Profile photo of Barend

by

.

November 17, 2012 in Uncategorized

Ek het gister geluister na die draadloos. Toe hoor ek daar vir professor Pierre de Vos. Nou was ons al erg krities op hierdie blog teenoor prof de Vos. Die man het soms die manier om jou te wil laat sing, soos Robbie Wessels sing ‘Hou vas jou matras, want de Vos is weer los’ (hoewel dit ’n ander de Vos is wat Wessels oor sing as Pierre de Vos). Maar vandag wil ek sê dat ek het groot waardering vir wat prof de Vos alles daar gesê het op die draadloos gister. Prof de Vos het in sy gesprek die oproep om ’n wet te maak wat verhoed dat president Zuma beledig mag word gekritiseer.

 

Self is ek geen regskenner nie, maar soos wat ek die Grondwet verstaan, is dit ’n basiese reg van elke Suid-Afrikaanse burger om ’n ander burger te mag beledig. Ja, ons mag mekaar beledig, selfs al is die belediging nie juis gebaseer op feite nie.

 

Die feit is, die mens is ’n emosionele wese. Ons maak nie altyd besluite op harde feite nie, en selfs in gevalle waar ons van sinvolle data gebruik maak om die wêreld rondom ons te interpreteer, dan interpreteer ons soms daardie data verkeerd. Maar bowenal is ons gevoelswesens. Ons maak dikwels van ons ‘gut feeling’ gebruik. En dit word maar baie beïnvloed deur ons agtergrond.

 

Waar presies lê die grens tussen gesonde kritiek en haatspraak? Ek is nie presies seker nie maar ek dink dit raak eers gevaarlik wanneer die een party ’n oproep begin doen om nie meer ’n ander party te verdra nie.

 

So byvoorbeeld: Enige iemand mag sê dat Barend van der Merwe ’n leuenaar en ’n lafaard is. Dit sal ’n mening wees. Maar jy mag nie die bestaansreg van die een wat jy as ’n leuenaar beskou in twyfel trek nie.

 

Die onus is op die regerende party om aan die mense van hierdie land te bewys dat die regerende party se leiers waardig is. Ons lees hoe die president die howe minag. Ons lees hoe hy (Zuma) seksueel losbandig lewe en kinders buite die eg verwek net om die volgende dag as pastoor in die kerk ingewy te word en die titel van ‘gesinsman’ op sy bors dra.

 

Ons sien hoe die regerende party dikwels in die verlede bloeddorstige uitsprake van sy lede geduld het, uitsprake soos dat blankes kriminele is.

 

Die feit van die saak is dat die regerende party se leierskap mense dikwels mislei. Wat presies verwag jy as jy mense mislei? Verwag jy dat hulle jou voete gaan soen? Nee, mense wat mislei en bedrieg word is gewoonlik bitter. Hulle koester wraakgedagtes. Hulle spoeg vuur. Dit is tog net menslik!

 

’n Ander ding wat prof de Vos gesê het is so baie waar, en dit is dat, as president Zuma dan nou sulke spesiale ‘beveiliging’ kry, hoekom kan die res van ons dit nie ook kry nie?

 

Die grens tussen beledig en haatspraak is dalk bitter bitter fyn, maar die vraag wat outomaties by my ontstaan is, is dit nie ongrondwetlik om mense te wil verhoed om mekaar te beledig nie? Beledigings is tog meeste van die tyd nie ’n oproep tot moord nie! En dit is beslis nie altyd haat nie. Ek glo nie minagting is noodwendig haat nie.

 

Kyk maar watse gekke die regerende party van hulself gemaak het met die hele ‘maaifoedies’ saak. ’n Belediging sê baie en dit sê ook niks. Dit hang altyd af van hoeveel substansie dit bevat. En die regerende party verskaf baie van die substansie aan die beledigings wat na hulle geslinger word.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>