Profile photo of Barend

by

APOKRIEWE OU EN NUWE TESTAMENT – Jan van der Watt en Francois Tolmie

January 1, 2013 in Uncategorized

Oei, ek ‘eye’ toe so hierdie boek. Vir baie lank. Vir maande. Dalk jare. Ek weet nie presies nie. Maar ek weier om dit te koop. Want ek tel dit op en dan sien ek die vertalers het kommentaar tussen die teks gelewer. En dit sit my totaal af. Ek weet al uit ervaring iets van die teologie. Nie omdat ek self teoloog is nie. Net vir ander redes. Maar so kry ek toe hierdie boek as geskenk. En wat die kommentaar betref het dit al my vermoedens bevestig. Ek het dit REGTIG met ’n oop gemoed probeer lees maar nee, ek hou nie van die kommentaar nie. Ek vertrou dit nie. Ek weet dit is geleerde here wat hierdie dinge skrywe, maar dalk júís daarom vertrou ek dit nie. Dit het net eenvoudig al my vermoedens bevestig. Want dit besluit vír jou, dis nou behalwe vir die feit dat dit meestal vaag is. By elke ‘boek’ in die boek is daar byvoorbeeld ’n afdeling wat sê – deur wie is hierdie boek geskryf? En dan antwoord dit gewoonlik iets soos – ‘niemand weet nie’, of ‘’n Jood’. Maar bowenal is die kommentaar van so aard dat dit jou gedagtes probeer stuur. Dit waarsku jou vooraf wat jy moet dink. Dis nie kommentaar nie, dis coaching, dis al wat dit is.

 

En my heel heel grootste teleurstelling was dat die evangelie van Filippus nie in hierdie versameling van apokriewe vervat is nie. Want sien, ook maar mens soos wat ek is, wil ek bitter graag dié evangelie lees waar Jesus na bewering vir Maria Magdalena soen, veral in my eie taal wil ek die ding kan lees. Ek sien daar is ’n vertaling in Engels op die net. Maar nou is daar hierdie probleem. Die een bron wat ek gelees het sê die bronteks van die evangelie van Filippus maak dit nie duidelik presies waar Jesus vir Maria gesoen het nie (bv. op die mond, op die wang, op straat ens. ens). Dit is onleesbaar volgens dié kenner. En so scan ek toe die vertaling van Filippus op die net en dáái vertaler (die een van op die net) het dit toe so daar in dat nee Jesus soen vir Maria op die bek. Nou weet ek nie. Maar ek weet dat die ouens wat die hele ding aanhang van dat Jesus ’n kind verwek het by Maria Magdalena waarskynlik die teks(te) lees wat sê dat nee Jesus het vir Maria op die mond gesoen.

 

Self wil ek net die oorspronklike ding lees. Net vir interessantheid. Want wat sê dit tog nou ook eintlik as Jesus vir Maria op die mond gesoen het? Dalk beteken dit nie dieselfde in die kultuur wat Jesus in geleef het as wat dit in my eie kultuur dikwels beteken nie! En soen is nog boonop nie seks nie. Wel, nie in die sin van bybies maak nie. So dit is uiteindelik maar net ’n interessantheid vir my. Net om ingelig te kan lees wil ek die ding eendag ook lees. Hoekom die wêreld destyds so op hol kon gaan op wat, na my mening, Dan Brown se swakste boek is, hou sekerlik verband met almal insluitende my eie fassinasie met Jesus van Nasaret. Maar die feit bly staan, dit is uiteindelik onmoontlik om te weet. Ons weet nie of Jesus ooit kinders gehad het nie. Dit is onweetbaar. Of dit nou gebeur het of nie, ek dink nie dis enigsins weetbaar nie (En tog wíl ek eendag die evangelie volgens Filippus lees).

