Avatar of Barend

by

Ver van Vrede – Jurie Els

December 31, 2012 in Uncategorized

Nie alle mense gaan gemaklik daarmee voel wanneer hulle bewus word van die feit dat jy ’n boek oor Jurie Els lees nie, nog minder ’n boek DEUR Jurie Els. Hiervan kan ek vandag getuig. Die rede is gewoonlik, ‘maar hy sing dan so *&^’. My boodskap aan diesulkes is om te ontspan. Want die boek ‘Ver van Vrede: My volle verhaal’ van Jurie Els is beslis ’n boek en nie ’n album nie. Jy kan dit lees en hoef nie daarna te luister nie, so waar le die logika? Ek het al honderde, dalk duisende boeke in my lewe gelees, en hierdie een is by verre nie een van die swakstes nie. Inteendeel. Daar steek baie aan hierdie boek. Baie meer as wat sommige mense ooit sal wil toegee.

 

Wanneer die naam Jurie Els ter sprake kom, dan is daar altyd twee sake wat in my gedagtes begin dwaal. Die eerste, en waarskynlik vir baie mense die logiesste is: hoe op aarde word ’n sanger soos Els só gewild? Want kyk, self hou ek nie van die musiek nie. Sommer baie niks. Maar die tweede vraag wat hiermee gelykstaan (of dalk eerder, verband hou) is, hoekom word mense só hatig teenoor iemand wat hulle nie eens regtig ken nie? Vanwaar al die onverdraagsaamheid? Hoekom is die mens so dat ons dikwels nie net kan sê, o ja, Jurie Els, aaklige sanger, en dan los ons dit daar nie? Hoekom altyd altyd al die beledigings? ‘Moffie’, veral…

 

As ek hierdie vraag moet antwoord, dan sal ek dit só probeer doen. Vir baie mense is die musiek van Jurie Els die verpersoonliking van vals wees. ’n Mens kan seker praat van borrelgom. Bubblegum. Maar vir my is dit erger. Dis veel erger. Dit is eerder spookasem. Van borrelgom bly daar darem nog ’n spierwit (maar nuttelose) res oor. Maar van spookasem bly daar niks oor nie. So gou soos dit verskyn, so gou sal dit weer verdwyn. So is dit met die Jurie Else, die Robbie Klye, die Juanita du Plessis’e, die Niklaas Louwe, die Kurt Darrene, die Bobby van Jaarsvelde en nog ’n hele hoop ander. Hulle is vandag met ons maar more of oormore of op die laaste eendag word hulle vervang met ‘nuwe’ Robbie Klye, Niklaas Louwe ens.

 

Els skryf self oor hierdie verskynsel in sy boek. Hy skryf bv. hoe Juanita du Plessis die rol oorgeneem het van Patricia Lewis in die mark (later in die boek vertel hy hoe hierdie verskynsel vir Lewis tot die gruwelikste verdagmakery gedryf het). En dit is presies hoe dit gaan met hierdie ouens. Els skryf dan ook hoe hy die popmark bestudeer het. As jy vooraf weet hoe hy later Noot vir Noot gewen het, dan sien jy vroeg-vroeg in die boek al hoe sy fassinasie met popmusiek hom voorberei het vir die wen van Noot vir Noot. En mens kan lees hoe Els, as promotor van verskeie suksesvolle sangers, die internasionale popmark bestudeer het, byvoorbeeld die Hanson broers se musiek –alles met die oog daarop om te sorg dat die kunstenaars onder sy vlerk saam met die tye sal vlieg (en nie net sommer hulself sal wees op ’n verhoog nie).

 

As iemand dus Els se musiek wil beledig, dan kan ek leef daarmee. Els se musiek is nie Johannes Kerkorrel s’n nie. Dis nie Koos du Plessis s’n nie. Dis nie eens Koos Kombuis s’n nie. Dit is spookasem.

 

Maar.

 

Jurie Els is net soveel méns as al daardie mense. En net soveel soos ek en jy wat hier lees.

 

Dit is in hierdie opsig wat die hele Els vs. Klay sirkus my totaal en al fassineer het. Ek gebruik die woord ‘sirkus’, want dis die woord wat Els self gebruik in hierdie boek om na die hele saak te verwys.

