Avatar of Barend

by

Minder is beslis meer (al sal die lewe jou anders leer)

November 20, 2012 in Uncategorized

Binne die Christelike tradisie beskou ons dit as ‘sonde’ om die Here se naam ydelik te gebruik. Ek het vandag hierdie sonde gepleeg. Ek het ’n berig gelees oor die sogenaamde ‘Modimolle-monster’, Johan Kotzé, en toe ek weer sien toe het dit klaar gebeur.

 

Ek dink my misbruik van die Jesus se naam was eintlik ’n soort aanklag. Ek glo dat ons as gelowiges wel kwaad mag raak vir God. Ons mag vra, waar was U, Here? Hoekom laat U hierdie dinge toe? As ons wat sê ‘ek glo’ dan soms twyfel oor ons aansprake en oor of God ooit regtig bestaan, hoeveel te meer moet mense wat in geen god glo nie, nie óók twyfel oor ons as gelowiges se aansprake nie? En wat is ons as gelowiges enigsins beter as die mense wat nie glo nie? Ons is nie beter as hulle nie, ten minste ek glo nie ek is beter as ongelowige mense nie. Ek kan nou ongelukkig nie sê ek verteenwoordig die ganse Christendom met hierdie opmerking van my nie, maar dit is maar my mening.

 

Ek het toevallig ook ’n lang stuk oor boelies op die radio gehoor vandag op Radio Sonder Grense.

 

Daar is ’n ware spreekwoord in die rooitaal. Dit lui so: ‘Nice guys finish last’.

 

Ons lewe in ’n wêreld waar onreg dikwels beloon word.  As jy in die ‘wêreld’, daar buite, ingaan, en jy wees net jouself, dan is daar ’n goeie kans dat jy baie verwerping gaan beleef.

 

Maar gaan nou en ‘speel saam’ aan die speletjies wat mense speel, dan kan jy dalk baie meer slaai kry as wat jy sou kry as jy net eerlik was en net jouself was.

 

Ek praat tog uit ’n mate ondervinding.

 

Maar ek dwaal nou tot ’n mate. Wat ek eintlik oor wil praat is ons regstelsel. Nou is ek nie regsgeleerd nie, maar dit vat nie ’n vuurpylwetenskaplike om te weet dat ons regstelsel uiteindelik net ’n mate van reg en geregtigheid aan ons samelewing laat geskied nie. ’n Vasgestelde stel reëls geld vir almal. Almal het ‘regte’, maar die ou wat binne die reëls speel boet eintlik maar baie van sy regte in in ’n stelsel soos ons s’n. Want die oomblik wanneer ’n krimineel ‘regte’ het, dan word dit tot die maksimum misbruik. Veral in gevalle waar die krimineel oor ’n besondere mate van intelligensie beskik, dan kan jy jou maar gereedmaak. Die ‘nice guys’ gaan beslis 2de kom. Weer en weer en weer. Die mense wat die regte dinge doen, húlle lewens word verwoes. Húlle moet betaal vir hierdie ‘reëls’ wat ons probeer handhaaf.

 

Boelies is ’n goeie voorbeeld. Leerders wat klasse ontwrig en mede skoliere se emosionele en fisiese welstand bedreig word dikwels verdra omdat hulle ‘regte’ het. Die boelie se regte moet dikwels tog net ten alle koste beskerm word, ook ten koste van die onskuldige party(e).

 

Ek moet erken ek is nie oortuig deur Johan Kotzé se sogenaamde ‘trane’ nie. Ek volg nie eintlik hierdie saak nie, en ek kan die pot lelik mis sit hier, maar ek het geen rede op hede om die getuienis in twyfel te trek nie, en wat ek daaruit aflei is dat hierdie man geen hart het nie en waarskynlik ’n psigopaat is.

 

En psigopate huil graag, veral as hulle weet die trane kan vir hulle ’n paar punte laat wen en hulle vonnisse verkort.

 

En dis ook maar al hoekom hulle graag huil.

 

Talle psigopate het al in die verlede owerhede mislei en die wanindruk geskep dat hulle ‘gerehabiliteer’ is, net om maar weer soortgelyke wandade te gaan staan en pleeg kort na hul vrylating, en opnuut die ‘nice guys’, die onskuldige mense se lewens vir ewig te gaan staan en verwoes.

