Avatar of Barend

by

God? Geloof in ’n postmoderne tyd – Ben du Toit

December 17, 2012 in Uncategorized

Soos enige lid van ’n sekte wat sy sout werd is, leef ook ek met die heilige oortuiging dat my eie sekte die heel beste van al die ander sektes is. En dat, in ’n ideale wêreld, al die ander sektes eintlik ‘soos ons’ behoort te wees. Laat ek verduidelik.

 

Net soos so baie ander lede van my eie sekte het dit my ook vreemd opgeval toe die kerk in 2011 besluit het dat lidmate nou kan kies of hulle glo dat daar iets soos ‘Satan’ bestaan. Vir my was dit dalk meer ’n snaaksigheidjie as iets anders, anders as vir, so vermoed/verstaan ek, talle ander lede van my sekte. Ek was daai tyd al ’n blogger hier en het ’n hele tong in die kies ding oor die saak geskryf dat ek nou vir duiwel gaan tata moet sê, hoewel ek, wil ek glo, tog die erns van die saak met betrekking tot spirituele verwarring aangetoon het.

 

Liewe aarde, my pa se generasie het waarlik ALLES gesien. Hulle het grootgeword toe die Bybel nog die ondebateerbare verbatim ‘Woord van God’ was. Satan was ’n werklikheid vir hulle as kinders. Die kans was goed dat as jy ‘sonde’ gedoen het, dat jy met die vreeslikste dinge gestraf sou word.

 

En so het baie van hulle deur die lewe gegaan. Hulle is op jeugdige ouderdom beveel om, in opdrag van God oorlog te gaan maak teen mense wat uiteindelik hulle base sou word en hulle werke sou afvat. En hulle het mense op die maan sien loop en hulle moes leer van dinge soos ‘die internet’ en ‘DNA’.

 

En die Bybel was ’n ander tipe boek in ‘hulle’ jongmensjare as wat dit in my eie is.

 

Selfs toe ‘ons’ nog jonk was, het die dominees probeer om van Satanisme ontslae te raak – nie van Satan nie . . .

 

Dit is vir my veelseggend dat du Toit se boek begin met die hele storie van Copernicus en Galileo. Die baie bekende boek ‘Jesus van Nasaret’ van Sakkie Spangenberg lê ook vreeslik klem op die herinterpretasie van die heelal as die basis van die herinterpretasie van die Bybel. ’n Mens kan seker sê, soos die skrywer van die Johannes evangelie dat, God, deur Jesus,’mens geword [het] en onder ons kom woon [het]’. Dit mag so wees of dit mag nie so wees nie. Dis oop vir spekulasie. Maar een ding wat vandag vas staan, staan bo enige ander waarheid, is dat Galileo, toe hy die eerste keer deur sy teleskoop gestaar het na die geheimsinnige kosmos in die buitenste ruim, dat hy finaal vir God aarde toe gebring het.

 

Dit is geen wonder nie dat die Katoliese sekte só deur die man bedreig gevoel het. Hy het dan die hele geskiedenis totaal en vir goed en vir ewig verander.

 

Ek het, deur hierdie boek van du Toit, vir die grootste gedeelte daarvan vir du Toit leer ken as ’n man van rede. Dit was hier en daar wat ek ’n ander gevoel gekry het. Met dan die heel grootste uitsondering, die heel laaste hoofstuk. Ek het besware teen daardie hoofstuk getiteld ‘Die Heilige Gees (en die kerk)’. Maar eers wil ek hier en daar ietsie belig.

 

Daar was een gedeelte in hoofstuk een wat vir my soooo bitter mooi geskryf is, dat ek bemagtig gevoel het by die lees daarvan. Dit is ’n langerige stukkie maar ek wil graag die hele ding hier herplaas.

 

“Vir baie gelowiges en kerke is daar in die aangesig van die wetenskaplike aanslae op die kerk/geloof maar net één oplossing – om op ’n eenvoudige (en selferkende naïewe) manier terug te val op ’n letterlike interpretasie van die Bybelse gegewens (en die daarop gebaseerde kerklike standpunte). Die Bybel as geïnspireerde Woord van God moet kritiekloos aanvaar word as die oppergesag om uitsprake te maak oor gebeure in die lewe.

Opvallend hier, soos in ’n groot mate ook by die ortodokse gelowige, is egter die feit dat hulle UITERS SELEKTIEF te werk gaan met die gebruik van die Bybel vir bepaalde, absolute, fundamentalistiese standpunte. Hierdie subjektivisme word meestal ontken en nie verreken in die styl van argumentering nie: Terwyl hulle, byvoorbeeld, aanvaar dat die aarde (natuurlik!) rond is en nie plat soos in die Bybel beskryf is nie (is die Bybel nou verkeerd, of nie?), verwerp hulle totaal en al enige moontlikheid van die evolusie van die menseras of moontlike lewe op ander planete in die heelal. Want, so word voorgehou, die Bybel vertel ons tog duidelik dat Adam en Eva die eerste (en enigste?) mense is wat deur God gemaak is en nêrens word daar melding gemaak van ’n ander ‘aarde’ of ander geskape wesens nie.

