Profile photo of Barend

by

.

November 30, 2012 in Uncategorized

Aggenee regtigwaar. REGTIGWAAR! Ek weet nie meer hoekom ek die moeite doen om enigiets te lees wat Johan Swarts skryf nie. Sjoe, daar was ’n tyd wat ek nog die skrywes uit sy pen verrykend gevind het, maar vandag is ek oortuig ek gaan beter doen as ek eerder inskakel op die Nataniël tafel. Ten minste is Nataniël snaaks by tye.

 

Uit sy nuutste skrywe wil dit lyk asof Johan nou gegaan het en een ernstige studie van die gemiddelde DA kieser gemaak het. Sy gevolgtrekking is dat die gemiddelde DA ondersteuner nie juis veel weet van die politiek nie, en bowenal nie juis weet wat presies dit is waarvoor die DA ‘staan’ nie en dat die ondersteuners van die DA grootliks maar vir die DA stem om die ANC uit die Uniegebou te probeer kry.

 

Dit wil voorkom asof Johan dan poog om hierdie beweegredes as ’n tipe belediging te gebruik teen die ondersteuners van die DA, skynbaar in ’n poging om hulle verdag te probeer maak en as oningelig en moontlik onintelligent te probeer uitbeeld.

 

Nou, hier by die Barend van der Merwe blog weier ons om enige politikus se vuilwerk vir hom of haar te doen. Ons propageer geen party nie. Maar daar is ’n aantal vrae wat onwillekeurig by ’n mens opkom by die lees van Johan se skrywe. Dinge wat jy nie anders kan help as om oor te wonder nie.

 

1. Het Johan al ’n soortgelyke studie onderneem van die beweegredes agter die gemiddelde ANC ondersteuner?

2. Wat sê die gemiddelde ANC kieser? Hoekom stem hy/sy vir die ANC?

4. Gestel die gemiddelde ANC kieser se beweegredes is ook maar ongeveer so duister soos die DA kieser s’n, wat stel Johan voor? Stel hy voor ons laat vaar maar liefs die party-parlementêre kiesstelsel? Watse stelsel stel Johan dan voor dat ons liefs moet gebruik?

5. Neem Johan die feit in ag dat die gemiddelde kieser nie oor die tipe kwalifikasies beskik as waaroor hyself beskik nie? Dat baie min Suid-Afrikaners goeie skolastiese opleiding sedert 1994 ontvang het, om van tersiêre opleiding nie te praat nie? Dat baie mense van nature maar ’n oorvereenvoudige indruk van politieke sake het? Dat politiek vir baie mense iets is waaraan hulle net op stemdag aan dink? Dat daar Suid-Afrikaners is wat nie weet wie ons president is nie, en tog ’n sinvolle en waardevolle bydrae tot hulle gemeenskap lewer?

6. Kan mens ’n gemiddelde Suid-Afrikaner op straat kwalik neem indien hy/sy in me. Helen Zille ’n beter alternatief sien as in president Jacob Zuma?

7. Wie sou Johan self kies, sou hy ooit voor ’n keuse tussen die twee gestel word, Zuma of Zille?

8. Indien die gemiddelde lid van die opposisie nie vir die DA kon stem nie, watter ander party sou Johan Swarts vir hom/haar voorstel as ’n goeie alternatief wat waarlik die regerende party sinvol en ten minste tot ’n redelike mate kan opponeer?

9. Die leier van die DA het onlangs beweer dat die gaping tussen ryk en arm kleiner is in die Wes-Kaap as in al die ander provinsies. Dink Johan dat me. Zille lieg oor hierdie saak en indien wel hoekom dink hy sy lieg en wat is die ware stand van sake?

10. ’n Mens hoor/lees gereeld dat die DA die enigste party is wat daarin slaag om gereeld ’n skoon oudit te kry daar waar hulle regeer. Is dit onredelik om te dink dat hierdie bewering talle kiesers motiveer? Is dit alles leuens dat die DA gereeld skoon oudits kry?

11. Tydens die apartheidsjare het talle uiteenlopende groeperinge saamgestaan in die stryd teen die NP regering. Baie van hulle het die ANC gesteun selfs al het hulle nie presies dieselfde beleid as die ANC gehad nie, alles net om die NP te ‘sink’. Dink Johan Swarts ook daar was ‘fout’ met hierdie mense soos wat Johan dink daar is ‘fout’ met baie DA ondersteuners wat die DA steun hoofsaaklik om die ANC te opponeer? Dit kom tog op dieselfde neer doen dit nie?

12. Wat is Johan Swarts se mening oor die feit dat die regerende ANC self die minimumloon bepaal het waaroor die onlangse geweld in die Wes-Kaap uitgebreek het? Voel Johan dat die DA en Helen Zille uitsluitlik verantwoordelik gehou moet word vir die geweld, soos wat sy stuk skynbaar te kenne gee, of is daar ander faktore wat die provinsiale regering dalk nie kon beheer nie?

 

Ek gaan dalk lank wag vir antwoorde, maar ek voel regtigwaar dat, wanneer ons oor politiek praat, kan ons nie dan maar liewer die politici kritiseer/beledig in plaas van die kiesers nie? Ek meen jy moet darem vreeslik veralgemeen om die gemiddelde DA kieser te kan tipeer. Hoe sal mens weet wat presies in elke liewe DA kieser se hart aangaan as hy/sy daai kruis trek? Hoe omvattend was Johan se ‘studie’ van die gemiddelde DA kieser? Wat is die metodiek van die studie? Of het hy nou maar so hier geluister daar geluister bietjie TV bietjie radio bietjie briewekolom in die koerant en toe besluit?

 

Sou ’n mens, op grond van Johan se skrywe, die gemiddelde ANC kieser wat tydens die bewind van oud-president Thabo Mbeki vir die ANC gestem het as ‘moordenaars’ kan tipeer, gedagtig aan die derduisende mense wat weerhou was van MIV/VIGS behandeling? En indien wel, watter kiesers dan presies? Almal?

 

Ek probeer nie stemme werf vir enige party nie. Ek voel net die DA ondersteuners word hier onredelik oor die kole gehaal en hulle word geskets asof hulle eintlik maar onnosel is. Wat van die mense wat nie DA stem nie? Is hulle ‘beter’ as die gemiddelde DA stemmer? Want die vet weet, ek het self nie in die vorige verkiesing ’vir Zille’ gestem nie, maar ek voel myself nie ’n meter beter as enige DA kieser nie.

 

Oei, ek wonder nou waar is my TV gids. Moet beslis daai herhaling van die Nataniël Tafel onthou. So nie maar die digitale TV gids inspan.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>