Avatar of Barend

by

ONSE VADERS – Karin Brynard

November 29, 2012 in Uncategorized

Liewe aarde. Ek lees so af en toe fiksie. Partykeer dan wonder ek hoekom. Ek meen, hoekom sal enige mens fiktiewe dinge wil lees? Jy tel ’n boek op of skakel jou kimble aan, wel wetende dat jy op die punt staan om 500 bladsye vol grootliks uitgedinkte dinge te lees. Verbeeldingsvlugte van mense met die vermoë om skynkarakters uit te dink. Nou goed, dit laat jou ontspan. Die werklikheid is dikwels nie ’n lekker plek nie. En as ontspanning maak die lees van fiksie, veral speurverhale, vir my tog sin.

 

Maar, om nou die rooitaal in span, “there is more to it than meets the I”.

 

Dit was so ’n fees om ONSE VADERS te kon lees. Ek kan nie anders nie. Ek móét net die skrywer van hierdie boek gelukwens. Ek bewonder mense wat so baie dinge, so baie woorde, kan uitdink oor fiktiewe gebeure. Ek het eenkeer na ’n toespraak van Deon Meyer sit en luister. En toe sê hy die dag daar in die klein bibliotekie dat fiksie skrywers is net-net minder gek as digters. En dis nou regte egte digters – nie mense soos ek wat lief is om versies te skryf oor mooi vroue en mislike dae nie. En wie is ek om beter as Meyer te weet en ek reken ONSE VADERS bevestig net weer sy bewering.

 

Maar nou moet ek bieg, daar is ongelukkig een stukkie kritiek wat ek teen hierdie boek moet loslaat, en dit is dat, dit was vir my asof die boek maar ’n hele rukkie vat om lekker aan die gang te kom. Dit is waar Meyer se boeke dikwels goed werk. Dit vat jou op die heel eerste bladsy en dit hou jou aandag. En in ONSE VADERS is daar wel ’n spannende openingstoneel. Maar dit was vir my asof die boek dan sukkel om my aandag te hou, tot so honderd, honderd-en-veertig bladsye later.

 

Ek meen, die kans is goed dat ek sulke tipe boek sal neersit onder normale omstandighede. Ek is nie ’n maklike mens as dit by boeke kom nie, veral nie met fiksie nie. As ek ’n ding nie geniet nie dan los ek dit. Die lewe is te kort vir vervelige fiksie. Maar hierdie was nie normale omstandighede nie. Die ding is, ek wou graag die boek klaar lees, want ek wil nie graag die mens by wie ek die boek leen later moet vertel dat ek dit nooit klaar gelees het nie, sou ek ooit gevra word wat ek ‘dink’ daarvan.

 

Ek begin nou ernstig vermoed dat daar ’n proses aan die gang is wat behels dat sommige van my beweerde sluimerende sosiale vaardighede nou ontwaak. Ek meen, ek is nou al tot bekommerd oor wat iemand gaan dink as ek vir hom moet sê ag jou boek was so boring ek het die ding nooit klaar gelees nie. Maar ek glo nie ek is al heeltemal op die vlak waar ek eerder ’n groot kuier as ’n tydjie saam met ’n boek sal verkies nie ;-)

 

Die brein is ’n wrede wrede ding. Net anderdag weer gehoor ’n doktor of ’n ding wat sê dat wanneer dit by vrees kom, dan is meer as 90% van die konneksies wat die brein maak totaal kunsmatig. As jy bang is, dan is enige geluidjie vreesaanjaend. En so vertel my brein seker maar vir my jy gaan daai mens aanstoot gee en dan gaan dit ’n geneuk afgee so lees maar liewer die ding klaar.

 

Maar nou beledig ek amper vir Brynard en ek moenie. Want wat ’n seën was dit tog nie dat ek myself gedwing het om deur te druk nie! Brynard se boek was uiteindelik totaal fassinerend. Ek vind dat elke liewe misdaadfiksie skrywer iets unieks bied. Wat lekker was van Brynard se ‘PLAAS MOORD’, byvoorbeeld, was vir my die feit dat die verhaal in die stowwerige Noord-Kaap afspeel. Hoe baie misdaadfiksie vind nie in die groot stede van Kalifornië plaas nie? Of dan in die mooiste Kaap? Of ten minste in Johannesburg! Nou ja, in ONSE VADERS is dit nie presies Jozi nie, maar dis SOWETO, dis naby, en dis Stellenbosch, wat weer naby die Kaap is.

 

Maar dis die wonder van fiksie. Jy ontdek die kultuur. En jou kennis van kultuur, selfs jou eie kultuur, is altyd maar altyd onvolledig. Want dis net nooit staties nie. En ek reken die lang stuk oor Stellenbosch bevat waarskynlik ’n sterk skeut waarheid daarin. Veral die dele oor die eiendomsmark en die omstredenheid oor grondeienaarskap. (Oh well, die hele landboubedryf in Suid-Afrika word immers gekenmerk aan omstredenheid oor grondeienaarskap, suffel so dat die saak tot in die parlement draai so elke nou en dan, so hoekom dan nou nie Skelmbosch ook nie? Ek moet dalk meer oplees oor die plek!)

 

Die heel mooiste juweeltjies, in my ervaring, sal jy kry in ‘Westerns’. Maar misdaadfiksie lewer altyd sy eie kwota. Hier is my eie klein keur uit ONSE VADERS.

 

- Ek het in hierdie boek geleer van ‘poepholvrugte’. Vir my was dit ’n onbekende term, maar toe ek bietjie rondvra, toe moes ek leer daar is mense wat wel weet wat dit beteken sonder dat hulle Brynard se boek gelees het. Ek beplan juis om binnekort weer daarvan te gebruik – sunnyside up.