Terwyl hulle die duiwel en bose magte verantwoordelik hou vir siekte, ellende en rampe, drink hulle tog pille vir hoofpyn (hulle boor nie meer gate in die kop om die bose geeste uit te laat soos die Middeleeuse Christene nie) en gaan dokter toe met verkoues en hospitaal toe vir die behandeling van kanker.” (pp. 37 – 38).

 

Hy skryf verder:

 

“Hier moet ook genoem word dat hierdie reaksie dikwels gekenmerk word deur ’n styl van arrogansie en selfvoldaanheid wat binne eie kring natuurlik uiters positief gewaardeer en met entoesiasme begroet word.” (p. 39)

 

En wie op aarde wil nou nie ‘uiters positief en met entoesiasme begroet word’ nie?

 

Sonder dat hy dit in so baie woorde sê, is dit duidelik dat du Toit ruimskoots van die beginsel van noemenswaardige kontras* in sy teologie gebruik maak. Hy rasionaliseer duidelik sy verstaan van ‘die bose’ in terme van dié beginsel. Volgens du Toit kan ons nie praat van ‘goeie’ dade as die ‘bose’ nie werklik bestaan nie. ‘Boosheid’ is volgens du Toit dus verkeerde keuses, bv. liefdeloosheid, onverdraagsaamheid ens.

 

Daar is ’n interessante stukkie wat hy skryf oor Jesus van Nasaret:

 

“Jesus sou die sonde, volgens die Evangelieskrywers, selfs nog moeiliker en dodeliker maak wanneer Hy verklaar dat selfs al het iemand nog net bepaalde dinge GEDINK en dit nog nie uitgevoer nie (egbreuk en doodslaan), hy/sy reeds daaraan skuldig is en gestraf moet word. Hier moet weereens gewys word op die feit dat Jesus in sy optrede voor die kruisiging nog nie ’n Christelike leer verkondig het nie. Die genadige verlossingsboodskap van die kruisdood en opstanding was nog nie ’n realiteit nie. Dit sou eers deur die skrywers/predikers lank ná die weggaan (“hemelvaart”) van Jesus geformuleer word.” (p.156)

 

Met respek gesê, ek voel anders as du Toit oor hierdie dinge. Ons weet bitter bitter min van Jesus van Nasaret. Die oudste dokumente wat na Jesus se lewe verwys was doodgewone briewe wat Jesus se tweede geslag volgelinge onder mekaar sirkuleer het. Dit was briewe wat nooit bedoel was as heilige geskrifte wat die verbatim woorde van God bevat of selfs deur ’n groter gehoor gelees moes word nie.

 

Maar as daar een ding is wat ek sonder enige twyfel glo, dan is dit dat Jesus van Nasaret ’n HERVORMER was. Jesus het geveg vir groter GEREGTIGHEID.

 

En ek dink nie wat Jesus bedoel het met hierdie opmerkings is dat mense mekaar nie seksueel moet begeer nie. AS JESUS MET HIERDIE DINGE VIR MY WIL SÊ ‘DIT SAL HELP AS JY OPHOU OM MOOI VROUE TE BEGEER’, DAN IS MY BOODSKAP AAN JESUS VANDAG DAT DIT SOU GEHELP HET AS U MY NIE SO SWAK GESKEP HET NIE RABBI.

 

Nee man, bollie. Wat Jesus sê as Hy sê dat ons reeds gesondig het as ons vroue begeer is dat die mens uiteindelik nie enigsins daartoe IN STAAT is om die WIL VAN GOD volkome na te kom nie. Ons is almal feilbaar. Daarom dat Jesus baklei het vir ’n staat van groter GEREGTIGHEID.

 

Die skrywer van MATTHEUS het vir Jesus waar Hy na bewering die volgende gesê het:

 

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar WAT VOLGENS DIE WET VAN GOD DIE SWAARSTE WEEG, LAAT JULLE NA, GEREGTIGHEID, BARMHARTIGHEID EN BETROUBAARHEID.” (Mat 23: 23-24)

 

(Lag lag lag, ek is nou amper lus en sluit hier af soos die dominees op die radio altyd doen en vra ‘wat weeg vir jóú die swaarste liewe luisteraar?)

 

In hierdie verband kan mens ook wys op die woorde van Jesus in verband met die gróótste gebod, naamlik om God en lief te hê, maar dat die tweede wat daarmee gelykstaan is om jou naaste lief te hê soos jouself.

 

Dit is my heilige oortuiging dat ’n Christen wat nie GEREGTIGHEID najaag nie, nie die wil van God ken nie. En geregtigheid is nie waarlik moontlik daar waar liefde tekortskiet nie.

 

Geregtigheid. Dit is dan ook een van die sentrale boodskappe van die Belydenis van Belhar. Die Belydenis van Belhar verskil, so lyk dit my, uiteindelik slegs in een groot opsig van ander belydenisskrifte in die sin dat, waar ander belydenisskrifte dié dinge verklaar wat ons VAN GOD glo, verklaar die belydenis van Belhar wat ons glo wat GOD VAN ONS OP AARDE VERWAG.

