Avatar of Barend

by

Rondom die Christelike tydskrifwese

December 10, 2012 in Uncategorized

Oei, hierdie storie in die onlangse Vrouekeur van die vrou wat haar drie dogters binne drie jaar verloor het, elke keer op die dag voor Kersfees, 24 Desember, drie jare, drie dogters. Dit spook by mens. Ek dink dit is goed dat verhale soos hierdie vertel word. Dat ons meer nugterder kan raak in ons geloof. Meer eerlik. Minder geloofsdronk. Ek is amper so sat van geloofsdronk mense soos wat ek vir vrot regerings is. Maar die regerings wen. Net-net maar hulle wen. Ek is meer sat vir hulle.

 

Ek moet sê die Vrouekeur is waarlik ’n indrukwekkende publikasie, na my mening, die beste in sy mark. Ek maak soms ’n informele studie van ander Christelike tydskrifte. Dan loop ek by die rak verby en kyk na die voorblaaie. Daar is hierdie een publikasie. Laat ek maar liewer geen name noem nie. Ek dink dis beter as mense nie weet dit is die ‘JOY’ tydskrif waarvan ek praat nie. En dan sê dit ‘Where are all the Christian men?’

 

Sug. Dan wonder ek so in my stilte. Wat presies beteken so ’n titel? Wat kwalifiseer vir DAARDIE skrywer as ‘Christen’, en meer spesifiek ‘Christen man’? Want die Here hoor my (hopelik) ek is vir baie baie ander mense nie ’n Christen nie. Ongeag wat ek self van myself glo.

 

Hierdie amperse verwytende gees wat ek in die opskrifte van sommige Christelike tydskrifte bespeur, laat my dink aan die dinge wat so tyd gelede met my op die wêreld wye web gebeur het. Ons leef mos nou in ’n era waar alles kits is. Jy druk ’n knoppie en daar lees die ou in Rusland jou woorde. Daar is selfone. Daar is vliegtuie. Daar is pille vir als. Jy sluk die pil en jy’s weer die bul. En so is daar dan ook die belofte van vriendskap en geselskap wat die web soms vir jou voorhou. Kitsvriende. ‘Start chatting now!’ Maar waarlik, mens moet oppas vir ‘die web’ as jy nie self in een of ander web wil beland nie…

 

So besluit Barend toe mos nou om enersdenke mensies op die web te probeer opspoor. Vir geselskap en so sien. En wat is die logiese keuse? Huisgenoot pasmaats natuurlik. Dis Afrikaans mos. Jy registreer en dan beskryf jy jouself. Dan druk jy net ’n knoppie en siedaar: die komper bereken dan watter mensies die mees waarskynlikstes sal wees om met jou te wil gesels. Dan verskyn daar ’n ‘profiel’ van daardie mensie, wat meer inligting oor die persoon bevat. Maar o wee, met my geluk. Daar verskyn die eerste gesig. Die lokboodskap:

 

“Vir my kom God heel eerste en as jy soveel as wil hallo sê vir my dan beeter jy ook ’n intieme verhouding met die onsigbare wesens in die lug he en jy beeter nie vir my lieg nie want ek het vir Jesus op speeddial en jy gaan gedoublechek word. Jy is ’n vuilgat maar daar is hoop vir jou as jy na Jesus draai.”

 

As ’n nagedagte “Maar eintlik is ek net ’n aangename mensie as jy die ware ek leer ken. Lief die natuur en al daai. Jy weet, die gewone.”

 

En so het dit maar grootliks voortgeploeter, totdat ek begin bekommerd raak het oor my data cap en maar liewers die hele storie laat vaar het. Want die groot ANC konferensie le nou voor, en wie weet, ek kan dalk net die behoefte ontwikkel om paar dinge oor die saak kwyt te wil raak later. Ek moet regtigwaar eendag vir my onbeperkte internet kry. Eendag nog.

 

In elk geval, ek moet sê, ek vermoed nou dat die meeste gebruikers van ‘Huisgenoot pasmaats’ nie ware gereelde lesers van Huisgenoot is nie. Maar dis bloot ’n teorie en hoekom ek so dink sal wel nou duideliker word. Maar daarvoor, terug na die Vrouekeur.

 

Wat ook interessant was vir my van daardie onlangse Vrouekeur (7 Desember 2012), is daai artikel met die ‘Ander Kant’ vrou, Marrietta Theunissen. Nou, ek vertrou nie die Theunissen dame nie. Ek het my vermoedens. En my vermoede is dat sy is ’n mens met ’n buitengewone hoë intelligensie. En nou praat ek nie van die gewone genie met ’n IK van 130 of 140 nie. Dalk eerder 150 tot 170. En my vermoede is dat sy bloot oor die vermoë beskik om mense te kan lees. Wel, dat daar wesens in die lug is, onsigbare wesens, die kan ek as gelowige sekerlik nie totaal ontken nie. Maar ek is skepties oor of ons wel met ‘hulle’ kontak kan he. Ek is baie, baie skepties.

 

’n Ander ding wat my opval is, daai advertensies in die Vrouekeur van die sangomas. Ai, ai, ai. Verlore liefde? Passie verdwyn? Afgedank? Kontak dokter Rabi.

 

En aan die einde van die artikel oor die vrou wat die drie dogters verloor het dan vra sy: Is dit wat ’n liefdevolle God doen? En dis so goeie vraag wat my betref, want ons as gelowiges is tog so vinnig om ons vreugdes en suksesse in die lewe aan ‘God’ toe te dig, so asof ons ‘beter Christene’ is as mense wat rampe en teespoed beleef. Asof God nie ook die son oor ‘hulle’ laat skyn nie.

 

Nou, die punt wat ek maak is dat, die Vrouekeur laat my bietjie dink aan die NG-kerk. Ek kry die indruk dat daar meer as een spirituele tradisie verdra word. Dit is dus meer inklusief. Ek meen, hoekom sal dokter Rabi in Vrouekeur adverteer as hy(?) nie juis sukses behaal met die advertensies nie? En dit is vir my veelseggend dat dit juis in ’n tydskrif met ’n godsdienstige aanslag verskyn. Want, kan mens redeneer, net soos wat ongelowiges nie juis aan God glo nie, so gaan hulle ook nie glo aan ‘toordokters’ nie. Ek kan nie dink dat ek al ooit dr. Rabi se advertensies in Huisgenoot gesien het nie. Behalwe as ek dit mislees.

 

En die gemiddelde Huisgenoot leser is waarskynlik geen ateïs nie. Maar ek het my vermoede dat hulle ook nie presies die tipe is wat hulle doodbekommer oor ‘geestelike groei’ (’n term wat ek al my lewe lank ken maar nog nooit verstaan het nie) nie. Maar in Vrouekeur daarenteen…

 

Dit is hoekom ek my vermoedens het dat ‘Huisgenoot Pasmaats’ se gebruikers heel dikwels nie self ywerige lesers van Huisgenoot is nie.

 

Ag nou ja. Vir my is daar dan nou maar min geselskap. Maar daar is darem blokkiesraaisels. Ek het nou ’n blokkiesraaisel slaaf geword. En DIS maar grootliks hoekom ek deesdae so baie koerante en tydskrifte aanskaf. Eendag gaan ek seker ’n klomp katte ook he wat ek iewers voer. Die katte sal dan ’n sekere gat in my lewe vul. En katte is baie verdraagsaam teenoor wat mense glo en wat hulle nie glo nie. BAIE. Ek het al baie met katte te doen gekry.

 

Prys die Here. Vir blokkiesraaisels en katte.

 

En ook vir Vrouekeur.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>