dit is goed dat daar diegene onder ons is wat eerder wil probeer verstaan en verklaar.

 

Ek hoop van harte Scholtz se gevolgtrekkinge is in die kol. Ek hoop baie baie hard.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>