 

Dit is daarom geen wonder nie dat Belhar so baie vyande het nie. Want die ware vyande van Jesus, is eintlik maar net die vyande van GEREGTIGHEID.

 

En dit is hier waar ek my grootste beswaar het teen Ben du Toit se boek, spesifiek sy heel laaste hoofstuk. du Toit identifiseer in sy heel laaste hoofstuk nie minder nie as ses verskillende spirituele tradisies wat in die kerk behoort geduld te word. du Toit skets ’n idealistiese beeld van waar hierdie tradisies in harmonie met mekaar kan funksioneer en inderdaad mekaar selfs ‘nodig’ het.

 

Nou ja, ek wil graag glo dat elke mensie kosbaar is. Nee, ek WIL dit nie net glo nie, EK GLO DIT VIR ’n FEIT. Elke mensie is kosbaar en ek kan iets by elke mens leer, maar by bepaalde tradisies kan en wil ek niks leer van hulle verstaan van God(e) nie. Om die waarheid te sê, daar is sekere mense met wie jy liefs nie oor God praat nie. Want hulle stel nie belang in GEREGTIGHEID nie.

 

En DIT is ons roeping in die NG-kerk. Ons moet geregtigheid najaag in navolging van die Nasireër van wie ons ruiterlik moet erken ons nie eintlik veel weet nie. Dit was immers uit die geledere van die NG-kerk wat die heel eerste Afrikanerleiers gekom het om vir apartheid verskoning te vra.

 

Ons was die heel eerste van die Afrikaanse kerke om vroue op die kansel toe te laat.

 

Ons was die eerste om te erken dat die Bybel ’n verdagte versameling van geskrifte is wat nie as ’n wetboek of geskiedenisboek gebruik moet word nie.

 

Ons was die eerste kerk wat ek van weet wat gay leraars toegelaat het tot die bediening (mits hulle natuurlik selibaat bly).

 

En ek glo die dag sal kom dat ons gay mense onvoorwaardelik gaan aanvaar.

 

Miskien moet ek afsluit met ’n storie. Ek was deel van ’n selgroep van my sekte. Toe ek agterkom dat die leier van hierdie selgroep ’n medikus was, was ek alreeds skrikkerig. Dit is nie dat ek voel dat ’n medikus nie ’n Christen of ’n leier in die kerk of enige so iets moet wees nie. Dit is net dat ek uit ervaring weet dat sulke mense dikwels ’n baie vereenvoudige beeld van die antieke wêreld het. Die Bybel is dan ook dikwels die enigste boek wat sulke mense al oor die antieke wêreld gelees het en gevolglik toon hulle weinig tot geen insig in die aard van bepaalde literatuursoorte nie en is lief om die Bybel as ’n tipe wetboek aan te wend.

 

By hierdie selgroep is daar van my verwag om te glo dat daar ’n “regte egte boom van goed en kwaad” was in die tuin van Eden.

 

As ek daai dag nie geseënd was met die wondelike geleenthede wat ek al in my lewe geniet het nie, dan het ek saamgespeel. Dan het ek ook getrap, so hard soos ek kan, op ‘anders denkendes’.

 

Dan het ek ook my gat afgevee aan geregtigheid.

 

Ons het ’n roeping in die NG kerk. Dat ons verwerp gaan word in die toekoms deur ander Christen sektes is ’n uitgemaakte saak. Dat daar stemme gaan wees wat ons huis verlaat, daaroor bestaan daar geen twyfel nie. Maar ons kan nie en mag nie ophou baklei vir geregtigheid nie. Ons moet GEREGTIGHEID soek in elke ding wat ons doen en dink.

 

DIT is wat Jesus van ons sou verwag.

 

* Die beginsel van noemenswaardige kontras kan opsommend as volg beskryf word: Indien ’n verskynsel enigsins as ‘waar’ beskou wil word, dan moet die teenoorgestelde van daardie verskynsel ten minste ’n MOONTLIKHEID wees. Bv. As ek sê dat ek my ouers se ‘mooiste seun’ is terwyl ek nie enige broers het nie, dan sê ek eintlik niks.

2 responses to God? Geloof in ’n postmoderne tyd – Ben du Toit

  1. Interessante blog. Hou van jou gedagtes oor geregtigheid. Soek bietjie @Church4Justice op op Twitter en kyk waarmee NG lidmate besig is oor geregtigheid

    • Twitter is vir my bietjie deurmekaar louis. Ek is en bly ‘n groot supporter van kerkmense, en ja selfs van die kerk, is immers steeds ‘n lidmaat, al is ek onaktief en nie meer ‘n Christen nie. Ek dink baie van wat die kerke doen is wonderlik.

      Dankie vir die kommentaar. Ek blog lankal nie meer hier nie maar by die Afrikaanse opinieplatform:

      http://www.opinieplatform.co.za

      Vrede vir jou.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>