Avatar of Barend

by

Die wêreld is ’n vreemde plek vol teenstrydighede

November 21, 2012 in Uncategorized

Die wêreld is ’n vreemde plek. Regtigwaar. Dit is vreemd hier op planeet aarde. En ek gaan nie eens ingaan op die fisika agter ons bestaan nie. Ek weet net eenvoudig te min van sulke dinge. Ek is te ‘dom’ om daaroor te skryf. Die misterieuse wêreld van kwantumfisika. Die manier hoe reëls verander. Van een plek na die volgende. Ons elementêre begrippe waarmee ons die aarde geografies beskryf, na gelang van ons behoefte en bepaalde uitsigpunt. Hier by ons is daar ’n ding soos ‘bo’ en ’n ding soos ‘onder’, en daar is ‘Oos’ en ‘Wes’.

 

Maar in die uitspansel bestaan daar nie ’n bo of onder nie. Daar is nie regtig rigting nie, soos ek verstaan (en ek verstaan maar min, dit weet en erken ek ook). Die punt wat ek maak is dat ons basiese geografiese konsepte geld nie in die ‘hemel’ nie.

 

Dit is soos om Afrikaans te gaan probeer praat in, sê Frankryk.

 

Ek het die anderdag so ’n lekker gesprek gehad met die een man. Hy is toevallig ook ’n blogger hier in ons midde (sy jongste plasing handel oor die beplande virtuele pornografie van sy moederland). Dit was heerlik om met hierdie mens te kon gesels oor Suid-Afrika en sy ervaringe en wat nog. Hy was onlangs in die Kaap toe die geweld uitgebreek het en ek het so baie dinge by hom geleer al.

 

Maar wat my veral opgeval het is dat ’n mens sigbaar die vrees aan sy ingesteldheid kon waarneem. Op ’n stadium tydens ons geselsie, toe beweeg daar ’n tipe pantservoertuig van die polisie verby ons. En dadelik was hy vreesbevange. Hy het my vertel dat hy nooit tydens sy verblyf in Suid-Afrika die area waar hy bly te voet verlaat het nie. Hy was net eenvoudig te bang.

 

En laat ek net sê, ek het die grootste begrip hiervoor. Ek verstaan baie goed hoekom hy as’t ware oorversigtig is. Ek meen, ek word dan sélf soms bang as ek op straat loop. ’n Mens kan nie bekostig om nié versigtig te wees in hierdie land nie. Ons wat burgers van hierdie land is, is maar self dikwels versigtig. Mens sal onverantwoordelik wees as jy nie is nie! Maar nou, vir dit wat jy dalk nou al ’n wyle antisipeer, die ‘maar’.

 

Maar.

 

Hier in my omgewing het ek al gesien, hier was ’n vrou van die Ooste iewers af. Ek kan nie meer onthou of was dit ’n mens van China of Taiwan of Taitwo of waar ook al nie, maar sy was ’n kort, klein vroutjie wat na ’n klompie weke baie meer Soetoe kon praat as ek wat al my lewe in hierdie land bly. En sy het geloop net waar sy wou.

 

En so weet ek ook van so ’n Duitse dame. ’n Klein, fyn vroutjie. Beeldskoon, en blond, soos wat Duitse vroue mos dikwels is. ’n Mens sou dink dat ’n aantreklike vrou soos sy, wat boonop nie eens kan Afrikaans praat of verstaan nie (die enigste landstaal van Suid-Afrika wat sy magtig was is Engels, en dit is nie eens haar eie eerste taal nie), ’n mens sou dink dat iemand soos daai amper paranoïes sal wees. Ek meen, dit is Suid-Afrika waarvan ons praat! Stap in ’n boekwinkel in en jy sien stapels boeke oor die wandade wat die mans van hierdie land aan vroue doen.

 

Dit is in die koerante. Dit is in die misdaadstatistiek. Dit is in ons gewetens en in ons gemeenskappe se trane en se stukkend wees. Dit is oral.

 

Maar wat doen sy? Sy loop net waar sy wil. En sy gesels met mense oral waar sy kom.

 

Nou wil ek net weer herhaal wat ek reeds gesê het, en dit is dat ek kritiseer nie mense wat wel versigtig is nie. Dit is goed dat mense versigtig is. Dit is méér as goed. Dit is BELANGRIK dat mense versigtig is.

 

Al wat ek sê is dit is darem maar vreemd hoe mense verskil is dit nie?

 

Ek meen, dit is nie asof hierdie dame dom is nie. Die Duitsers is nie juis bekend vir lae intelligensie nie.

 

Al wat ek weet is dat, die wêreld is ’n vreemde plek. En ek weet ook ek is reg as ek so sê.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>