Avatar of Barend

by

Sing bliksem sing

December 16, 2012 in Uncategorized

Dit is nie die grootste geheim dat ek nie veel van Kersfees dink nie. Daar is ’n verskeidenheid van redes hiervoor wat wissel van meer rasionele redes (soos innerlike oortuiging gebaseer op historiese bronondersoeke) tot die meer irrasionele redes (soos slegte ervaringe met Kersfeeste en ’n algemene weersin in verskeie Kersfees praktyke bv. ‘wie kry hierdie jaar die kinders’ ens.). Maar omdat ek myself as ’n mens van sin en rede sien, is dit nie vir my onmoontlik om sekere eienskappe aan Kersfees raak te sien wat my ook tog die fees in ’n mate laat waardeer nie.

 

Vir my is die heel beste eienskap van Kersfees die manier hoe die Christelike musikale erfenis opnuut gevier word deur al die onderskeie sektes van dié godsdiens. In my eie sekte kan ek uitsien na die sing van onder andere ‘Stille nag’ en ‘Somerkersfees’. Dit is ’n absolute voorreg om die verlede in sulke tekste te kan inlees. Die lied ‘Stille nag’ is natuurlik oorspronklik vir kitaar geskryf nadat die betrokke gemeente se orrel gebreek het.

 

‘Somerkersfees’ van die bekende liedjieskrywer Koos du Plessis, is natuurlik die grootste viering van wat dit beteken om ‘Christen’ binne die Suid-Afrikaanse konteks te probeer wees. du Plessis het met ‘Somerkersfees’ ’n unieke Afrika interpretasie van dié fees gegee, wat dikwels meer spreek tot mense van hierdie land as die tipiese simboliek van die Westerse lande waarbinne die meeste ‘tradisionele’ kersliedere ontstaan het.

 

Dit is vir my ongelooflik hoe die mens se geloof/ongeloof/twyfel in God(e) ons kan dryf tot musikale meesterstukke. Dit is vir my ook wonderlik as verskillende tradisies mekaar se kuns kan waardeer, al stem hulle nie noodwendig saam nie. Waar die ongeloof ter sprake is as inspirasie vir kuns, is daar vir my steeds min liedere wat kan kersvashou by John Lennon se lied ‘Imagine’. Dit is veral daai aangrypende openingsreëls wat maar net bly spook by mens:

 

“Imagine there’s no heaven

It’s easy if you try

No hell below us

above us only sky”

 

Maar daar is ook, soos ek reeds aangedui het, kuns wat handel eerder oor ‘onsekerheid’ as oor ‘ongeloof’. Mens kan seker hierdie tipe kunswerke as ‘agnostiese’ kuns beskou. En van hulle is tekste wat jou ook met groot bewondering laat. Die Amerikaner Billy Joel is een so kunstenaar wat ’n enorme treffer gehad het met so ‘agnostiese’ lied, gelaai met hope en hope Bybelse simboliek. Dit is ’n teks wat ek nie anders kan as om te bewonder nie. Om die waarheid te sê ek dink dit sal goed wees as die ding gekanoniseer kan word. As ons tog liedere oor die seksuele kan kanoniseer (soos in die boek Hooglied), hoekom ook nie ook ’n ode aan die twyfel nie?

 

Ek wil graag enkele gedeeltes van hierdie lied getiteld ‘River of dreams’ uitsonder:

 

“In the middle of the night

I go walking in my sleep

From the mountans of faith

To the river so deep

I must be looking for something

Something sacred I lost

But the river is wide

And it’s too hard to cross”

 

Hoe belangrik is die idee van die ‘rivier’ tog nie in spesifiek Christelike simboliek nie? Moses het die Israeliete ‘deur die rivier’ gelei. Jesus is gedoop in ’n rivier. En vandag nog sing ons liedere soos ‘across the bridge’. Vir so baie mense is hulle geloof nog die ding wat vir hulle ’n brug oor ‘die rivier’ is.

 

Maar die spreker in die bostaande teks is nie selfvoldaan nie. Hy (kom ons veronderstel die verteller is ’n man) erken eerder hy kon nie hierdie ‘sprong’ maak nie. In die donkerste nag selfs, waarskynlik ’n verwysing na ’n swaar tyd, toe hy sy geloof langs die pad verloor het, kon hy dit nie terugvind nie. En dit is tog asof dit vir hom negatief is dat hy nie daarin slaag om die verlore hoop weer terug te kry nie. Dit is asof tog gehoop word dat iets van hierdie verlore geloof eendag teruggevind sal word. Dalk weer die ‘onskuld’ te kan herwin. Dalk voel hy selfs sy ongeloof is ’n ‘swakheid’. Want so sing hy verder:

 

“I don’t know why I go walking at night

but now I’m tired and I don’t want to walk anymore

I hope it doesn’t take the rest of my life

Until I find what it is I’ve been looking for”

 

Hy sien sy ongeloof nie as die resultaat van die tekortkominge van enige geloofsisteme nie, maar skynbaar eerder as tekortkominge binne homself. Miskien is die reëltjie ‘something so undefined’ tog ’n stukkie kritiek teen geloofsisteme, maar dat God wel bestaan, dit glo hy kan nie anders nie:

 

“I know I’m searching for something

Something so undefined

That it can only be seen

By the eyes of the blind

In the middle of the night”

 

Slegs die blindes sal in die nag sien. Dít glo hy. En om dít te kan glo veronderstel jy seker dan ook dat daar wel iets is óm te sien. Maar dit bly ontwyk, ontwyk, ontwyk. Maar uiteindelik is daar tog ’n tipe ontwikkeling by hom. Dit kom in die skynbare besluit om te stagneer. Want hy maak vrede met homself. Hy aanvaar hy sal waarskynlik nooit glo nie, en hy aanvaar terselfdertyd dat hy ook nooit sal ophou leef met die onsekerheid in sy hart oor of daar nie tog dalk iets groter aan die lewe is nie. Hy maak vrede dus, met beide sy geloof én sy ewig teisterende twyfel in sy eie geloof:

 

“I’m not sure about a life after this

God knows I’ve never been a spiritual man

Baptized by fire, I wade into the river

That is runnin’ through the promised land”

 

Ek het die woord ‘wade’ gaan opsoek en my soektog het twee definisies opgelewer wat beide daarop dui dat die woord daaroor gaan dat dit behels om teen ’n stroom of teen ’n tipe weerstand in voort te moet loop. In die geval van hierdie lied is dit natuurlik ’n innerlike weerstand wat ter sprake is. En hoe belangrik is ‘stap’ nie ook in ons Christelike (sowel as Judaistiese) simboliek nie? Die ‘volk’ het immers deur die woestyn ‘gestap’. Maar hulle moes hierdie fisiese woestyn oorsteek om uit hulle eie innerlike woestyn bevry te kon word.

 

Kunswerke wat uit die spirituele ervaringe van mense ontstaan is dikwels van die mees interessantste kunswerke wat daar is, ongeag uit presies watter tradisie hulle spruit.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>