Avatar of Barend

by

Ons kort diverse vaardighede vir ons oorlewing

December 12, 2012 in Uncategorized

Een van die interessantste interpretasies van Suid-Afrika se tersiêre stelsel het ek onlangs gelees. Van ’n man teen wie se skryfsels ons al hewige besware gehad het hier by die Barend van der Merwe blog. Maar dit is soos die gesegde mos lui – aanhouer wen.

 

Ek wil baie graag aansluit by Johan. Universiteite is ’n uiters belangrike deel van ons samelewing. Jy kry hierdie verskynsel in die lewe. Mense kies altyd die ‘beste’ dit of die ‘beste’ dat. So kry jy ’n lys met die sogenaamde ‘beste’ universiteite. Asof die goed range het. Dit terwyl elke liewe universiteit ’n unieke gemeenskap dien met sy eie unieke (en ewig veranderende) behoeftes. Net soos elke skool. Wat beteken die ‘grênd’ universiteite van die wêreld, soos Oxford, Princeton, Cambrigde en die Sorbonne en dies meer (so wonderlik soos die plekke sekerlik is) vir die mense op sê Mier?

 

Maar nee, ons kies mos altyd die beste dit en die beste dat. Ons kies tot so ding soos die ‘mees begeerlikste vrou’. Hoe belaglik.

 

En so het dit ook gekom in Suid-Afrika dat sekere beroepe ’n hoër status as andere het. Nou ja, dit is seker in beginsel nie verkeerd nie. Maar wat jammer is, is dat ons in ’n wêreld sit waar mense tog te graag op mekaar neersien. Dié verskynsel is so oud soos die berge. Dit is baie goed gedokumenteer en ek het al voorheen hieroor geblog (en daarom gaan ek nie weer voorbeelde uit die literatuur opdiep nie).

 

En dit is hier waar Johan tog een groot blaps maak in sy oordeel (hoewel ek steeds die grootste lof vir sy stuk het).

 

In die afgelope naweek se Rapport vind mens ’n baie interessante stuk deur die onderwyskundige Dr. Elsabe Pepler. Skryf dr. Pepler “Meer as 60% van studente aan tersiêre instellings voltooi nooit hul kursus nie”.

 

En dan skryf dr. Pepler verder en sy gebruik ’n kritiese kritiese belangrike woord – ‘selfkennis’. In die woorde van dr. Pepler:

 

“Talle studente vertel my dat hul ouers dikwels die besluite oor hul beroepskeuses namens hulle neem. Vir sommige was hul beroepskeuse verkeerd weens ontoereikende inligting en selfkennis”.

 

Maar die stelsel wat ons ontwerp het beloon nie onafhanklike kritiese denke nie. As jy onvoorwaardelik in die kerk aanvaar wil word, dan beter jy nie vrae vra nie. Sommer net als glo wat gesê word. En so is dit ook met jongmense. Hulle word groot met stereotipes van mense. Van werke. Van geld. Van wat is waardevol. Van al die steriotipes wat my eie geslag maar mee groot geword het (sien in hierdie verband spesifiek die titel van my vorige plasing).

 

Die punt wat ek maak is dat universiteite onnatuurlik verafgod word in hierdie land. Die doel van ’n universiteit is om die gemeenskap in die breedste sin moontlik te dien. Die universiteit is nie ’n doel op sig self nie. Want net soos die kerk is die universiteit se mandaad ook gewortel in die behoefte van die gemeenskap.

 

Skryf dr. Pepler: Vergeleke met ’n akademiese personeelkorps wat in meeste ander lande (selfs in Afrika) rondom 75% doktorsgrade het, het slegs 34% van Suid-Afrika se personeelkorps ’n PhD – een van die laagste syfers ter wêreld. Sportafrigters se salarisse het van 1985 met 650% teenoor onderwysers se 32% toegeneem.

 

Ons moet versigtig wees as ons ‘minder’ PhD’s begin bepleit. Navorsing is een van die mees belangrikste dinge op aarde. Want daarsonder sal ons stagneer. Ons kort doktorsgrade en ons kort dit gereeld. Hoe meer hoe beter, want die wêreld is altyd aan die verander.

