Profile photo of Barend

by

.

December 5, 2012 in Uncategorized

Ek het tog te lekker gelees op die wêreld wye web vandag. Dit was vir my ’n verrykende dag.

 

Ek dink dit is maar grootliks weens sommige menings wat ek geneig is om te huldig. My support systems is geneig om inmekaar te tuimel. Daarom vul ek my lewe met woorde. Woorde woorde en nogmaals woorde. Dit is die wonderlikste voorreg om te kan lees en skryf (om van tik nie te praat nie en nou verwys ek na tik op ’n rekenaar en nie die tipe tik van die mense daar in die Suide nie). Ek dink nie alle mense besef die groot voorreg wat ons het om te kan lees en skryf nie.

 

Vir my was dit interessant om die kommentare te lees op hierdie een berig oor Orania. Dit is absoluut totaal en al verstommend presies hoe onkundig mense tog oor mekaar kan wees. Gewoonlik steur ek my nie aan die kommentare van die mense nie. Soms is dit snaaks, maar dikwels niksseggend en onverdraagsaam. ’n Mens moet in elk geval versigtig wees om te hele mensdom te gaan staan en tipeer op die dinge wat enkele mense met skuilname op ’n nuuswebwerf skryf. Dit is nie ’n staatsgeheim dat talle mense die net misbruik om bietjie stoom af te blaas nie. Omdat hulle eintlik koeverte rassiste is. En omdat hulle gedrag eintlik nêrens meer geduld word nie. En omdat dit lank is tussen naweke wanneer hulle weer bietjie by hulle rassistiese vriende kan gaan braai en hulself kan uitleef.

 

Maar dit is tog vir my jammer dat daar NOGSTEEDS, na so baie jare, so baie wanpersepsies rondom Orania bestaan. Dit is ’n ding wat mens lyk dit my reg oor die rasse en klassespektrum kry. Dit is asof daar mense onder ons is wat wil glo dat Orania nog die heel laaste buitepos is waar ’n klein groepie bittereinders uithou teen die ‘nuwe’ Suid-Afrika en waar ‘apartheid’ nog seëvier. En vir die een klomp is die gedagte natuurlik wonderlik en vir die ander klomp is die gedagte afskuwelik. Die een klomp dink dit is mense daai wat nie str&%$ vat van ‘die ander mense’ nie. Vir die ander klomp is dit mense daai wat ‘terugverlang na apartheid’, en dat die Boshofs eintlik niks minder nie as vergelykbaar met Hitler is en nie vertrou moet word nie.

 

Maar dit alles getuig maar net hoe min ons van mekaar weet. Dit is als so belaglik soos wat jy menslik moontlik kan kry. Die feit is, baie mense lees te min, soos wat ek alreeds gesê het. En die hele ding sluit ook so mooi aan by Hannes du Preez se skrywe.

 

Ek dink Hannes voer ’n verlore stryd. Maar dit bly ’n belangrike stryd. Die mens is nou maar eenmaal onverdraagsaam, maar ek het die grootste waardering vir Hannes probeer doen. Daar is so baie onverdraagsaamheid daarbuite. Dit maak my oneindig seer as my mede Christene op straat rondloop en dinge sê soos dat Hindoes ‘sataniste’ is en dat Moslems ‘mos daai mense is wat vir moeder Maria in plaas van Jesus aanbid’. Nie een Moslem wat ek geken het in my lewe het ek al so hoor praat oor ’n ander se geloof nie. Maar so is ons maar. Gee ’n mens ’n magsposisie en hy raak totaal blind.

 

Dit is hoekom ek so lief is vir die Bybel. Kyk maar net wat koning Dawid gedoen het. Hy het mag gehad en hy het dit misbruik om sy seksuele begeertes te bevredig. So blind het sy mag hom gemaak dat hy nie gehuiwer het om ’n onskuldige man dood te maak nie. Die magtige koning Dawid – ’n moordenaar.

 

Oor Johan Swarts se stuk wil ek ook ietsie sê. Ek stem saam met sommige van die mense wat kommentaar gelewer het dat die saak al ietwat holrug gery is. En tog dink ek dit bly belangrik. Die punt hier is nie dat mense hulleself ‘oorvreet’ nie. Die punt is ook nie eintlik dat Kersfees eintlik geen ‘Christen’ fees is nie. Dit weet baie mense. Die punt is dat dit als misleiding is. Kersfees is die grootste bewys van hoe ons as gelowiges die een ding sê en presies die ander ding gaan doen. En ek dink die heel hartseerste dag sal wees as niemand meer iets oor die saak sê nie. As almal maar net stilbly.

 

Ek meen, dit is tog so bitter ironies, soos die een mens skryf, dat, daar le Jesus, in eenvoud. Die Koning van die Christendom in ’n krip. Tussen die stinkende plaasdiere. In armoede en eenvoud le die Koning daar. En wat doen Sy volgelinge?

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>