Profile photo of Barend

by

Dis NEE vir die KP

November 27, 2012 in Uncategorized

Ag dinges, die dinge waarmee mense hulleself darem maar mee besig hou. Die gedagtes. Dis verstommend. Maar dan weer, dan weer is daar diegene wat sal dink om te ‘blog’ is ook maar tydmors. Want so is ons maar dikwels. Ons is almal so, soms. Ons lag in ons moue vir mekaar. Ons vind mekaar vreemd. Dis maar die lewe reken ek. Ons is almal uniek. Dit is net natuurlik dat ons so is.

 

Ek sien hier op CNN hierdie mense wat, die een na die ander, hulself beroep op hulle ‘Christelike morals en waljoes’ daar in die heilige land van Uganda, waar hulle nou gay mense tronk toe wil stuur, sommer lewenslank, omdat homoseksuele mense glo ‘misdaad’ pleeg. En ek raak so die moer in dat ek kan kook, want ons Christene is ook maar dikwels net die grootste praktisyns van double speak wat daar op aarde is. Want ons kies ons eie reëls. Want uiteindelik besluit ons niks minder nie as self wat presies is ‘sonde’ en wat nie.

 

In ons kerke sal jy baie mense kry wat geskei is. Hulle dien op kerkrade en gee Sondagskool en staan selfs op kansels. Die Bybel praat hard oor egskeiding. Maar ’n egbreuker is tog te welkom in ons midde. Solank hy tog net nie ’n ‘moffie’ is nie – dan moet hy tog asseblief net weggehou word van ‘die kinders’ af. En baie ander tipe sondaars is ook welkom om sonder voorbehoud in die samelewing te dien, net solank hulle nie gay is nie. Want gay is mos groter tipe sonde as ander tipe sondes sien.

 

Oei nee regtigwaar. Ons het genoeg politieke partye in hierdie land wat veg vir ons ‘Christelike waardes’ (van onverdraagsaamheid) en die behoud van krismis. En is die karkas van die KP nie in elk geval so aantal jare gelede uiteindelik opgeslurp deur die nuwe, ‘verbeterde’ VF+ nie? Die VF+ wat in die parlement weier om vir ’n gay mens geluk te sê oor ’n kompetisie wat gewen is … Ek dink Treurnicht sou trots kon wees op hulle.

 

Ai ek hoop ek kan dit tog gespaar bly. Ek sien weer in my geestesoog ’n beswaarde oom wat kla – ja, dit is mos nou so dat die vrou oral moet regeer. Die vrou moet oral bo wees. In die politiek. By die werksplek. Op die kansel en selfs in die slaapkamer. Dis alles tekens van die Nuwe wêreld Orde en die tyd van die antichris.

 

Wel, ek moet ter versagting sê dat ek glo wel dat dr. Treurnicht en sy tydgenote net goed bedoel het. Hierdie stelling is ook waar van dr. Verwoerd. Dit is maar so dat die ou mensdom dikwels wil gryp na die verlede, en na ‘hoe dit was’, veral in tye van onstabiliteit. Maar ek dink ek begin dalk nou verstaan hoekom ek so vies kan word. Dit is omdat ek bekommerd is. Uganda is geografies nie ver verwyderd van Suid-Afrika nie. Die vlakke van onverdraagsaamheid in daardie land, sowel as die voorstel dat die KP weer moet herrys, is nie goed vir my gemoed nie.

 

My voorstel aan kiesers wat die KP weer wil sien sal wees om maar liewer die VF+ te begin steun. Die VF+ is tog uiteindelik maar net die ‘infinite light’ weergawe van die destydse KP. Maar sulke mense moet ook onthou dat dr. Treurnicht (gawe man wat hy was) in sy lewe ook bekend gestaan het as “dr. No”. Want dit was nee! vir die afskaffing van apartheid, nee! vir hervorming, nee! vir gays en nee!, nee!, nee! vir deelname aan die ‘nuwe Suid-Afrika’. In kort, nee! vir verandering.

 

So, as die KP ooit herrys en deelneem aan die huidige Suid-Afrikaanse politieke bestel, dan sal wees teen die grein in van hulle eie beleid van ‘NEE!’ En dit sal ’n totale paradoks wees aangesien die naam ‘konserwatief’ daarop dui dat hulle graag die waardes van jare verby sal wil behou.

 

Ons moet begin bid vir die mense van Uganda.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>