Avatar of Barend

by

Nog Korsies (2)

December 5, 2012 in Uncategorized

As jy in 1934 ‘Korsies’ wou voorlê, dan moes jy aan sekere reëls gehoor gee. Nie elke Korsie wat gebruik is het ’n beloning ontvang nie. Daar is ’n ‘beste’ Korsie gekies. Die belangrikste instruksie wat in gedagte gehou moes word, was as volg:

 

‘Grappies oor die Bybel of oor die godsdiens word nie in aanmerking geneem nie. Ook wil ons daarop wys dat ons geen briefwisseling oor ingesonde ‘Korsies’ kan voer nie.’

 

Hier is twee baie interessante dinge vir my. Dit is interessant dat mense versoek word om liefs nie gek te skeer oor die Bybel of oor godsdiens nie. Hoekom presies sou dit tog wees? Die heel eerste ‘Korsies’ wat in die 1910’s gepubliseer was, het nooit hierdie versoek gerig nie. En die enigste afleiding wat mens hieruit kan maak, is dat die ou Boere graag gekgeskeer het oor die Bybel. ’n Mens vind tog ‘Korsies’ wat oor die kerk die spot dryf, veral ‘korsies’ wat vertel van mense wat slaap terwyl die dominee preek. Daarom is hierdie tog ’n versoek wat vreemd op die oog val.

 

Ons maak dikwels die fout om te wil glo dat die mense van ouds die ‘manne van geloof’ was. Dat dit maar eintlik ’n nuwe ding is dat mense ‘afvallig’ word. Maar ek dink hierdie is ’n totale wanopvatting. Eintlik dink ek sommer net ons beledig ons voorouers se intelligensie deur te dink dat hulle hierdie pilare van geloof was. Ek meen, ek kan nie vir myself indink dat oeroupa Barend nooit daar op sy ossewa gesit en twyfel het oor slange en donkies wat praat, hemelliggame wat ‘stilstaan’ en mense wat op water loop nie. Dit is tog net nie moontlik nie.

 

Die ou Boere was slim mense. Hulle was nie dom nie. En hulle was maar net doodgewone mense wat soms moes getwyfel het en ja, waarskynlik selfs af en toe gelag het oor geloof. ’n Mens kan maar net die boek Agter die somber gordyn van Johannes Bertus de Villiers lees om die ryk variasie van spirituele tradisies onder die ou Boere beter te leer ken.

 

Die tweede interessante ding vir my is die woord ‘ingesonde’. Nou ja, duidelik het hierdie ‘ingesonde’ natuurlik niks te doen met die ‘sonde’ soos wat ons dit ken as drink, vloek, leuens vertel, losbandigheid en dies meer nie. Hierdie is natuurlik ’n verandering van die klinker wat so dikwels in so baie Indo-Germaanse tale voorkom. Dit staan bekend as die ‘ablaut’ verskynsel, as ek dit nie mis het nie. Dit is die heel eerste keer wat ek hierdie woord teekom. Dit het natuurlik sedert 1934 in totale onbruik verval namate Afrikaans al meer en meer van sy heel laaste sintetiese eienskappe verloor het en toenemend ’n analitiese taal geword het.

 

In elk geval. Die onderstaande is geneem uit Die Huisgenoot van 2 November en verskyn op p. 88. Let veral op die stereotipering van die vrou in die laaste ‘Korsie’. Hierdie stereotipering is natuurlik vandag nog algemeen, en dit is nie beperk tot vroue nie maar manlike gedrag word ook dikwels getipeer vir komiese effek.

 

 

Oom Jan: ‘Wie is daardie mooi nooi wat jy daar op die perron gesoen het? Was dit jou suster?’

 

Karel: ‘Dit was my peetsuster.’

 

Oom Jan: ‘Peetsuster! Ek het nog nooit van so ’n familiebetrekking gehoor nie.’

 

Karel: ‘Ja – my peetvader se dogter.’

 

***

 

Onderwyser: ‘Jannie, waarom val ’n klip nooit na bo nie?’

 

Jannie: ‘Omdat daarbo nie lêplek is nie, Meneer.’

 

***

 

Dokter: ‘Steek jou tong uit. Nee, nog meer – jou hele tong.’

 

Klein Annie: ‘Maar, dokter, ek kan nie –my tong is aan die ander kant vas.’

 

***

 

’n Vrou wat in die buiteland gereis het, wil ’n indruk op ’n ou heer maak en sê: ‘In Hawai het hulle dieselfde weer die hele jaar deur.’

 

Ou heer: ‘Maar hoe op aarde begin die dames dan hul gesprekke.’

 

 

***

 

Vir my is ook opvallend die dialoog van ‘Klein Annie’. Let op die vreemde gebruik van die kommas, wat hierdie handeling totaal onnatuurlik laat klink. Spreek mens dit uit, dan voel dit net nie asof dit ’n klein kind is wat so praat nie. Dit herinner my sterk aan baie van die dialoog in die ou films.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>