 

Ons lewe in ’n wêreld wat dikwels die indruk skep dat leuens jou beloon, veral in die kort termyn (maar ook op ’n meer gevestigde skaal, soos byvoorbeeld Hollywood).

 

Dit is hoekom ek so ten gunste is van die doodstraf (natuurlik vir moordenaars, verkragter ens. ens., en NIE vir Hollywood sterre nie). Die doodstraf het ongetwyfeld al in die verlede daartoe gelei dat onskuldige mense ‘tereg gestel’ was. Maar baie baie meer mense se regte is al ontneem as gevolg van die feit dat moordenaars en verkragters se ‘regte’ tog net ten alle koste beskerm moet word.

 

Daar is ’n maklike manier om te sorg dat so min as moontlik mense verkeerdelik ter dood veroordeel sal word, en dit is deur die onderwysstelsel op sy maksimum te laat presteer.

 

Die samelewing moet bemagtig word om meer krities te kan dink, en al manier hoe ons dit gaan regkry is om ’n kultuur van kritieke denke gekoppel aan verdraagsaamheid te vestig in hierdie land deur middel van opvoeding. Verdraagsaamheid teenoor mense wat ‘anders dink’ as onsself. Verdraagsaamheid en ’n kritiese ingesteldheid – dit is wat ons nodig het.

 

Ons moet die waarheid en die werklikheid rondom ons genoegsaam kan bevraagteken. Ons moet besef dat wat ons glo dikwels nie ‘die waarheid en niks anders as waarheid’ is nie, maar dat dit onderhandel was. As ’n eenvoudige voorbeeld wil ek dit stel, wie het besluit groen is groen? En wat as ons besluit het die woord ‘blou’ verteenwoordig eintlik die kleur ‘groen’? Dan was groen nie groen nie, maar blou. Ons glo so maklik wat vir ons vertel word. Ons glo maar net, want dit was maar altyd so. Dit is presies hoe apartheid gewerk het. Ons het maar geglo dit is hoe dit is en moet wees.

 

En net so glo baie mense vandag se regering is ook maar hoe dit is en moet wees. Want ons word nie genoeg geleer om krities te dink nie.

 

En nou moet ek maar bely dat ek ‘gevloek’ het. Binne sekere gemeenskappe oor die verloop van tyd, sou ek die doodstraf vir so iets gekry het. Vandag weet ek dat, sou die regering besluit om my ter dood te veroordeel vir so iets in Suid-Afrika, dan sal die meeste Christene in hierdie land beslis nie die regering se kant kies nie.

 

En dit bewys net weer dat die ‘waarheid’ ’n saak is wat ons oor onderhandel. Want daar sal gemeenskappe wees wat juig as iemand tereg gestel word oor die misbruik van ’n god se naam. Maar in Suid-Afrika, met sy 70 of 80 persent Christene sal dit nie geduld word nie. Nes die doodstraf ook nie geduld word nie – ’n straf wat dikwels in die Bybel aangevoer word as regverdig, vir onder meer gay mense.

 

My eie mening oor Johan Kotzé, moet ek dus erken, is ook maar relatief. Ek voel maar net eenvoudig dit is nie reg nie.

 

Ek meen, as ek hier uitstap op straat en die man oorkant die pad gaan vermoor, dan kry ek ’n dak oor my kop en kos, terwyl hý sy hele lewe kwyt is. Toegegee, die tronk is nie ’n vakansie nie, maar die feit van die saak is dit is dikwels so dat as jy binne die reëls van hierdie land speel dan het jy nie eens die versekering dat jy more of oormore kos gaan he en ’n dak oor jou kop sal he nie. Dit kom alles terug na die feit toe dat die wêreld dikwels onreg in die kort termyn beloon.

 

Die man wat langs die pad staan en vir ’n stukkie handearbeid smeek staan ’n kans om daai dag geen werk te kry nie en ook geen kos nie, terwyl die een wat gaan roof en moor en verkrag verseker gaan wees van sy bord kos.

 

Nice guys finish last. En daar is te min mense wat bereid is om laaste te eindig. Maar Goddank daar is darem nog sulke mense. Goddank.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>