 

En hier by die Barend van der Merwe blog sê ons, dit was ’n sirkus, maar dit was ’n nodige sirkus. Ja, ons het dit nodig gehad.

 

Want dit was mos die tyd wat die Huisgenoot toe gegaan het en ’n Jacob Zuma op hulself getrek het deur die howe te ignoreer. Dit was die tyd toe sommige lede van die media sommer op ’n dag besluit het om in die koerant ’n lekker liegstorie op te dis dat Els by een van sy vorige werkplekke (’n Hoërskool waar hy onderwyser was) weggejaag is omdat hy glo vat-vat gespeel het met die leerders. Alles natuurlik totaal en al ongegrond. En NET om geld te maak uit ’n ander se leed en skande.

 

Ek dink regtig dat, binne die konteks van die hele sogenaamde ‘muilband-wet’, hierdie spesifieke boek uiters belangrik is. Self is ek geen voorstander van enige ‘muilband’ wet nie. Maar wat Els baie duidelik bo enige twyfel in sy boek illustreer is presies hoe gewetenloos verslaggewers kan word. Die donker kant van die media is wat mens sien in hierdie boek. En dit laat jou opnuut wonder elke keer wat jy ’n berig lees. Dit herinner jou dat jy uiters versigtig moet wees om enige ding sommer net vir soetkoek op te eet. En dat talle berigte op fabels gebaseer word en op geen harde bewyse nie.

 

Ek het ’n vermoede dat sekere verslaggewers geensins deur enige muilband-wetgewing benadeel gaan word nie. Want mens kan nie eintlik die verbeelding van die mens, wat as primêre bron vir baie joernaliste dien, muilband nie. En dit was vir my eerbiedwaardig dat Els homself telkens daarvan weerhou het om sommer self ’n koerant of tydskrif te nader en sy ‘vyande’ as’t ware hulle ‘eie medisyne’ te gee. Want dit is duidelik dat Els oorgenoeg skietgoed gehad het om dit wel te doen, maar anders as so baie andere, het hy hom weerhou hiervan. Het hy by reëls probeer hou. Ek vind hierdie dinge baie meer lofwaardig as sy sangpogings.

 

Maar nou ja, ek wil nie net oor die saak tussen Els en Klay praat nie. Ek wil ’n aantal ander opmerkings maak oor ‘Ver van Vrede’ wat ek dink belangrik is om sê. Ek dink dat mense wat spirituele boeke geniet hierdie een baie sal geniet. Els is ’n baie toegewyde gelowige en sy spiritualiteit speel ’n belangrike rol in hierdie boek en skynbaar in sy lewe. Mense wat spirituele werke lees kan hierdie boek gerus aanpak, veral Christene. Dit beloof om interessante leesstof te wees.

 

Wat ek die meeste geniet het is al die staaltjies wat Els te vertel het oor al die belangrike mense met wie hy al koppe gestamp en skouers geskuur het. Hy vertel ’n heel komiese insident van sy ervaring met die legendariese Tolla van der Merwe, toe hulle vroeg een oggend uit ’n huis uitgesluit geraak het. En so skryf hy oor stringe bekendes. Van Randall Wicomb en Sonja Herold tot Ge Korsten en Cora Marie. Els vertel hoe hy by Noot vir Noot betrokke geraak het. Hoe hy en Johan Stemmet vasgesit het oor ’n bepaalde saak. In ’n skreeusnaakse insident sien mens hoe daar deur ’n dominee gebid word vir Els vir ‘kalmte’ die aand voor die finaal van Noot vir Noot gebeeldsend word (Die dominee was duidelik onbewus daarvan dat die uitsending nie lewendig is nie en reeds afgehandel was toe hy sy gebed doen).

 

En Els vertel van sy ervaring met die Kerkstraat bom en talle ander insidente. Hy le veral klem op sy fassinasie met die film ‘Vang vir my ’n droom’ en hoe hy vir dekades lank op soek was na die dame wat in die film gespeel het. Só gefassineerd was Els deur dié film hy het tot die area gaan soek waar tonele van die film verfilm was.