 

Ek het al voorheen die apokriewe van die ou Testament gelees. Tot my beskikking was die boek van Felix Mijnardt getiteld‘Apokriewe van die ou Testament’. Dus het ek direk geblaai na die ‘nuwe’ Testamentiese apokriewe in hierdie boek (ek sal wel later die weergawes van die ou Testamentiese apokriewe in hierdie boek ook lees). En het ek dit nie terdeë geniet nie! Vir my was die heel grootste verassing die ‘Ander’ geskrifte van die vroeë kerk wat ingesluit is. Daar is byvoorbeeld die brief van Sint Klement aan die gemeente in Korintiërs. En dan is daar die Didagé. Ek was totaal onbewus van die bestaan van hierdie wonderlike wonderlike stukke wêrelderfenis.

 

Die veel besproke ‘Evangelie van Tomas’ kom ook aan die beurt in hierdie boek. Van al die kommentaar in hierdie boek was ek veral gefrustreerd met die kommentaar wat toegevoeg is by die ‘evangelie van Tomas’. Ek voel die omstredenheid van hierdie boek word nie na wense belig nie. Daar word beweer dat die boek gerig was aan ’n groep Christene vir wie “Jesus se opstanding en dood nie soveel saak gemaak het nie” (p.527). Dus, mense wat nie die messiaanse aard van Jesus gereken het nie. Ek weet nie of ek heeltemal hiermee kan saamstem nie. Want alhoewel die boek nie in die tipiese narratief vorm geskryf is nie maar eerder uit 117 ‘uitsprake’ van Jesus bestaan, is daar in talle uitsprake sinspelings op Jesus se messiaanse visie en sy volgelinge se kennis hiervan. Ek gee voorbeelde:

 

In uitspraak 12 sê die dissipels: “‘Ons weet dat U weggaan en ons alleen gaan los. Wie sal dan ons leier wees?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Gaan na Jakobus die Regverdige toe; maak nie saak waar julle is nie. Dit is ter wille van hom wat die hemel en die aarde ontstaan het.”

 

Hoekom sal die dissipels hierdie woorde sê? Hierdie dinge van ‘Ons weet dat U weggaan’, as Jesus bloot vir hierdie mense dan slegs ’n groot ‘Leermeester’ is soos wat beweer word in die kommentaar oor hierdie boek?

 

In uitspraak 65 verskyn daar ’n gelykenis wat Jesus vertel wat nie in die Bybel is nie. In die gelykenis stuur ’n ‘man’ eers sy slawe om die ‘oes’ in te samel by die huurders van sy wingerd (die verhuurder was volgens die ooreenkoms geregtig op ’n deel van die oes van die huurder), maar telkens word die slawe aangerand en amper doodgemaak. Uiteindelik stuur die ‘man’ sy ‘seun’ sodat die oes ingesamel kan word, maar die huurders vermoor uiteindelik die ‘seun’.

 

Demmit, hoeveel meer messiaans kan ’n teks raak? Of is ek net ’n nutcase?

 

Maar bowenal word daar nie genoeg klem gelê op die feit dat die Tomas evangelie volgens sommige kenners baie meer betroubaar kan wees as van die ander evangelies, selfs die in die Bybel, nie. Soek mens op die aanlyn ensiklopedie Wikipedia se blaaie rond, dan sien jy daar is kenners wat die ontstaan van dié evangelie selfs so vroeg as die jaar 40 plaas! Dit sou dan wees 20 of 30 jaar voor die samestelling van die Markus evangelie! En minder as ’n dekade na die kruisiging van Jesus van Nasaret.

 

En ek verbeel my dit is die skrywer Elaine Pagels (In haar boek oor die evangelie van Tomas) se mening dat die insident in die Johannes Evangelie, waar die apostel Tomas glo twyfel in die opstanding van Jesus en vir ewig die reputasie van die ‘twyfelende Tomas’ opgedoen het nadat Jesus vir Tomas aan Sy wonde laat vat het, dat hierdie insident gebruik was as ’n stuk kritiek teen die aanhangers van die evangelie volgens Tomas. Om vir ‘Tomas’ te diskrediteer. Dit is dan ook mos nou gewild onder die geleerdes om te glo dat elke ‘evangelie’ ’n bepaalde tradisie verteenwoordig het, en dat hierdie tradisies uiteraard soms gebots het.

