Profile photo of Barend

by

Geskiedenis en geskrifte: Die literatuur van Ou Israel

December 5, 2012 in Uncategorized

Wel, my een teologie vriendjie waarsku my gereeld teen ‘die teologie dosente van UNISA’. En wat gebeur as jy vir iemand sê ‘bly weg van…’ of ‘moenie …’? Wat gebeur? Jy kry die teenoorgestelde reg! Kyk nou net vir Adam en Eva. Ek meen, God het hulle gesê hulle moenie, en toe?

 

Geskiedenis en geskrifte. Ek het al voorheen een van ‘Sakkie Spangenberg’ se boeke gelees. Dit is ‘daai’ boek. Die een oor Jesus. Die een waaroor mense nie in ordentlike geselskap van praat nie.

 

My vriendjie beskuldig altyd UNISA se lektore dat hulle deel is van die ‘nuwe Hervorming’. Liewe aarde. Ek het nou al tot gaan oplees oor hierdie sogenaamde ‘Nuwe misvorming’. Waar presies dit ontstaan het weet ek nie, maar die hele ding het tot by die sinode gaan draai so 10 jaar gelede. En wat doen die ‘nuwe hervormers’ toe (En net so vir duidelikheid, hierdie ‘nuwe hervormers’ moet nou net in vadersnaam tog net nie verwar word met die steedsHervormers wat eers anderdag van die Hervormde Kerk afgesplinter het nie). Die ‘Nuwe Hervorming’ het in die NG-kerk ontstaan, soos ek die ding verstaan. Ag en dit was ook nie lank nie toe maak die ‘Nuwe Hervormers’ maar presies net soos die, wat sal mens hulle nou noem, die ou Hervormers (?). Dit was nie lank nie, toe is dit broedertwis en dis verdeeldheid en dis groepie-groepievorming en dies meer.

 

En vandag kry jy, so lyk dit my, die steeds-nuwe-hervormers en dan is daar die Hervormers en die steedsHervormers en die, ag, jy kry baie soorte.

 

Maar nou dwaal ek. Geskiedenis en geskrifte. Hierdie boek is geskryf deur Willem Boshoff, Eben Scheffler en Izak Spangenberg. En die boek gee ’n baie handige agtergrond tot wat ons as Christene ken as die ‘Ou Testament’. Dit is ook natuurlik bekend as die Tora. Dit was vir jare nét bekend as die ‘Tora’ voordat dit deel geword het van die Bybel.

 

Die heel belangrikste vir my van hierdie boek is die argument dat die boeke van die Tora nie deur individue geskryf is nie. Die oorgrote meerderheid van die boeke het oor baie jare ontstaan en is geskryf en herskryf. Die orale tradisies van die antieke ‘Jode’ het ’n sentrale rol in die Tora se ontwikkeling gespeel. Die boeke is nie geskiedenisboeke nie. Dit is teologiese boeke. Dit voldoen nie aan die vereistes van moderne Westerse geskiedskrywing nie. Daar is wel baie inligting in die verhale wat aan ware historiese gebeure gekoppel kan word, maar dit was dikwels vertolk om ’n bepaalde effek by die lesers te kry. Die idee was nie noodwendig akkuraatheid nie (net soos wat baie mense vandag ook mitologiese verhale aanhang om ’n bepaalde invloed op hulle omgewing uit te oefen).

 

Daar is ’n interessante uiteensetting van die eerste skeppingsverhaal in Genesis. Oor die tweede verhaal is daar nie iets nie (behalwe as ek dit mis gelees het). En dis jammer. Die tweede verhaal is tog interessanter as die eerste. Maar dit is duidelik dat die Skeppingsverhaal ontleen is aan ’n verhaal wat uit die Babiloniese era spruit. Dit is maar bloot hier en daar aangepas. Maar die tweede skeppingsverhaal in Genesis is tog veel meer interessant is dit nie, want hier het jy daai slang!

 

En die boek vertel baie van die ontstaan van die ‘Jode’. Die ‘Jode’, so word daar geargumenteer, was uiteindelik baie soos die Boere. Dit was maar baie soorte mense wat uiteindelik ‘die Jode’ sou word. En hulle verhale het gedien om hulle saam te snoer as ’n nasie, maar hulle het eers betreklik laat begin ‘skryf’. Die mondelinge kultuur was wat oorheers het. En vir hulle erfenis het hulle maar baie staatgemaak op die tradisies van wat later hulle vyande sou word.

 

In elk geval, ‘Geskiedenis en geskrifte’ is ’n goeie boek. Ek is bly ek kon dit inwerk. Dit het nuwe perspektiewe op talle sake gegee. Dit gee byvoorbeeld ook ’n interessante uiteensetting van die boek ‘Prediker’. Hoekom verskil die boek ‘Prediker’ so baie van die ander boeke in die Bybel? Dit staan uit soos ’n paal bo die water. Spangenberg is vol lof vir die boek Prediker. Hy beskryf Prediker met goeie reg as een van die heel boeiendste boeke in die ganse Bybel. Hy wys daarop dat Prediker “deurweef [is] van die Griekse kultuur en denke” (p. 228). En dit is dan ook waarskynlik die grootste rede hoekom Prediker so ‘vreemd’ is.

 

Geskiedenis en geskrifte: Die literatuur van Ou Israel is ’n belangrike boek. Elke liewe gelowige behoort dit te lees. Eintlik elke liewe mens wat kan, gesien in die lig van die invloedryke rol wat die Bybel tot vandag toe nog in die lewens van mense speel.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>