 

Wat ons benodig in Suid-Afrika is ’n sisteem wat meer gebalanseerd is. Ons kort dat ons onderwysers (wat uiteindelik die mense is wat daardie studieleier se kandidate brei), dat hulle weer die status en waardigheid sal geniet wat hulle eens op ’n tyd gehad het.

 

Ons benodig voorts ’n uitgebreide studie na die aard van Suid-Afrika se universiteite se uitsette. Verander die navorsing wat wel plaasvind die wêreld waarin ons leef? Of is dit maar dikwels, soos wat Johan beweer, eerder ’n kwessie van statistiek, van hoeveel PhD’s deur die sisteem gejaag kan word en hoeveel akademiese artikels?

 

Maar bowenal benodig ons dat die universiteit weer ’n gesonde plek in die samelewing sal opneem, want wat tans aan die gang is, is als behalwe gesond. Ons het eens dinge gehad soos ‘kolleges’ – plekke wat kritiese vaardighede op massaskaal kon versprei. Verál in beroepe soos die onderwys, maatskaplike werk en verpleegkunde. Dit het eens op ’n tyd so gewerk dat ‘universiteite’ op die nuwe navorsing gefokus het terwyl die ‘kollege’ en die ‘tegnikon’ gemoeid was met die oordrag van vaardighede, veral praktiese opleiding.

 

Maar SO erg is die ‘universiteit’ skynbaar verafgod dat die ‘kolleges’ opgeslurp is deur die universiteite (sedert 1994 MOET elke liewe onderwyser deur die ‘universiteit, en, kan mens vra, het die onderwysstelsel verbeter?). Dit terwyl die ‘tegnikon’ sy naam verander het na ‘sentrale universiteit van tegnologie’ met ’n sterk klem op navorsing (in navolging maar van die universiteit).

 

En so begeer almal lyk dit my om universiteitsprofessore te word, en plaas die samelewing druk op mense om almal deel van die ‘akademie’ (in Johan se woorde die ‘worsstopper’) te word. En die resultaat is dat ons as ’n samelewing se vaardighede al minder en minder diversifiseer. Ons wil almal dieselfde wees. En die uiteinde is dat net enkeles ‘bo’ uitkom, en, natuurlik, die ander uiteinde is dat universiteite dikwels nie daarin slaag om presies dit te doen wat hulle veronderstel is om te doen nie, naamlik om die gemeenskap in die breedste sin van die woord te dien nie. Want die ou wat uiteindelik ‘bo’ uitkom, verkies dikwels eerder om sy posisie te beskerm as om navorsing te lewer wat die samelewing uitdaag (dit is amper net menslik, gegewe die kompetisie).

 

Doktorsgrade moet gebore word uit die behoeftes van die gemeenskap in die breë, NIE UIT DIE BEGEERTE VAN INDIVIDUE OM PROFESSORE TE WORD NIE.

 

As ons hierdie beginsel volg, dan sal verskeie dinge gebeur. Ons sal:

 

1. Minder mense he wat nie hul studies voltooi nie.

 

2. Minder proefskrifte he wat, soos die gesegde lui, ‘stof opgaar’.

 

3. Meer mense he wat navorsing onderneem, nie met die oog daarop om spesifiek ’n “baan” in die akademie te volg nie, maar mense wat in verskeie ander beroepe verkeer en spesifieke behoeftes identifiseer het waaroor navorsing dringend nodig is.

 

4. Meer mense he by ‘tegniese’ instellings waar hulle tot hulle volle reg sal kom en sal ontwikkel in produktiewe mense wat hulle land sal dien (Oor die onnodige konflik tussen ‘akademie’ en ‘tegnies’, sien L. van der Linde “Akademies vs tegnies’ in Vrouekeur, 7 Desember p. 20 -21)

 

Ons kort twee dinge in Suid-Afrika. Ons kort groter selfkennis en groter balans. Dit is onaanvaarbaar dat universiteite so onnatuurlik verafgod word. En dit is onaanvaarbaar dat mense so dikwels op mekaar neersien.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>