Profile photo of Barend

by

wiele en stukkende lewens

January 6, 2013 in Uncategorized

Daar was al weer so baie tragedie hierdie afgelope tyd. Jy is sommer lus ek stuur ’n onvriendelike gebedjie na die ‘ander kan’ toe. Die ergste vir my is die van die kind Erica, wat Woensdag oorlede is. En dit as gevolg van die ouer wat per ongeluk die kind raakgery het. Nou weet ek al uit die bietjie wat ek van die lewe weet dat daar mense is wat sulke dinge ‘oorleef’, maar andere bly vir die res van hul lewens stukkend. Wat ’n tragedie! Mens het net nie woorde nie.

 

Motors, en so ook fietse, maar veral motors, is gevaarlike goed. Ek dink min mense sal vandag hieroor verskil. Maar mense moet nie ontmoedig word nie. Dit is miskien so dat motors baie mense se lewens verwoes, maar dink aan hoeveel mense se lewens gered word omdat hulle, as gevolg van motors, vinniger by ’n dokter gebring was. ’n Mens moet nooit ’n gebeurtenis in isolasie lees nie. Ek was altyd skepties oor motorsport. Altyd gewonder, wat is die punt daarvan om so om en om en om in die rondte te jaag? Tot ek geleer het van die wonderlike tegnologie wat al uit motorsport uit ontwikkel het wat al miljoene mense se lewens gered het, want daardie tegnologie beland later in ‘gewone’ motors.

 

En boonop is die mens nou maar eenmaal so. Ons moet net altyd die beste dit en die beste dat kies. As daar nou een ding is wat ek tog sukkel om te verstaan, dan is dit fietswedrenne. Dit is die laaste tyd, na afloop van die dood van die bekende Olimpiese fietsryer so dat die beskuldigings nou weer oor en weer waai. Wie is nou eintlik die varke in die verhaal? Die fietsryers of die motoriste?

 

Self is ek vreesbevange vir fietsryers. Dit is altyd so dat, wanneer ek met fietsryers gesels, dat hulle ontken dat hulle ooit langs mekaar op die pad ry. Maar ou matta laat ek net met hulle te doen kry, dan sien ek nee, hulle ry langs mekaar. Ek het altyd gedink dat hulle dit doen vir die geselskap. Of sommer net vir. Of dalk om mekaar te kan sien, dalk is die hele punt om mekaar te sien en ‘saam’ te wees op ’n manier. Tyd saam spandeer. Die lewe is tog so gejaag. Maar toe leer ek by kenners van die sport dat die ding wat hulle eintlik doen is om die wind vir mekaar af te keer. DIS hoekom sulle so langs mekaar ry. Die ou wat in die ‘slipway’ ry kan krag spaar. Hy of sy hoef nie so hard te trap nie . . .

 

Nou wil ek geensins hiermee impliseer dat motorbestuurders engeltjies is nie. Allesbehalwe. Al wat ek sê is dat die saak nie presies so wit en swart is soos wat sommige mense jou sal wil laat glo nie. Ek moes al baaaaaie in my lewe uitswaai vir fietsryers wat langs mekaar ry. En op daai manier stel ek die aankomende verkeer in gevaar (presies net soos die uitswaai vir slaggate).

 

Daar is geen partye wat hul hande in onskuld kan was as dit by die slagting op ons paaie kom nie. Vir my is die sport fietsry boonop eintlik maar die grootste klug. Ek sien daar is nou berigte wat beweer dat die baie bekende Lance Armstrong dit nou sterk oorweeg om te bieg dat hy dwelms gebruik hiet. Maar dit gaan niks help nie. Dalk net sy eie sak. Die toestand is so erg dat hulle nie eens die titels wat hulle hom van gestroop het nou kan toeken aan die ouens wat 2de of 3de geëindig het daai jare nie, want dié verkeer vandag ook onder ’n dwelmwolk.

 

Ek is vandag vriendelik onverdraagsaam teenoor fietsry as sport eerlikwaar. Fietse was (nes motors) gebou vir vervoer. Daar is nooit paaie vir fietse ontwerp soos daar vir motors paaie ontwerp is nie. En fietsryers lieg as hulle sê dat hulle nooit langs mekaar ry nie, net soos wat hulle, skynbaar as gevolg van geld vir jare lank kan lieg oor of hulle dwelms gebruik.

 

Ek sien daar is alreeds meer as 1300 mense dood op die paaie in die feesgety. NET so tragedie. En dan stop jy by die petrolpomp en dan sit ta daar met die groot bottel ‘Hunters’ of ‘Reds’ op sy skoot.

 

Ek dink mense wat nooit nuwejaarsvoornemens maak nie moet beslis, indien hulself hieraan skuldig is, dit oorweeg om hulle voor te neem om nooit weer te drink en te bestuur nie. En net so moet fietsryers ophou om vir my te vertel oe nee hulle ry nooit langs mekaar nie. Want meeste van die tyd wat ek hulle gewaar doen hulle dit. Ons sal seker nooit die slagting op die paaie totaal kan stop nie, maar ons kan dit baie baie minder maak deur klein veranderinge te maak aan hoe ons die pad gebruik.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>