Avatar of Barend

by

Werksoek is harde werk

December 25, 2012 in Uncategorized

Ek was vir ’n tyd lank in my lewe werkloos. Sonder enige heenkome. Vir ses maande. Om presies te wees. Toe begin ek maar studeer. Meer om my besig te hou seker as iets anders, maar tog met die hoop dat dit my kanse sal verbeter. Eintlik het ek in daai tyd werk gekry maar dit nie gevat nie weens omstandighede. ’n Mens wat in Durban bly wil nie graag hoef Springbok toe te trek nie, en andersom. Tensy jy REGTIG nie maaind om weg te gaan nie. Nietemin. So kry ek toe uiteindelik werk. En ek werk te lekker. Ek werk naderhand al ’n hele jaar lank.

 

En dan kry jy skielik die volgende. Mense loop in jou vas en vra jou, so hoe voel dit nou om bietjie voldag te werk? En as jy dan vir hulle sê jy is gek daaroor, dit is vir jou heerlik, dan reageer hulle met verbasing. En dit is dan ook die vinnigste manier om hulle monde te snoer. Wees net eerlik. Sê net hoe jy dit geniet om nou 40 ure te kan werk. Daar is niks soos die waarheid nie. Want sulke mense is gewoonlik nie besig met enige waarheid as hulle na jou werksbevrediging vra nie. Sulke mense maak dikwels eerder ’n statement. Hulle sê met hulle vraag – ja, jy het mos rondgelê en niksdoen, en nou moet jy ook bietjie hard werk nes die res van ‘ons’, en wat sê jy nou pappie?

 

Maar wat my totaal en al verstom (maar eintlik ook nie so heeltemal nie), is dat mense sommer net aanneem dat jy dit moes geniet het om werkloos te wees. Dat dit een kommervrye, idilliese bestaan van laat slaap en geen worries is nie. Dit is hoekom ek my voorgeneem het ek gaan my nooit, ooit weer steur aan mense wat nog nooit werkloos was nie. As iemand dus met sy/haar aanmerkings begin dan stel ek eers vas of dié persoon ook al werkloos was. Dan vat ek dit van daar af.

 

Dis amper soos mense wat kinders aan die dood afgestaan het. Hierdie een skrywer (sy het later erg opslae gemaak met haar opmerkings teenoor swartmense), gaan so toe eendag en skryf in die koerant dat as mense jonk doodgaan, dan is dit gewoonlik swak opvoeding en dat die kind verkeerd gelewe het. En dit het my arme ma gebreek. Dit was so erg sy het ’n brief aan daardie koerant (Volksblad) geskryf maar nooit weer van hulle gehoor nie.

 

Dit is waar wat Brynard in haar mees onlangse boek geskryf het van ‘die breë register van brutaliteit’.

 

Ek vind dat my swart vriende baie meer simpatiek is teenoor mense wat sukkel om werk te kry. En ek praat nie van hulle aanvaar lui mense nie. Ek praat van hulle openbaar baie groter simpatie vir ’n mens wat sy of haar bes probeer. Ek en my een goeie vriendin het eendag so lank oor die saak gesels. Sy is presies so oud soos ek en was ook ’n hele lang ruk werkloos. Sy ken die hele stresvolle prosedure. Die honderde eposse wat jy stuur. Dit is naderhand so dat as jy die eerste letters van daai epos adres intik waarnatoe jy jou CV wil stuur, dan vul die rekenaar sommer self die res in van die adres. Want dis nie die eerste keer wat jy vir daai mense jou CV stuur nie. Dit is die twee of derde keer, onthou jy nou.

 

En dan is dit die honderde, soms duisende kilometers wat jy aflê vir onderhoude. Ek onthou ek het eenkeer amper 700km gery vir ’n onderhoud, en niks weer van die mense gehoor nie. En self was ek nog nie een keer vergoed vir my onkoste om onderhoude te gaan doen nie. Ek het al daarvan gehoor, maar het dit nog nooit beleef nie.

 

En dan kry jy die teenstrydighede.

 

Die een dag ry ek ook so hele ent na ’n stad. Goeie Christen en ek sit die dag daar en die man sê vir my, meneer van der Merwe, ek het jou maar nou laat kom vir die onderhoud maar eintlik bied jy my nie veel nie. En jy is so geskok maar later is jy woedend. Hoe op god’s aarde laat kom jy ’n mens vir ’n onderhoud as jy nie regtig veel dink van die mens se CV nie? Dit is totaal en al harteloos. Al die moeite om te gaan vir iemand wat jou net vir die pret laat rondry.

 

Dan weer kry jy ’n oproep uit die bloute uit. Nee jirre meneer van der Merwe, kyk net na hierdie CV van jou! Ek kry die ding via ’n oud-kollega van my en kyk net wat jy als al bereik het! Nee jy hoef nie eens ’n onderhoud te kom doen nie jy moet net kom man. Dít het ek ook al beleef. Sommer twee ouens gelyk wat jou nie eens nooi vir ’n onderhoud nie, net sê KOM. (Ek het al presies presies dieselfde ding met navorsing beleef, met een mens wat vir my sê dit is uitstekende werk en ek is ’n knap navorser en die volgende een wat vir my sê dis vrot werk en ek is ’n patetiese navorser – en dit oor presies dieselfde stuk werk)

 

En tussen dit als deur is daar die worries want jy wil nie TE ver van jou familie en ou bekende omgewing af wegtrek nie. Húlle hoop in die stilte jy trek nie te ver weg nie. En jou geld raak op en jy het rekeninge. En asof dit alles nie genoeg is nie, moet jy lewe met die aanmerkings en die vernedering en die minagtende manier waarop jy behandel word deur mense wat hulleself die reg toe-eien om jou te beledig omdat jy nie werk het nie.

 

Maar die mees verstommendste ding vir my is dat daar mense is wat dink dat jy op ’n manier terug sal verlang daarna. Dat dit vir jou ‘lekkerder’ en ‘kommervry’ en ‘makliker’ was toe jy nie werk gehad het nie. Dit is totaal verstommend. Maar miskien moet ek ‘hulle’ ook maar vergewe. Dis gewoonlik mense wat nog nie self ‘dáár’ was nie. Maar dan weer is dit ook gewoonlik die tipe ou wat regtig baie graag ’n kla en kerm buddy in jou soek. Want hy stel tog nie regtig belang in of jy ook nou die 40 uur werksweek as uitputtend ervaar nie, hy wil eintlik net by JOU kla oor hoe swaar die lewe vir HOM is. Maar vir hom om te kan kla soek hy ’n mini-him wat ten minste ook sy eie werk haat. Dis hoekom die gesprek dadelik eindig as jy dan eerlik kan sê jy geniet dit verskriklik om te kan werk…

 

Maar ek het vandag in elk geval besluit dat ek my nie langer gaan steur aan iemand wat nog nie self werkloos was nie. Ek mag miskien nie veel van die lewe beleef het nie, maar ek was al werkloos in die nuwe Suid-Afrika, en dis ’n ondervinding wat, pynvol soos dit was, vir my ’n kosbare ervaring was. Dit is ’n belewenis waaruit jy nie uitstap sonder dat jy wonderlike vaardighede soos o.a. geduld en simpatie vir andere geslyp het nie. Vandag werk EN studeer ek tegelykertyd. En ek het nog nie een keer gekla en gekerm daaroor soos ek daai mense hoor kla wat nog nooit werkloos was nie . . .

 

Ek wil nie by wees as daai ou ooit sy werk verloor nie, maar ten minste sal dit hom iets gee om oor te kla . . .

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>