Avatar of Barend

by

Pleidooi vir vroue se regte deur ’n uiters kieskeurige leser van die Bybel

January 2, 2013 in Uncategorized

Ja né. Ek moes dit sien kom het. Ek moes dit sien kom het toe ek die naam ‘Eva’ sien in die stuk “Om ’n van vir Eva te kies”. Eva Eva Eva van Adam en Eva. Ja. Die ou premis. Die ou ene. Ja.

 

Adam en Eva.

 

Dit is interessant dat in die hiërargie van tale, is die Hebreeuse taal baie ouer as Afrikaans. Sommer baie ouer. Maar nu ja, die oudste taal wat al ooit was, dié is Hebreeus beslis ook nou nie. Vra mens vir ’n taalkundige, dan sal daar waarskynlik vir jou gesê word dat die oudste taal op aarde is vandag onbekend aan ons. Ons weet nie meer wat die eerste taal was nie want daar bestaan geen rekords daarvoor nie. Ons beste hoop is op die argitektoniese nalatenskap van ou vergete beskawings. En die dinge wat argeoloë onder die grond uitkrap is nie altyd woordeboeke van antieke tale met hul Engelse ekwivalente daarnaas aangedui nie.

 

Nou is dit interessant om daarop te let dat die woord ‘Adam’ eintlik ’n Hebreeuse woord is. Ja, net soos wat mens vandag (veral in Sesotho) mense kry wat name het wat bekende woorde in hulle taal is, soos byvoorbeeld Palesa (blom), Lerato (liefde) en Gift (geskenk), so het mense maar nog altyd name gehad wat baie betekenis het in hulle eie bepaalde taal. Soos Teofilus. Soos Tertius.

 

Dis tog vreemd dat die heel eerste mens op aarde as naam die Hebreeuse woord ‘Adam’ gehad het terwyl Hebreeus nie eens die oudste taal op aarde is nie.

 

Nee, want sien, mense het ander tale gepraat voor daar Hebreeus was. Sumeries is een van die. Ek is seker dat, toe die Aborigenes 50 000 jaar gelede van Asië af na Australië toe gevaar het, dat hulle nie deur middel van telepatie met mekaar gekommunikeer het toe hulle hul bote gebou of die goet oor die gevaarlike see maneuver het nie. Ag maar hoe sal ek ook nou weet? Miskien is dit tog so dat dit eers was toe die Jode meer as 400 eeue later hulle boeke begin skryf het dat mense eers begin praat het.

 

Dit is vir my veelseggend dat die skrywer begin met die opmerking dat ‘die vrou’ geskep is ‘vir die man’. Om sy ‘maatjie’ te wees. Sy speelding. Indien mens maar net ’n eenvoudige ondersoek loods na die hoeveelheid woorde wat die vrou tipeer as veral ’n seksuele ‘speelding’ van die man, dan begin jy amper outomaties wonder watter rol die verhaal van ‘Adam en Eva’ in die ontwikkeling van hierdie stereotipes speel. Ek kan vinnig vinnig dink aan katjie, sekskat, teef, flerrie, merrie, stukkie. Vra my vir manlike ekwivalente van hierdie woorde dan kan ek nie aan een dink nie. Nie eens een nie.

 

En so wil ons nou vandag nog, in die 21ste eeu, wil ons nog steeds hierdie verhaal as vertrekpunt gebruik in ’n poging om vroue te probeer herinner hoe belangrik dit vir hulle is om hulle identiteit prys te gee en hulle volkome aan hulle mans toe te wy.

 

Sug.

 

In hierdie land, met sy hemelhoë verkragting syfer, gebruik ons die volksverhale van ’n beskawing van 2500 gelede as gids oor hoe ons ons land se vroue moet hanteer.

 

Maar ek weier. Ek sal dit nie doen nie. Noem my maar ’n swak man/Christen. Maar ek steur my nie aan stories nie. Ek lees stories en haal daaruit wat vir my bruikbaar is. Die res sit ek eenkant en vergeet daarvan.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>