Profile photo of Barend

by

Onder en bo en elke dag iets anders

December 9, 2012 in Uncategorized

Dit is inderdaad so dat die heel eerste Christene as ‘ateïste’ of ‘ongelowiges’ beskou was deur diegene wat vir hulself die mag toegeëien het om sulke uitsprake oor andere te maak. Dit was natuurlik omdat daardie eerste Christene nie die gode van die Romeinse ryk wou aanvaar nie. In my ervaring gebeur dieselfde ding vandag nog. Die oomblik wanneer mense agterkom jy dink en voel nie presies soos hulle nie, dan word jy dikwels as ‘ongelowig’ beskou.

 

Dit het my tot die gevolgtrekking laat kom dat, wat mense se persepsie van jou is, beteken uiteindelik veel meer as wat jy van jouself dink. Dit maak uiteindelik nie saak of jy jouself as ’n gelowige of ’n Christen beskou nie. Dit tel niks. Wat tel is wat die mense in jou gemeenskap oor jou besluit. Met ander woorde persepsie. Persepsies kan praat. As jy persepsies kan manipuleer, dan kan jy baie vermag. Niemand besef dit beter as die kerke self nie.

 

Die laaste keer toe ek by die gemeentetjie hier in die pad af was, toe wys die dominee vir ons ’n video van ‘Abraham en Isak’. En ons moes speel dit is waarlik ‘Abraham en Isak’ op daardie video. Uit die aard van die saak, in die era waarin ons leef, het dominee die kudde aan sy lippe laat hang. Want mense word maklik meegesleur deur beelde. Miskien is dit hoekom die Bybel eintlik afbeeldings verbied (Eksodus 20:4).

 

Oei ek onthou hierdie ander keer. Ek was so opgewonde. Ons besoek een van die GROOT predikers van ons dorp. En ons sit die dag daar en hy beginne met sy standaard rympie van ‘Die Bybel is ’n goeie boek. Die Bybel is ’n volmaakte boek’ (nou nie presies presies dieselfde rympie wat ons as NG mensies opsê as ons van die Bybel praat nie, maar ons is daar en vra nie vrae). En daar trek dominee weg en hy sê ouens, as jy hier opgaan, op, op, op tot ver anderkant die uitspansel, daar waar die sterre ophou, dan kry jy daar die hemel wat die Bybel van praat…

 

En my moed sink in my skoene. Want myliewepa sit langs my en ek weet, pa is ’n man met ’n passie vir die astronomie. Hy weet baie dinge van die uitspansel af. Elke week skakel hy in op sterre en planete. Al van die tyd van Louis Barendse af. En nou nog. Hy lees boeke oor sterrekunde. Dit is ’n liefde by hom.

 

Sê dominee julle gaan nes Jesus ook boontoe eendag. Op, op, op in die hemele in. Al die pad na die pearly gates.

 

Ag nou ja, pavanBarend is ’n baie meer ordentlike mens as Barend self. Hy sou nooit in sy lewe uit sy eie gekla het nie. Maar ek het vermoed hy was nie besonder beïndruk nie en ek was reg. Want ek het hom gevra.

 

Ek weet nie veel van die sterrekunde af nie. Ek is nie ’n natuurkundige soos pavanBarend nie. Maar wat ek wel weet is daar is nie ’n ‘op’ en ‘af’ in die ruimte nie. ‘Op’ en ‘af’ is persepsies wat ons het omdat ons op aarde staan.

 

In my lewe het ek al ten minste twee keer van my mede gelowiges gekry wat vir my wou ontmoedig om boeke te lees. Die een ’n kollega, die ander ‘n familielid. Beide vroue. En laat ek net sê, ek is MAL oor die idee van die kerk. Ek is baie lief vir Christelike kuns (spesifiek die musiek, die skilderye natuurlik minder so). En die kerk staan dikwels op die voorpunt van vooruitgang. Ons baklei vir mense se regte. Ek het net anderdag weer hier ’n boek gelees wat bewys dat wat die kerk van Jesus vir die welsyn van die aardbewoners doen is ongeëwenaar. Daar is nie een enkele NGO wat eens naasteby daarmee kan vergelyk nie. Nie een nie.

 

Die kerk gee stukkende mense hoop. Dit inspireer mense om teen onregte te veg. Dit bemagtig. Maar, dit is uiteindelik ’n menslike instelling wat ongelukkig dikwels waar dit mense bemagtig, ook aan ons ’n platform gee om ons mag te misbruik.

 

Ek het die grootste bewondering vir dit wat Iraria probeer doen. En sy is reg. Fundamentalistiese gelowiges verskil nie regtig van daardie aggressiewe ateïste nie. Beide hierdie groeperinge het een belangrike ding in gemeen, en dit is dat hulle nie andere se besluite kan respekteer nie.

 

Maar wat my pla, elke dag as ek opnuut besluit om ’n Christen te probeer wees, is, speel ek nie maar net bloot saam in ’n sinnelose magstryd nie? Is ek nie maar net vandag weer ’n pion in hierdie ‘spel’ as ‘ons’ rondloop en vir mense vertel hulle moenie boeke lees nie en moet glo dat daar ’n groot blink troon daar anderkant die M16 galaksie is waarop God sit? Is ek nie maar net ’n skaakstukkie wat gebruik word om mense te laat glo dit is ‘Abraham’ waarna ons in die diens sit en kyk het nie?

 

Is ek nie ‘vals’ nie? Ek meen, dit is duidelik dat meeste van my mede gelowiges van my verwag om hierdie dinge alles onvoorwaardelik te glo. Die kere in my lewe waar ek my teen sulke dinge verset het, is ek summier as ’n heiden uitgekryt. Iets wat ek nou maar deesdae van myself wil begin glo. Ek het tog uiteindelik weinig sê in die saak van wie ek God noem, so lyk dit my.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>