Profile photo of Barend

by

Twyfel oor die hemel al bely ek dit

November 18, 2012 in Uncategorized

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep”. En so begin die heel eerste boek in die Bybel. God, so word mens geleer, bestaan nog altyd. Daar is eintlik geen tyd by God nie. Daar is nie ’n Breitling brigade in die ewigheid nie. Jy los daai Breitling hier in die fisiese dimensie. Hy gaan nie saam nie.

 

En die hemel dan?

 

Ek het nog nooit die boek ‘die hemel is ’n werklikheid’ gelees nie maar ek wil nog eendag. Ek is nuuskierig.

 

Daar is hierdie een man wat sê die Here bly nie in die hemel nie. Ek meen, dis ’n goeie vraag. As God tog nog altyd bestaan, sonder begin of einde, dan was ‘die hemel’ tog nie Sy tuiste nie. Want die “begin” wat Genesis na verwys, is nie die begin van God nie, maar die begin van die mens. Of wat praat ek alles? En die Bybel is duidelik dat die hemel nie sedert alle ‘tye’ bestaan het nie (hieroor stem die Bybel en die sterrekundiges wonderbaarlik skynbaar saam).

 

Die hemel  is ’n plek in die harte van gewone mense. Dit is ’n spirituele toestand. Dit is die Christen se nirwana kan mens amper seker sê. Dit is die enigste verklaring.

 

In die kerke verkondig ons natuurlik dat Jesus ‘opgevaar het na die hemel … vanwaar Hy sal kom om te oordeel’. Nou ja, ek bely hierdie dinge ook, maar ietwat langtand dit erken ek. Mens kan nie help om te wonder nie. Is Jesus tog nie maar net soveel ‘hier’ soos wat Hy in ‘die hemel’ is nie? Maar volgens ons belydenis is Jesus “aan die regterhand van God, vanwaar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterwe het.”

 

En ons sê dat Jesus ‘ op die derde dag opgestaan het uit die dode, wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God’. Jesus was met ander woorde drie dae dood. Maar volgens die Lukas evangelie het Jesus glo vir die man wat aan die kruis langs Hom gehang het gesê “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lukas 23:43).

 

Dit is maar vreemd. Die woord ‘paradys’ is maar vreemd. Dit eggo iets van die hele 2de Adam interpretasie. Waar die mens teruggebring word na sy ‘oorspronklike toestand’, al die pad terug na die ‘paradys’ toe. Die tuin van Eden.

 

Die kritici sal sê dat hierdie opmerking van Jesus as ’n bewys dien dat Jesus eintlik geglo het dat Hy besig is om ’n aardse koninkryk te kom vestig. Maar net ’n ent verder kry mens vir Jesus waar Hy bid en sê ‘Vader, in u hande gee ek my gees oor’.

 

Dit is duidelik dat die ‘paradys’ nie ’n fisiese plek is nie. Die ‘paradys’ is ook nie regtig ’n ‘paradys’ nie. Dit is ’n toestand binne die beperkinge van die vlees. Dit is ’n ingesteldheid waar die gelowige leef in ’n stukkende wêreld sonder om self stukkend te wees.

 

Daarom twyfel ek of daar iets soos ‘die hemel’ is, soos wat talle mense dit verstaan as ’n plek waar die Here bly.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>