Avatar of Barend

by

.

November 17, 2012 in Uncategorized

Daar is ’n verstommende artikel in die Huisgenoot van 15 November.* Absoluut verstommend. Eintlik ook nie heeltemal so verstommend nie, maar tog. Dit handel oor die Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemsensasie Natalie du Toit. Natalie du Toit, wat die vlag gedra het vir Suid-Afrika by die ‘normale’ Olimpiese Spele. Natalie – die versinnebeelding van die menslike gees van uithou en aanhou. Natalie, met die 13 goue medaljes. Athene, Beijing, Londen.

 

Die artikel is baie vaag eintlik, ten opsigte van die politiek in sport verklaar dit dat “dit (is) duidelik Natalie en van die owerhede stamp koppe, die besonderhede bly duister.” Volgens du Toit het sy al haar doelwitte bereik wat sy wou, of dan nou amper al haar doelwitte. Want sy wou eintlik meer goue medaljes gehad het:

 

“Want vir Natalie is drie goue medaljes nie genoeg nie. ‘As ek my tye gehaal het, kon ek vyf gewen het, maar ek het nie genoeg geoefen nie omdat ek toegelaat het dat mense in my kop inkom, my gedagtes beheer. Aan die einde van die dag voel ek soos ’n groot teleurstelling, nie net vir myself nie, maar vir almal wat agter my staan.’”

 

Volgens die artikel is die publieke beeld wat die wêreld van Natalie het eintlik dikwels verwronge.

 

Ons ken almal vir Natalie as die motiveringspreker. En met goeie reg dat iemand soos sý mense motiveer. Ek meen, du Toit hoef eintlik nie eens veel te praat nie en dan inspireer haar loopbaan steeds baie mense. Sy is nie net ’n Paralimpiese en Suid-Afrikaanse verteenwoordiger nie – haar werk as swemster is ’n bewys aan sport (sport in die algemeen) se kritici dat sport ’n kragtige verskynsel is wat sosiale verandering teweeg bring.

 

En indien du Toit se beweringe waar is, en ek het weinig twyfel dat dit is, dan wil ek sê dat haar prestasies in die swembad dés te meer merkwaardig is. Sy sal altyd onthou word as die atleet, die blink ster op die horison wat haar been verloor het en toe in elk geval ’n sukses van haar swemloopbaan gemaak het sonder die been.

 

Eintlik het du Toit se been wat sy verloor het soveel meer DIMENSIE aan haar loopbaan gegee. Sou sy nog so baie mense inspireer het as sy twee bene gehad het? Ek glo nie SO baie nie. Dalk steeds baie, maar nie presies op dieselfde maniere nie en ook nie op die skaal wat sy het nie.

 

Ek meen, vergelyk du Toit nou met Oscar Pistorius. Ek weet, ek weet, mens moet nie eintlik een mens met ’n ander vergelyk nie. Pistorius is in eie reg ’n merkwaardige atleet wat ook die verbeelding van miljoene mense aangryp.

 

Maar vir my is dit so dat waar Oscar blink, daar skitter du Toit. In haar hele loopbaan kan ek nie een enkele omstrede insident herroep nie. Die kere wat mens haar sien deelneem het, het jy die indruk gekry dat sy waarlik deelneem in die algemeen oorwinnende gees (as ek dit so kan stel) van die Olimpiese Spele. Jy sou haar nooit ooit hoor moan oor, sê, dat die ander atlete ’n langer stuk been oorhet en dus beter as sy kan skop in die swembad en daarom ‘bevoordeel’ word nie . . .

 

Mens sukkel om te verstaan dat selfs iemand soos Natalie du Toit geteister word met vrae oor die sinvolheid van bestaan. Na alles. Na als wat sy gedoen het, nie net vir haarself nie, maar vir haar land, vir swem, vir die Paralimpiese Spele, en vir ons, haar ondersteuners, na alles dit:

 

“…Natalie sien net die een ná die ander teleurstelling. ‘En nou voel dit of alles opgebou het tot een, enorme mislukkig.’ Ook in ander aspekte in haar lewe voel sy asof sy gefaal het. ‘Op skool het ek nooit presteer nie; ek het nie universiteit klaargemaak nie.’ … ‘Ek is nie mooi nie, ek is nie maer nie, ek is niks onder die son nie.”

 

Wat is die verskil tussen verras en verstom? Die twee woorde hou op ’n manier verband met mekaar, vermoed ek. Dit het naamlik beide met die ONGEWONE te doen. As iets jou verras, dan is dit omdat dit buite die normale roetine val, in die besonder as dit onverwags was. Dan sê mense, ‘ek was verras’. ‘Verras’ het dus te doen met daardie ongewone dinge in die lewe, maar binne die parameters van die beperkte tydsverloop en die menslike beplanning daar rondom.

 

Verstom gaan ook oor die ONGEWONE, maar dit is nie noodwendig omdat dit onverwags is nie. Jy kan verstom wees oor ’n simfonieorkes of ’n sirkustoertjie – ’n gebeurtenis wat jy beplan het om by te woon. Eintlik het jy onder sulke omstandighede VERWAG om ‘verstom’ te word, en sou jy graag jou geld terug wou he as dit nie gebeur het nie.

 

Of jy kan byvoorbeeld verstom wees as jy uitvind die glanspaartjie in jou dorp se huwelik is eintlik al maande lank op die rotse – ‘want hulle lyk so gelukkig’, het die mense altyd gesê.

 

In elk geval. Ek kan nie sê ek is juis veel verras deur die Huisgenoot artikel “Glorie, maar my siel is dood” nie, maar ek vind dit verstommend.

 

*Alle aanhalings is uit M. Fitzpatrick, ‘Glorie, maar my siel is dood’ in Huisgenoot, 15 November 2012, pp. 10 -11.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>