 

Lees ’n mens deur die evangelie van Tomas, dan is dit wel opvallend dat daar geen finale, samehangende teologie teenwoordig is nie. Daar is geen duidelike eskatologiese uitsprake soos wat mens vind in talle van die ander evangelies nie. Jesus word wel as ’n onderwyser geskets, ’n geseënde een daarby, en soos ek die ding lees is daar duidelike sinspelings op die messiaanse aard van Jesus. Maar dis maar hoe ek die ding lees.

 

Maar dit is vir my asof dit wil-wil dat daar weens hierdie afwesigheid van ’n fyn uitgewerkte teologie, dat dit is asof ek hierdie teks wil-wil baie gesaghebbend ervaar. Dit is ten minste so vir my. Daar is niks in hierdie ‘Tomas’ se voorstelling van Jesus wat my erg laat twyfel nie. Maar ’n mens moet seker waak teen enige finale gevolgtrekkinge.

 

Daar is ook die ‘Evangelie van Maria’ in hierdie versameling. Dit is interessant dat, selfs in die Bybel, is daar sinspelings op hoe belangrik vroue vir Jesus was. In die Evangelie volgens Lukas spesifiek, in hoofstuk 8 verse 1 tot 3, kan mens lees hoe daar vroue was wat Jesus se bediening gedra het. Die 1953-vertaling sê dat hierdie vroue, onder wie Maria Magdalena, Jesus met hulle ‘besittings gedien’ het (Ehrr, van der Watt en Tolmie verwys ook toevalling na Lukas 8 in hulle kommentaar [p.552] op die ‘evangelie van Maria’, maar hulle hamer eerder sterk op die deel waar Jesus eers sewe soorte ‘duiwels’ uit Maria moes jaag net om haar eers aanvaarbaar vir die wêreld te kry en hulle sê verder niks oor Maria en die ander vroue se beweerde bydrae tot die befondsing van Jesus se bediening nie). Hulle (van der Watt en Tolmie) se gevolgtrekking oor of mens uit ‘die evangelie van Maria’ kan agterkom of Maria se beeld vertrap is deur die kerk? (surprise, surprise) “Glad nie!” (p. 553).

 

Maar oei nee, ek wil nie eens begin om in debatte oor Maria Magdalena betrokke te raak nie. Oor wie sy was en oor of haar rol in Jesus se lewe deur die Katolieke ondermyn is soos wat sommige beweer nie, ek noem hierdie dinge maar net hier omdat die ‘evangelie van Maria (Magdalena)’ natuurlik ’n belangrike faktor in hierdie debatte is. En, natuurlik, omdat dit ook in hierdie spesifieke versameling boeke opgeneem is. En omdat dit pret is om dit te lees.

 

Ek praat (lees skryf) al weer baie vandag. Al wat ek eintlik wil sê is, KFC se voet. Die éintlike vinger lek lekker is om die apokriewe in Afrikaans te kan lees. En hierdie briewe van die vroeë kerk, dit alleen al maak alreeds van die boek ‘APOKRIEWE OU EN NUWE TESTAMENT’ ’n uiters waardevolle boek in Afrikaans. Ten minste vir diegene wat in hierdie tipe dinge belangstel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Post Scriptum: ’n Ou KFC hoendertjie spuit mos soms so as jy hom hap. Van die vet sien. En net so is APOKRIEWE OU EN NUWE TESTAMENT tog ’n baie ‘ryk’ boek. Dit is ryk, kan mens sê, op baie baie vlakke, jy sal beslis, by die lees daarvan, baie dinge ryker word, kan mens sê.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>