 

’n Enorme deel van die boek word, uit die aard van die saak, afgestaan aan die hofsaak tussen Els en Klay. Els se boek word in drie dele opgedeel wat hy betitel, ‘Niemand’, ‘Iemand’ en ‘Niks’. Die laaste deel ‘Niks’ handel uitsluitlik oor die hofsaak en die titel tree vir my wonderlik in gesprek met die teks aangesien dit suggereer dat Els na die aanklagte nou ‘Niks’ is nie, maar ook dat die hof ‘Niks’ waarheid in die aanklagte kon vind nie. Die ‘Niks’ deel van die boek bestaan dan hoofsaaklik uit ’n transkripsie van sommige van die hofverrigtinge. Vir my was hierdie deel uiteindelik die mees verveligste deel van die boek. Maar dit is waarskynlik belangrik om die leser iets van die verrigtinge te laat beleef.

 

Daar is ’n ou ironie aan die lewe. ’n Baie ou ironie. Ek het al lank gelede ook hieroor geskryf in ’n plasing getiteld ‘Die uitdaging van die alternatief’ (as ek reg onthou), en dit is dat, die sg. ‘anti-establishment’ het heel dikwels die manier om maar net hulle eie ‘establishment’ te gaan vorm. ’n Mens kan maar net die boek (of film) ‘Animal farm’ onder oë neem om hierdie ironie van die lewe geskets te sien. En hierdie nuwe ‘establishment’ het dan maar net weer sy eie reëls en inperkinge, en hy is heel dikwels selfs méér aggressief, selfs méér harteloos as sy voorloper.

 

Kyk ’n mens na die laggende foto in die boek waar Els saam met Johannes Kerkorrel verskyn by die heel eerste Huisgenoot skouspel in 2000, dan besef jy dat Kerkorrel duidelik ’n man was wat deur ou sowel as nuwe konvensies kon breek. Toe die hele drama rondom ‘oorspronklike’ kunstenaars later uitbreek, was Kerkorrel een van die wat sy eie ‘alternatiewe’ beeld agter gelaat het en hom nie gesteur het aan die ‘nuwe’ ‘alternatiewe’ establishment se norme nie. En dit is duidelik dat Kerkorrel ook andere aangesteek het (soos byvoorbeeld Kombuis, wat in sy jonger jare berug was vir die ‘Ek verpes Bles’ hemp en wat later ’n duet met Els gedoen het – Els was self goed bevriend met Bles en Els het selfs ’n matriekafskeid met Bles se dogter Sunette bygewoon).

 

Maar die anti-establishment word die nuwe establishment. Só was dit met die loopbaan van Jurie Els. Daar was onder diegene wat Els se musiek verag het nét presies die regte mengsel om ’n nuwe anti-Els establishment te laat ontwikkel. Nie op grond van enige iets anders as hul veragting van Els en sy musiek nie nie. Els skryf dit dikwels in hierdie boek dat mense teen hom was. Dit was net nie genoeg om sy musiek te haat nie, hy moes as mens gehaat word. Én hy moes vernietig word. En hy ís vernietig in sekere opsigte.

 

In hierdie opsig is die boek ‘Ver van Vrede’ vir my baie meer as net ’n boek oor Jurie Els. Dit is vir my amper ’n sosiologie boek oor die aard van die mensdom self. Miskien is dit die rede hoekom ek die ding nie kon neersit nie. Dis beslis die rede hoekom ek niemand sal afraai om dit te lees nie.

2 responses to Ver van Vrede – Jurie Els

  1. Ek is tns in die middel van die boek en ek moet se – die Jurie wat so vriendelik voorkom het ook maar ‘n wil van sy eie en maak van party molhope ‘n berg. ek kry die gevoel hy wil te graag die skuld op ander pak en arme Sonja en Patricia. om so agterbaks privaat dinge uit te lap is nie sy plek nie en ek weet nie hoe hy met sy gewete saamleed nie – ons stel nie belang in sy slegmeerdery nie – en juis daarom dink ek het die SA publiek kom nog verder uitgewerk omdat hy so ‘n snitch is. bly maar daar in Australie. die beter vir jou en meer beter vir ons in SA. ONS WIL ONS SA KUNSTENAARS ONDERSTEUN.

    • Dankie vir die lees en kommentaar. Sjoe, ja, maar dan, Sonja was self nie skaam om enige iets oor Jurie te se nie, ook in die media . . .

      Dis snaaks in die lewe dat mense wat trap op andere nooit daaraan dink dat andere kan terugtrap nie . . .

      Vrede vir jou

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>