Profile photo of Barend

by

Jaloers op die mense van “nibië”

November 30, 2012 in Uncategorized

Ek luister soms so oor die satelliet na ’n radiostasie daar in Namibië. Dit staan bekend as radio Kosmos. Ek geniet dikwels hulle keuse van musiek. Daarom skakel ek soms in. Partykeer is ‘talk radio’ natuurlik lekker. Dan is dit 702 of CapeTalk vir my. Maar ander kere wil jy net lekker polsende musiek hoor. En lekker musiek, veral ouer musiek. Ek dink dit is onmoontlik om alle luisteraars van ’n radiostasie te probeer gelukkig hou en ek bewonder mense wat die moed het om te probeer.

 

Maar hier is die ding. Die anderdag toe skakel ek in op die klanke van Radio Kosmos. En ek moet bieg ek het laas so jaloers gevoel soos toe ek in Gabarone was en die mense daar het foto’s van president Ian Khama oral in hulle winkeltjies. Want sien, so skakel ek toe in reg op die oomblik wat dit nuustyd is. En raai bietjie wat is die hoofnuus op Radio Kosmos?

 

Dit is – die Namibiese padveiligheidsfonds maan motorbestuurders om versigtiger te bestuur aangesien die aantal sterftes op paaie onlangs toegeneem het.

 

Nou, ek kan nie onthou wanneer laas ek hierdie tipe hoofstorie in Suid-Afrika gehoor het nie. Skakel jy die nuus aan in Suid-Afrika, dan is die kans veel beter dat jy iets soos die volgende gaan hoor as hoofstorie:

 

(sensitiewe lesers wees asseblief gewaarsku dat die volgende insetsel dalk mag ontstel, indien enigiets jou nog ontstel)

 

’n Man is in hegtenis geneem op aanklagte dat hy vermoedelik sy vrou se tepels afgesaag het waarna hy verskeie misdadigers versoek het om haar om die beurt te verkrag. Die slagoffer beweer dat die verdagte daarna haar kinders grusaam vermoor het. Die dokter wat die slagoffer behandel het word nog vir skok behandel. Die saak sou vanoggend voorgekom het maar is uitgestel omdat die polisie die dossier verloor het. Die minister van Veiligheid en Sekuriteit het nie op enige navrae reageer nie. Die biskop van die Anglikaanse kerk het intussen sy skok oor die voorval op sy Twitter profiel laat blyk.

 

En dit, liewe leser, is wat ek eerder sal verwag as ek sou inskakel op die nuus hier in Suid-Afrika.

 

Maar raai wat is die tweede storie op RADIO KOSMOS? Dit is oor die Namibiese rugbyspan wat nou voorberei vir die volgende wêreldbeker.

 

Hier by ons sou die 2de storie veel eerder gewees het oor een of ander vorm van korrupsie.

 

Ag nou ja. Ek sien die een man skryf hier iewerster dat die lelike prentjie wat bestaan in ons land dalk veel meer te doene het met die feit dat ons nog baie meer persvryheid besit as ander lande. Ek hoop van harte hy is reg.

 

Maar die geweld van hierdie land sal my altyd nog ontstel.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>