As die nag jou omring
December 14, 2012 in Uncategorized
Die ander dag, toe sê my vriend, nee man, Barentino, hoekom is mense so hartseer as mense doodgaan? En ek ken hom nie as ’n man wat die Bybel by alles insleep nie, maar dié dag beginne hy praat oor die Bybel en hy sê nee, is dit dan nie so nie dat die Bybel sê ons moet bly wees oor die dood nie?
En ek het dadelik geweet wat hy van praat. Hy het gepraat van die boek Prediker, waar hierdie dinge inderdaad staan. Wel, dit sê nie presies ons moet juig as mense sterf nie. Maar wat dit sê is, soos PavanBarend altyd sê – die ou wat heen is, hy het dit die maklikste. Vir hom is daar nie meer bekommernisse nie.
“Toe het ek gedink dié wat klaar dood is, is gelukkiger as dié wat nog lewe, maar die gelukkigste is dié wat nog glad nie gebore is nie en nog nie al die onreg gesien het wat op hierdie wêreld gedoen word nie.” (Prediker 4: 2-3)
Al die onreg. Al die vervreemding. Al die seerkry. Al die stukkend.
Nie lank daarna lees ek bietjie ou vergete uitgawes van “De Goede Hoop”. Ek het al dikwels voorheen geskryf dat ons ons voorgangers se geloofsywer gereeld oorskat. Die mense van die ou tyd was maar dikwels baie soos die mense van vandag. Hulle het ook maar dikwels alle hoop verloor. Hulle het maar dikwels geleef asof daar geen iets is waarop hulle vas kan staan nie.
Net soos wat die mense van die Bybel nie almal eenders geglo het nie, en ook maar dikwels getwyfel het, so was dit maar deur al die eeue. Is dit nie een van die mees gerusstellende gedagtes nie? In “Die laaste kus” sien ons duidelik hierdie morbiedheid wat die mens soms oorval en totaal en al insluk Hier is geen sprake van die hoop wat mens in Johannes 11: 25-26 vind nie. Hier is net donker en die dood. Erger, dit is asof God self nie ‘is’ daar waar hierdie ‘laaste kus’ afspeel nie:
Geneem uit ‘De Goede Hoop’, 15 Februarie, p. 297
Die laaste kus
Stadig, statig en moedig,
Daal die son oor die westerkim,
Sy werk vir die dag is geëindig,
En die nag begin alles omring
Dié nag, waarin droefheid en smart,
Die oorwinning het gevier;
Dié nag, waarin bande van liefde,
Moes verbreek word deur dood se seëvier.
Trane van innige droefheid,
Die biggel langs elke wang:
Want deur onverbiddelike wreedheid,
Het dood ons liefste erlang.
Haar son het ook ondergegaan,
Die nag het haar ook omring;
En met worstende wreedheid,
Het die gees haar liggaam ontwring.
Na bande van liefde verbreek was,
En terwyl sy vir laas nog snik;
Is ’n kus, deur innige liefde,
Op die koue lippe gedruk.
C.J.A. Smit
Dullstroom
Jan., 1929
Hoe sal dit wees om alles wat jy geleer het te kon vergeet? Om weer ’n ‘kind’ te word? Om liefs weer in die drome van onkunde en eenvoud te verval? Dit is wat die volgende skrywer skynbaar na smag. Maar sy smag bly hom skynbaar aanhou ontwyk, dalk net soos die een aan wie hy die skrywe gerig het?
Uit: Goede Hoop, 15 Januarie 1929, p. 280
Aan Ella
Og kon ek so onskuldig wees
soos ’n kindjie klein en teer
wat die liefde van sy moeder leer
deur slegs, onnosel nog, te glo.
Og kon ek so onskuldig glo
en Jesus onse Heer
vertrou geheel en altyd meer
opreg bemin en eerlik vrees.
Maar ag . . . ek kan nie, hoe ek wil,
die kennis val my swaar
dit breek die saalge rus en stil’. . .
dis hard, maar ag, dis waar
Morgenson, Tvl., Arnoldus
22 Nov., 1928

Recent Comments