Profile photo of Barend

by

Catches win matches (en red ook renosters)

November 25, 2012 in Uncategorized

Op die krieketvelde het ons hom leer ken as die man met die ‘veilige hande’, en het hy menige kolwer die lang pad terug na die paviljoen laat stap na nóg ’n suksesvolle vangskoot – ’n ware ambassadeur van ons land. Maar dit is duidelik dat die krieketlegende Mark Boucher, met sy onlangse omstrede uitsprake oor die landboubedryf van Suid-Afrika nou regtig bietjie misgetas het. Dit was vir my eintlik pynlik om te lees.

 

’n Mens wens mnr. Boucher wil eerder ’n  “Our Proteas in safe hands” veldtog begin in plaas van die sogenaamde “Our Rhinos in Safe Hands” veldtog, want die magtige Blomme sukkel maar glo doer onder. (En dit nogal met hulle spiksplinternuwe afrigter, al die pad ingevoer van die seëvierende Indië, net om teen hulle eie vorige afrigter waarmee hulle ook nie die mas kon opkom nie swaar te trek.)

 

Dit is waarlik ’n jammerte dat die landbouers alewig die skuld moet kry vir so baie dinge wat verkeerd loop in die landboubedryf. Dat daar boere is wat betrokke is by die stroop van renosters en die onwettige handel in renosterhoring is waarskynlik so. En so is daar ook boere wat hulle arbeiders swak behandel soos wat die regering lief is om te beweer. Maar in beide sake, so glo ek, is dit slegs die uitsondering op die reël en die gevalle waar dit wel gebeur word hierdie dinge totaal uit proporsie geruk en sommer links en regs van toepassing gemaak op mense wat waarlik onskuldig is.

 

Nog ’n boer uit die landboubedryf. Nog ’n mens met 20 jaar se kennis daarmee heen. ’n Mens wat op sy eie meer renosters sou gered het as wat CITES in sy ganse bestaan sal.

 

As ’n mens maar net ’n eenvoudige studie maak van die hofverrigtinge wat rondom sake van renosterstropery plaasvind, dan is dit tog duidelik dat dit die absolute uitsondering is waar boere self betrokke is by die stropery van renosters.

 

Nee wat. Ek het persoonlik al verskeie kere vir mnr. Boucher gecheer in sy lang loopbaan. Dit is jammer dat ek hom vandag moet ‘boo’, maar hy laat my met geen ander keuse nie.

 

Jy kan jou land nog baie dien mnr. Boucher – veral in krieketkringe!

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>