Profile photo of Barend

by

.

November 25, 2012 in Uncategorized

Die Demokratiese Alliansie (DA) se groot kongres het nou afgeloop en dit is waarlik ’n interessante situasie wat besig is om te ontwikkel in die Suid-Afrikaanse politieke landskap. Hier by die Barend van der Merwe blog roem ons graag daarop dat ons nie polities voorskriftelik is nie. Inteendeel, ons beleid is nog altyd dat daar nie ’n een enkele politieke party of politikus bestaan wat onvoorwaardelik vertrou kan word nie. En ook onder geen omstandighede nie. Dink maar aan daardie geykte stelling, geagte leser, dat, “power corrupts, and absolute power corrupts absolutely” – laat ons nooit hierdie woorde vergeet nie. Laat ons dit oordink in aanloop tot 2014 en vir res van ons dae op aarde. En laat ons dit vir jongmense vertel: of dit nou in die parlement, in die Uniegebou, op die kansel of voor ’n peloton, in ’n raadsaal of selfs voor ’n klaskamer is – mag maak mense dikwels blind. Selfs in intieme liefdesverhoudings, dalk veral daar. Al wat mens kan doen in die politiek, so glo ek, is om die ‘beste’ van die ‘swakste’ te identifiseer. En dit is maar ’n besluit wat elke mense self moet maak.

 

My eie besinninge oor die politiek is dus maar net terloopse kommentaar en ek wil geen mens aanmoedig om vir of teen enige spesifieke party te stem nie.

 

Maar nou. Die DA. Dit is opvallend met hoeveel venyn die regerende African National Congress (ANC) op die DA reageer die laaste tyd. Dit is waarlik interessant opvallend. ’n Mens sou dink dat die magtige ANC eintlik heel gemaklik sal wees met die DA. Dat hulle nie eintlik bedreig sal voel deur die DA nie. Maar tog kry mens die indruk dat die regerende party al meer ongemaklik raak met die DA.

 

Dit was opmerklik, terwyl mens die afgelope naweek na die herverkose leier van die DA, me. Helen Zille geluister het, om te hoor hoe poëties sy raak in haar toespraak terwyl sy met redelike gemak tussen drie van die land se grootste amptelike landstale gespring het. Die hele kongres was glo gekenmerk aan ’n inklusiewe gees soos wat nog selde voorheen gesien is. Daar is selfs glo simboliese gebare van die regerende ANC oorgeneem.

 

Dit is reeds lankal bekend dat die DA graag die erfenis van die ANC omhels. En dit is wat die DA so ’n gevaarlike party vir die toekoms maak. Want anders as talle van die stringe ander politieke partye in Suid-Afrika, beskou die DA die erfgoed van die ANC ook as sy eie erfgoed. Die ANC se erfenis is ook die erfenis wat die DA skynbaar saam met homself sal wil neem in die toekoms van Suid-Afrika in. Die boodskap is herhaaldelik gehoor dat dit korrupsie en swak bestuur ens. is waarvan daar ontslae geraak moet word.

 

En, wat die DA selfs méér interessant maak, is dat dit, ten minste op die oog af, baie meer daarin geslaag kry om inklusief te wees. Baie meer as talle ander partye.

 

Want verskeie van die top leiers binne die DA is vroue. Die DA se leier in die parlement is ’n swart vrou. En sy is nou wel nie ’n simbool van swart lyding nie. Maar sy is wel swart. En uiteindelik is dit die persepsie wat swaar weeg in ’n land wat maar nog redelik ras behep is 22 jaar na die afskaffing van apartheid.

 

Toe me. Mazibuko verkies is tot leier van die DA in die parlement was ek maar baie skepties oor die aanstelling. En tog wil dit voorkom asof sy besig is om ’n sterk leier te word ten spyte van die beeld wat sy onder talle mense in die regerende party het, naamlik dat sy maar bloot ’n marionet is. Die feit van die saak is, persepsie is ’n kragtige ding. As jy persepsies kan manipuleer, dan kan jy baie dinge regkry. En persepsie is uiteindelik die grootste wapen wat die DA het.

 

Maar dit is ook hier waar die DA baie versigtig sal moet wees as hulle nie hul posisie wil verswak nie. Die feit van die saak is dat die DA, veral sedert 2004, met die samesmelting van die sg. Nuwe Nasionale Party en die ANC, beslis nou ’n tipe “tradisionele” steunbasis het. En dit sal my nie verbaas as talle van hierdie “tradisionele” ondersteuners van die DA nie met hierdie nuwe beeld van die DA gaan kan assosieer nie.

 

Die DA is in ’n oorgangstydperk. Dit is ’n fassinerende party wat besig is om stadig maar seker, stukkie vir stukkie, reg te kry wat baie ander partye nie waarlik kon regkry nie. Daar was die United Democratic Movement, wat met daardie beeld van ware versoening gesmokkel het. Daar was die Congress of the People, wat daardie magiese gees gehad het met sy totstandkoming, net om dit spoedig te verloor. Daar is die ANC self, wat toenemend rasgedrewe uitsprake maak soos wat dit bars onder die stortvloed van kritiek en die vrot beeld wat die party het.

 

En onder sulke omstandighede is dit eintlik niks anders nie as te verwagte dat daar mense gaan wees wat skynbaar jaloers is op wat die DA besig is om reg te kry.

 

Die mees veelseggendste stukkie inligting wat onlangs vir my na vore getree het, was toe me. Zille onlangs aangekondig het dat die gaping tussen ryk en arm die heel kleinste is in die Wes-kaap. Hoe waar dit is sal ek nie weet nie. Waar haar statistiek vandaan kom sal ek ook nie weet nie. Maar hoe vernederend moet hierdie bewering nie wees vir die party wat regeer in die ander 10 provinsies nie…

 

Dit is te betwyfel of die DA spoedig die regerende party van die land sal word (indien ooit). Die groot vraag gaan eerder wees of die party die tipe koers sal kan volhou in die jare wat sal kom. Want ek wil tog glo dat die werk waarmee hulle besig is van kritiese historiese waarde vir die land is en gaan wees, indien die staat in sy huidige vorm sal oorleef. Die rol van opposisie moet nooit onderskat word nie. Opposisiepolitiek hou die sleutel van die oorlewing van baie state op aarde.

 

Die tweede groot vraag sal wees: is die DA WAARLIK besig om presies so inklusief te word as wat hulle beeld tans te kenne gee. Want indien dit nie waarlik ’n verandering is nie, dan is die onlangse gebeure by hulle groot kongres ’n gevaarlike dobbelspel vir hulle. Anders gestel, as die DA nie daarin gaan slaag om waarlik die tradisionele steun van die ANC af te rokkel nie, dan sal dit my nie verbaas as die DA talle van sy meer ‘tradisionele’ kiesers gaan verloor weens dié party se nuwe beeld nie.

 

Maar op grond van die drastiese uitsprake van sommige leiers binne die regerende party kan mens nie anders as om die indruk te kry dat daar heelwat ongemak is oor die ‘meritokrasie’ wat die DA besig is om vir baie mense te word nie – iets wat die regerende party hulle nie meer bied nie. En daarby moet die krag van die jeug ook nie onderskat word nie. Die onlangse sensus dui daarop dat Suid-Afrika se populasie al jonger en jonger word, en die DA is besig om jongmense baie beter te mobiliseer as wat die regerende party dit regkry. Inteendeel, dit is bekend dat daar maar ’n redelike gespanne verhouding tussen die jonger geslag en die ouer geslag binne die regerende party is.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>