’n Aantal opmerkings oor die onlangse geweld in die Wes-Kaap provinsie
November 14, 2012 in Uncategorized
Ek weet maar min van wat daar in die Wes-Kaap aan die gang is. Maar daar is tog ’n opmerking of wat, wat ek oor die saak wil maak.
In die ‘ou’ Suid-Afrika sou hierdie saak beslis die regering se skuld gewees het. Maar in die nuwe Suid-Afrika is ons leiers die opswepers.
Die tweede punt wat ek wil maak is dat R70 of R80 baie min is om voor te werk. Hoe sal ’n man nog vir ’n kind ook kan kos koop op daardie tipe loon? Om van ander noodsaaklikhede nie eens te praat nie.
Dit is vir my des te meer skokkend dat die regering hierdie tipe loon nou al vir baie lank goedgekeur het. As hulle waarlik omgegee het, dan sou hulle vroeër probeer het om oor die saak te onderhandel. Om die lone te verhoog, dan nie?
Die derde opmerking wat ek wil maak, is dat ek nie so seker is of die amptelike opposisie in die Wes-kaap juis veel slim skuiwe gemaak het in hierdie hele besigheid nie. Ek meen, ek kan verkeerd wees, maar dis maar wat ek dink. Ons sal maar moet wag en kyk wat in 2014 gebeur, as die Skepper ons spaar tot dan.
Die waarheid is, hulle kan mense net só lank intimideer. Daar is nou baie baie voltydse werkers wat onder al hierdie gebeure ly. Mense wie se lewens nou totaal ontwrig is. En dit gaan aansienlik moeiliker wees om mense op stemdag ook te intimideer.
Dit is ironies vir my, dat die regerende party (die regerende party van die land) die geskorste leier van die ANC jeugliga, meneer Julius Malema, verhoed het om in te tree vir die regte van die arm mynwerkers, maar noudat soortgelyke protesaksies in die Wes-kaap afspeel, nou is opswepery skielik aanvaarbare gedrag.
Dit is veelseggend, en dit is ’n gevaarlike speletjie.
En of dit enige punte gaan wen vir die regerende party (wat ook die amptelike opposisie in die Wes-Kaap is) in 2014 by die stembus, dit sal ons maar moet wag en sien.

colonialist said on November 14, 2012
Hoogs ironies, en ‘n gevaarlike speletjie, inderdaad.
Barend said on November 16, 2012
Dankie vir die lees en terugvoer colonialist.