Profile photo of Barend

by

,

December 13, 2012 in Uncategorized

Hierdie hele saak van die verpleegkundige wat skynbaar onlangs selfmoord gepleeg het, het my totaal verwar. My heel eerste instink was dat ek gevoel het dat die radio omroepers nie blameer kan word vir die hele nare insident nie. Maar toe ek die stroom van kritiek teen die twee here sien, toe begin ek wonder, het my oordeel my nie in die steek gelaat nie? Is hulle nie tog maar verantwoordelik vir wat gebeur het nie? Miskien is ek verkeerd. Ek maak heel dikwels oordeelsfoute. Ek is maar net ’n feilbare mensie.

 

Maar toe lees ek koerant. En nie een of ander fênsie berig nie. Sommer net ’n brief. Van ’n man (kon dame ook gewees het). En toe gaan die lig aan vir my.

 

Selfmoord is en bly nou maar net ’n saak wat gemeenskappe traumatiseer. In hierdie spesifieke geval is sommer mense reg oor die wêreld getraumatiseer.

 

Dit is inderdaad waar wat ek mense soms hoor sê: daar bestaan nie iets soos ‘pynlose selfmoord’ nie. Selfmoord is een van die grootste aanklagte teen die samelewing. Dis ’n verskynsel wat ons almal traumatiseer. Wat ons almal (dalk nie ALMAL almal nie, maar baie mense darem) tot selfondersoek dwing.

 

Self is ek nie bang vir doodgaan nie. Ek is bietjie bang vir ’n pynlike dood. Maar die ironie is dat, die manier hoe jy sterf is soms die ding wat die meeste ‘pyn’ veroorsaak. Sterf ek more in die straat op pad werk toe, dan behoort meeste mense wat my geken het oor die saak te kan kom en aan te gaan met hulle lewens. My ouers sal die swaarste kry. Want ek het al gesien wat die dood van ’n kind aan ’n ouer doen. Sommige mense herstel net nooit ooit weer van iets so verskriklik nie. En dit is beslis soos die spreek lui dat ‘kinders behoort ouers te begrawe en nie ouers kinders nie’. Dit is ‘onnatuurlik’ het ek my pa al hoor sê as hy van my oorlede suster praat. Dit ontwrig die natuurlike verloop van die lewe. Maar skiet ek myself, dan gaan die samelewing waarskynlik ietwat langer neem om te herstel.

 

Maar hoe op aarde kan ’n ou wat op ’n ander kontinent bly verantwoordelik wees vir die dame se dood? Mens sou sweer hulle het ’n sneller getrek of iets. Of dat hulle GEHOOP het dit als gebeur.

 

Nou ja, daar is een ding wat ek dink wat wel waar is, en dit is dat hulle dalk moes toestemming gevra het om die spesifieke ‘grap’ te gebruik. Ek sien in die koerante dat die legendariese Oh Shucks ook kritiek uitgespreek het. Volgens Leon het hierdie ouens beslis die gesonde perk oorgesteek. En hy is miskien reg. Ek meen, Shucks is bekend daarvoor dat hy mense toestemming vra om die poetse te gebruik.

 

Maar die ander kant van die saak is dat, met die dat dit die koninklike familie was, is daar waarskynlik geen, maar geen manier wat die koninklikes dit sou goedkeur nie. Dit sou net nooit gebeur het nie. En daarom is die hele storie net so nare sameloop van dinge wat niemand kon voorsien het nie. Godweet, slegte dinge gebeur soms net. Hoe baie mense pleeg nie selfmoord nie? Hoe dikwels is dit nie maar oor samelope van dinge wat doodgewone mense doen nie? Ek wonder soms of ek nie self ook al indirek bygedra het tot iemand iewers se selfmoord nie. Dalk het ek iewers in ’n ry by ’n poskantoor gestaan en met ’n vreemdeling gesels, en ’n volgende ou het ons gesprek gehoor en gehoor hoe kritiseer ek sý bank of iets in wat heilig is in sý lewe, en toe was dit net die heel laaste strooi wat hom oor die drumpel gestoot het. Hoe sal ek weet?

 

En kan ek in so geval ‘kwalik’ geneem word?

 

Nee wat, regtigwaar. Hierdie ding van globalisasie word nou regtig belaglik. Hoe kan jy iemand blameer vir die selfmoord van ’n ander mens terwyl die onderskeie mense nie eens op dieselfde kontinent was toe die moord plaasgevind het nie?

 

Ek is seker iemand in my eie woonbuurt het al selfmoord gepleeg, en as ek dalk net ’n minuut langer met hom gesels het daai keer toe ons toevallig saam in die tou by SPAR gestaan het, dan kon ek dalk iets gesê het wat sy gemoedstoestand kon verander het en die selfmoord verhoed het. Beteken dit nou ek is ’n moordenaar?

 

Sy kon netsowel in ander omstandighede selfmoord gepleeg het (as dit ooit selfmoord was, ek weet nie self op hierdie stadium presies wat die ondersoek bevind het en selfs of dit al afgehandel is nie). Wat dan? Wat as die omstandighede anders was? Wat as haar baas haar gefire het oor die hele saak? Wie het ‘ons’ dan verwyt? Die baas?

 

Hoe dikwels gebeur dit nie dat mense hulle jobs verloor oor terloopse opmerkings op Twitter nie? Ek is seker Twitter moes al tot iemand se selfmoord gelei het? Wie blameer ons dan?

 

Dit is algemeen bekend dat Facebook tot talle egskeidings lei. Wie se skuld is dit?

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>