Avatar of Barend

by

The more things change . . .

December 11, 2012 in Uncategorized

Nee kyk, as jy wil geldmaak, geld soos bossies, geld soos wat jy nog nooit in jou lewe gehet het nie, dan kort jy uiteindelik net een ding, en het ek net die vertrekpunt wat jy soek. As jy wil geld maak, vergeet van harde werk. Vergeet van kwalifikasies. Vergeet van beleggings en geldmaak schemes. Vergeet van aandele. Vergeet dit.

 

Daar is iets veel kragtiger as al hierdie dinge. En dit is die menslike brein. Meer spesifiek ons vermoë om vrese uit te dink oor dinge wat nie regtig bestaan nie.

 

Ek kan ongelukkig nie vir mense die presiese presiese konsep gee om ryk te word nie. Net die beginsel. En die beginsel wat jou die vinnigste ryk gaan maak, is jou medemens se vrese.

 

Wie was die heel grootste martelaars ooit? Dit is onsself. Ons eie breine.

 

Ek hoor eendag hierdie ware verhaal. Daar was ’n trokdrywer. Hy het vir jare en jare en jare trokke gery. Sy vrou was vir jarre der jarre bang hy sterf in ’n ongeluk terwyl hy die trok dryf. En toe tree hy af en toe? Hoe sterf hy toe uiteindelik? Hy word as voetganger raakgery.

 

Die ding waaraan ‘sy’ nooit gedink het nie. Al die vrese wat ‘sy’ vir jare uitgedink het, die het toe nooit gebeur nie.

 

Daar is verskeie bedrywe wat gebou is op mense se vrese. Dink maar aan die mediese fonds bedryf. Daar is mense wat nooit ooit siek word nie. Maar hulle betaal. Daar is die versekeringsbedryf. Ook gebou op die menslike vrees.

 

Indien die mens nie oor die vermoë beskik het om konseptueel te dink nie, dan het miljoene mense vandag geen job gehad nie.

 

Man, maar eintlik doen amper almal dit. Ons speel die vrees game. Die Johannes Coesee sekte het dit gedoen. Die NG sekte het dit vir eeue gedoen (deur Satan en die hel te propageer). Die Katoliese sekte het dit vir millenniums gedoen (doen dit waarskynlik steeds vir al wat ek weet).  Maar Satan het beslis nie meer die sentrale plek wat hy jare gelede gehet het in ‘my’ kerk nie.

 

’n Mens moet dalk net van die Johannes Coesee sekte sê –húlle was opreg. Coesee en sy meelopers het daai tyd als verkoop soos ek verstaan. Hulle het nou regtigwaar kaalgat uit die deal gestap. Anders as hierdie ouens wat die sogenaamde 2012 einde van die aarde ding uitgedink het. Miskien was die voorgangers in my eie kerk ook waarlik opreg toe hulle vir eeue die ‘hel’ verkondig het. Dalk self maar die slagoffers van leuens.

 

In elke geval, as daar een ding is wat al hierdie ‘einde van die aarde’ mense almal in gemeen het, ongeag wie hulle nou is of was of nie is nie en nie was nie (Christen, Protestant, ongelowig ens. ens. ens.), dan is dit dat hulle almal het die datum van die einde van die aarde verkeerd voorspel. Die laaste een was verkeerd. En daar was baie. Een wat ek spesifiek aan kan dink was ene Hal Lindsey, ’n Amerikaanse evangelis.  Dié het sy teorie spesifiek gebaseer op die woorde van Jesus van Nasaret in die evangelies, waar Jesus sê dat wanneer Israel se diaspora weer herenig word, dat daardie ‘geslag’ die ‘einde’ sal sien. En toe moderne Israel in 1948 tot stand kom, toe bereken Lindsey dat ’n ‘geslag’ in die Bybel presies 40 jaar verteenwoordig. En toe skryf hy sy topverkoper waarin beweer word dat die mensdom nie 1989 sal sien nie.

 

En toe eindig kommunisme in 1989, om alles te kroon. En Mandela stap nie lank daarna nie vry rond. En ’n nuwe era begin, in plaas daarvan dat alles ‘eindig’, soos wat die prediker gewaarsku het.

 

Sy topverkoper. Hy het sy topverkoper verkoop met die Bybel onder die arm. Hy het valshede versprei in die naam van God. En DIS wat mense van Hal gaan onthou as hy eendag heen is terwyl die aarde nog staan.

 

Hierdie mense van die sogenaamde 2012 einde van die aarde faam het ook goed verkoop soos ek die ding verstaan. En ’n mens se waarde word mos dikwels gemeet aan die dikte van jou beursie in hierdie wêreld, of wat praat ek alles. Mens kan seker dus sê dit is ‘suksesvolle’ mense daardie.

 

Ehr, miskien kan ons eendag ’n wet maak wat bepaal dat, waar die einde van die aarde ter sprake is, dat ons eerder sal staatmaak op mense wat ’n formele studie van die astronomie gemaak het, in plaas van outjies wat hulle ‘bewyse’ op die kortgolf bekom of op hulle eie gebrekkige interpretasie van die verdagte geskrifte wat die woorde van Jesus van Nasaret vasgevang het.

 

Maar aan die ander kant, miskien moet ek nie self so wet bepleit nie. Miskien moet ek eerder iemand gaan soek wat die antieke geskrifte van die een of ander verlore volk of nasie bietjie ken. Dan werk ons ook saam aan so projekkie.

 

Ongelukkig is my eie kennis van die antieke wêreld hopeloos beperk. Ek bestudeer die antieke wêreld waarskynlik meer as die gewone mens, maar my eie studies kan uiteindelik alles teruggevoer word na my belangstelling in die lewe van Jesus van Nasaret.

 

Wat ek dus kort is ook so ding van die Maya kalender wat gaan eindig. So ietsie. Ek dink ek sal die tekste kan skryf. As een of ander slimkop my net van die materiaal voorsien. Dan kies ons ook ’n datum. Maar verkieslik vér in die toekoms. Dalk iets soos 2025. Dan begin ons ’n webtuiste. En ons het boeke. En DVD’s. En ‘survival kits’. OORLEEF 2025!!!

 

En as 2025 dan kom, en die aarde eindig nie (soos wat ons eintlik in die geheim weet dit sal nie), dan verdwyn ons net. Met al daai geld van die DVD’s en die boeke en so aan en so aan. Dan verdwyn ons ook in Meksiko, of Brasilië, net soos in die movies . . .

 

Is daar enige iemand wat my vennoot wil wees?

 

(Maar wat is die een enkele ding wat jy kort as jy gou wil ryk word? Die ding wat ek van praat in my eerste paragraaf? – Jy moet net geen gewete he nie. Dis al.)

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>