 

- En het baie breed geglimlag oor “die kleuterskool van die Broederbond” (Stellenbosch Universiteit). Ek weet nie waar kom mense aan al hierdie dinge nie en dit is vir my fassinerend. Ek sit en wonder of hierdie uitdrukking voor 1994 al bestaan het, en of is dit iets wat eers nou, by nabetragting, tot stand gekom het? Dit is waarskynlik die eersgenoemde. En dis waarskynlik so dat ek dit net nog nooit gehoor het nie.

 

- Kyk net na hierdie juweeltjie op p. 12 “Maak nie saak hóé nie, vat moet jy hom vat. En hy vat terug. Breek jou bietjies-bietjies af. Stadig, ongesiens. Knak jou in die hoekies van jou binnekamers. Buitekant toe word jy hard. Dit wél. Maar dis binnetoe dat jy slag vir slag ’n bietjie sterf. Dagin, daguit: die breë register van brutaliteit. Die dinge waartoe mense in staat is.”

 

Die “breë register van brutaliteit”. Is dit nie pragtig gestel nie? Maar kyk net hierna:

 

- “Hy skud sy kop. Wil die narigheid uitskud. En hy sien uit na ’n behoorlike dop in Jan Cats. Wat hom aan Blikkies herinner: ‘Drank los nie jou probleme op nie, maar die fok weet, tee en koffie ook nie!’. (p. 327)

 

- “Die middeljarige vrou wat die voordeur ’n rukkie later vir hulle oopmaak, het baie myle op die gesig. Sy lyk nie naastenby soos Ghaap verwag het nie. En sy praat Afrikaans. Boerevrou. En bebliksemd. Knaterkraker van die eerste water, besluit Ghaap.” (p. 349)

 

Daar is so baie wonderlikhede aan Brynard se ONSE VADERS. Ek sal net wil aanhou en aanhou. Ek verbeel my iewers was daar die woord “iemande”. Die taal het my totaal fassineer. Brynard is ’n kunstenaar, en ONSE VADERS is haar nuutste meesterstuk.

 

Uit die boeke wat ek al van dr. Micki Pistorius gelees het, het Beeslaar se stryd met kos so sterk klokkie gelui. Beeslaar wat sukkel om spaghetti te eet omdat dit hom aan die maaiers op die lyke herinner. En Beeslaar wat die kruisskyf terugstuur kombuis toe met die versoek om van die laaste bietjie bloed ontslae te raak. Dit gee alles daai lekker gevoel as jy lees. Daai gevoel van ‘ek moet polisiemanne en vroue baie meer jammer kry en waardeer’, selfs al is hulle soms so treurig by die aanklagkantoor.

 

’n Mens sou natuurlik kon argumenteer dat bostaande alles ’n gevaarlike verromantisering van alkohol en geweld is. En dit is tot ’n mate waar. Die gevalle held is so deel van misdaadfiksie dat mens jou kwalik ’n polisieman in hierdie tipe boek kan voorstel wat nie ’n drankie sal waardeer nie (daar is wel sommige sulke hoofkarakters in bv. Deon Meyer se boeke, die een wat die vinnigste in my gedagtes opkom is die veiligheidswag Lemmer, maar hy is nie ’n polisieman nie). Maar die vraag wat ontstaan is, sal mens nog ’n geloofwaardige misdaadfiksieboek kan skryf sonder daardie legendariese drinksessies van die ‘manne’? En sal jy ’n geloofwaardige boek kan skryf sonder dat die mans baie vloek? Veral daardie growwe 4-letter woorde wat so seksueel grafies is? En die antwoord, weereens, is waarskynlik nee.

 

Ek dink hierdie boek sal as ’n goeie geskenk kan dien vir diegene onder ons wat binnekort die Roomse fees gaan pleeg. Ek gaan ook moet. Dis tradisie hier, maar ek doen dit nou onder luidkeelse protes.

 

Ten minste is daar een ding wat ek van die Roomse fees waardeer, en dit is die musiek. Ek het ’n baie hoë agting vir ons Christelike kuns en veral die musiek en ek voel dat liedere wat die geboorte van Jesus van Nasaret herdenk eintlik dwarsdeur die jaar gesing en gespeel behoort te word en nie uitsluitlik tydens die vieringe van die Roomse fees van 25 Desember nie.

 

En vir mense wat gelukkig gaan wees om ONSE VADERS onder die verspotte groen plastiekboom te kry (of dan nou mense wat sommer net besluit om die boek aan te skaf of iewers te leen) – moenie ophou lees voor ten minste bladsy 150 nie. As jy DAN nog verveeld is, dan kan jy maar neersit. Dan gaan Brynard jou nie betower soos wat sy met my reggekry het nie.

4 responses to ONSE VADERS – Karin Brynard

  1. Skuus, Beeslaar se paaie moet met Baz kruis!!!! Het dit uitgelaat by vorige kommentaar

  2. Baie dankie vir Plaas moorde en Onse Vaders.Wat van ‘n volgende boek soos; Beeslaar en Gerda met kinders bly in Kalahari en die dogterjie word ‘n regte Afrika-kind. Praat Boesmantaal ens. en Beeslaar se paaie kruis met lekker leesstof gevolge. Baie dankie Nico

  3. BAREND,
    Daar’s vandag niemand wat meer trots op jou kan wees as hierdie antie nie – dat jy kan aanhou en uithou. Daar moet Van Helsdingen-bloed in jou are vloei!
    Dankie!
    Karin

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>