Profile photo of Barend

by

stertjie aan die storie*

November 20, 2012 in Uncategorized

Die kadawer was uitgestal vir die publiek om vir oulaas te kom en afskeid te neem. In hulle massas het hulle opgedaag. Oud en jonk, ryk en arm, lelik en mooi, swart en wit, dié ding was soos ’n dwelm – dit ken nie klas of kleur nie. Toe dit my beurt was, het ek my kyk opgeslaan na die hemel, van waar ek dit stadig maar seker laat sak het en op hóm laat rus het. Die harige hoof het uitgestaan, veral teen die onindrukwekkende en uitgeteerde res. Die twee horinkies was veel kleiner as wat ek verwag het, en ’n onwelriekende geur het my neusgate gevul. Daar was baie gerugte wat rondgeloop het, uit die aard van die saak kan mens seker sê, maar hoofouderling Minnaar, die dorp se enigste geakkrediteerde dokter, het self ingespring en die gerugte die nek ingeslaan. Omdat hy immers sélf die outopsie gedoen het. Omdat sy reputasie op die spel was.

 

Ek was jaloers op al die mense wat so nonchalant verby kon beweeg, veral toe dit vir my gelyk het of die stert bietjie beweeg het nét toe ek begin aanstap. Ek kon my hart hoor klop in my keel.

 

Ek was nie uitgenooi na die begrafnis nie en moes dit maar soos al die ander belangstellendes op televisie volg, maar toe dominee Dekker die daaropvolgende Sondag by die aanddiens haar hande in die lug steek om die seën uit te spreek, toe trip die krag! Ons het toe drie minute só daar gesit, en die mense wat skelm met hulle selfone besig was toe die ligte afgegaan het se gesigte het spookagtig gelyk in die stikdonkerte.

 

Maar die lig was toe terug, en ons het 6 keer ‘amen’ gesing en het toe huiswaarts gekeer, maar die stories wou nie saam met die mense gaan le nie.

 

En dit het oggend geword en dit het aand geword en dit was die soveelste nag.

 

En omdat ek nie geslaap kon kry nie het ek dokter Minnaar se spreekkamer gebel maar sy sekretaresse het gesê hy is nie beskikbaar nie maar dat dokter gesê het dat as ek bel dan moet sy vir my sê dat dit doodnormaal is by nadoodse gevalle en dat dit is oor die bloed wat verdik.

 

*Stertjie aan die storie is die produk van hierdie blogger se verbeelding en enige ooreenkoms met werklike gebeure is blote toeval.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>