Profile photo of Barend

by

.

November 17, 2012 in Uncategorized

Ek wonder of daar ook mense is soos ek wat graag ‘vra dr. Adri’ in die Huisgenoot lees. Party kere dan voel ek skaam omdat ek die goet lees. Dit is tog nie my besigheid nie! Maar miskien is ek net gefassineer deur die konsep dat mense hulle intieme persoonlike probleme so aan die groot klok kom hang in ’n groot publikasie soos Huisgenoot, en dit als in die hoop dat hulle ’n oplossing op die probleem sal kry.

 

Ja, ek kry soms skaam. Voel soms skuldig. Maar dan herinner ek myself net weer dat daar mense is wat die ‘sterre voorspel’ lees. En dan vertel ek vir myself dat mense wat ‘VRA DR. ADRI’ lees darem so bietjie beter is as mense wat ‘wat sê die sterre’ lees. Dit is presies net soos daai Christene wat vir hulleself vertel dat hulle darem bietjie ‘beter mense’ is as die mense wat nooit kerk toe gaan nie. Jy vertel sulke tipe dinge vir jouself en dan slaap jy hopelik bietjie rustiger.

 

Op ’n wetenskaplike basis is die hele sterre voorspel natuurlik niks minder nie as bogpraatjies. Ek het toevallig net vir die interessantheid gaan lees wat sê die ‘sterre’ in Huisgenoot hierdie week. Dit sê ‘Jy moet erken: Die afgelope paar weke het jy hope pret gehad’. Dit is totale nonsens. Die afgelope paar weke was vir my alles behalwe pret. Dit was spanningsvol. En die rede vir dit alles is natuurlik dat die sterre in die hemel weinig invloed op my lewe op aarde het. My opinie is dat astroloë soos Petra du Preez wat vir Huisgenoot ‘die sterre lees’ eintlik maar net hierdie dinge alles uit hulle duime suig.

 

Maar daar is dae wat ek wonder of platforms soos ‘VRA DR. ADRI’ nie ook maar vol nonsens is wat mense uit hulle duime suig nie. Ek wonder soms of mense nie die gek skeer met die nonsens vrae wat hulle aan dr. Adri stuur nie.

 

Hierdie week vind mens die volgende brief in ‘Vra dr. Adri’.Ene André skryf:

 

“Ek het pas ’n wonderlike werkkontrak in die buiteland gekry. Dit is ’n gulde geleentheid wat my ’n wonderlike salaris bied; daarom wil ek nie graag die geleentheid verbeur nie. Maar dit beteken ek sal my vrou net elke drie maande ’n paar weke lank sien. Ek wil nie my vrou bedrieg nie, want sy vertrou my ten volle. Maar ek is ’n man wat baie lief is vir seks en sien swarigheid voorlê. Is daar medisyne wat ek kan gebruik sodat mnr. Jakobregop in beheer kan bly? Ek sal nie graag dokter toe wil gaan nie, want dit sal my manlike ego darem te erg krenk.”

 

Hierdie is nie die eerste tipe brief wat ek al in ‘VRA DR. ADRI’ gelees het wat my laat wonder het of mense nie dalk net gekskeer nie. Ek meen, watse mense skryf hierdie soort nonsens?

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>