Avatar of Barend

by

In aanloop tot Geloftedag 2012

December 6, 2012 in Uncategorized

’n Kerk is ‘ongelukkig’ net soos ’n skool. Die ‘kerk se kurrikulum’ (as ek dit so kan stel) word nie, soos wat ons dikwels graag in ons kerke wil glo, deur die Bybel bepaal nie, maar veel eerder deur die behoefte van die gemeenskap. Dus, net soos wat jy nie tipies ’n sokkerspan by ’n ou model-C skool het nie, so kry jy nie juis ‘geloftefeeste’ in Kaapstad se kerke nie. En net so ook nie juis in die ‘Noord-Kaap’ nie, want daar was ’n tyd toe die ‘Noord-Kaap’ eintlik deel van die ‘Kaap provinsie’ was. En in die tyd van die Gelofte was die Kaap onder Britse bewind, en dus voel meeste ‘Kaapse Afrikaners’ hulself gevolglik nie gebind tot die Gelofte nie.

 

Net soos wat jy dikwels nie Geskiedenis onderwysers in sekere skole sal kry nie. Want sekere gemeenskappe stel bloot net nie belang in die tipe Geskiedenis wat hulle moet leer om ’n matriek Geskiedenis vraestel in 2012 te slaag nie. Dit was natuurlik ’n hele ander storie voor 1994.

 

Ek vier self Geloftefees. Maar ‘ons’ vier dit anders as sommige ander mense. Jy kry daai mense wat die Gelofte sien as ’n ding wat God laat gebeur het om die Christelike geloof in Suid-Afrika te vestig. Vir sulke mense was die slag van Bloedrivier eintlik onafwendbaar. Dit was deel van God se plan vir Suid-Afrika. En so is Bloedrivier dan vir talle ook ’n simbool dat God weer aan ‘hulle’ die mag sal gee. Want dit is so bestem, volgens ‘hulle’.

 

Maar die slag van Bloedrivier word uiters uiteenlopend interpreteer. Dit is interessant om daarop te let dat ’n gevierde historikus soos professor Hermann Giliomee ook nie juis die slag van Bloedrivier as een van die waterskeidingsoomblikke van die Suid-Afrikaanse geskiedenis beskou nie. So was daar ook die legendariese professor F.A. van Jaarsveld, wat deur die AWB ‘geteer en geveer’ is oor dieselfde saak.

 

Vir my is Geloftefees eerder iets wat ek ‘gedenk’ as ‘vier’. Dit is vir my jammer dat hierdie dag die titel van ‘fees’ moet dra. Ek verkies ‘Geloftedag’. Indien onder ‘fees’ verstaan word dat dit ‘n viering van ons erfenis is, dan ja. Maar ek is self skepties oor die presiese aard en omvang van die slag van Bloedrivier.

 

Op Geloftedag dink ek terug aan al die mense wat hulle lewens geoffer het oor die jare. Of hulle nou wit of swart, Christen of anders was. En ek verwag nie van ander mense om dit saam met my te vier nie. En beslis nie van ander ‘kerke’ nie. Dit is elke mens se vrye wil. Boonop dink ek daar is talle mense wat met reg kan vra of die gelofte bindend op hulle is.

 

En ek is boonop bereid om more se ontbyt te wed dat, sou daar nooit ‘n Slag van Bloedrivier gewees het nie, dan sou dit weinig verskil gemaak het aan Suid-Afrika se spirituele karakter van vandag. Die meeste mense sou steeds Christene gewees het.

 

Uiteindelik het my eie wankelrige geloof in Jesus van Nasaret slegs ’n beperkte invloed op my keuse om Geloftedag te herdenk. Vir my hou die Christelike geloof dan ook slegs in beperkte mate verband met die ‘Gelofte’. Die Christelike geloof is uiteindelik net die versiersuiker op die koek. Die koek is dat die ou Boere moes baklei net om te kan wees. En dat hulle hulself selfs tot geweld moes wend net om te kan wees wie en wat hulle is. In Europa is hulle, skaars twee eeue voor Bloedrivier, vervolg en vermoor vir hulle Protestandste geloofsoortuiginge deur Katolieke monarge. In Afrika is hulle vervolg en dikwels vermoor, omdat mense deur hulle bedreig gevoel het.

 

En so moes al die mense van die ou tyd veg vir oorlewing. Vandag is Christenskap nie meer ’n vereiste vir burgerskap soos in 1838 nie. Maar baie mense word vandag op plase vermoor. Die Marikana slagting is ’n getuienis dat mense hulself vandag nog tot geweld moet wend net om te kan wéés.

 

My wens vir 16 Desember 2012 (en nou is ek amper lus en steek ’n vonkelstokkie op en gaan staan in die donker terwyl ek die woorde hard uitspreek) – is dat, alle mense mekaar sal respekteer. Dat die mense wat ‘Geloftedag’ herdenk daardie mense wat dit nie gedenk nie sal aanvaar, en andersom ook. As die mense van 16 Desember 1838 net DIT kon regkry, dan het ons moontlik nooit vandag nodig gehad om hierdie dag te vier nie.

 

Ai, nou kort ek nog net die sjampanje.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>