Profile photo of Barend

by

Kerkorrel tien jaar heen

November 13, 2012 in Uncategorized

Dit was interessant om te sien hoe daar op die TV nuus so hele insetsel was oor die kunstenaar Johannes Kerkorrel, by die, wat sal mens dit nou noem, herdenking (?), van sy heengaan in 2002. Dit bevestig net weer vir my hoekom ek voel ons moet eerder die naam Johannes Kerkorrel in ons geskiedenisboeke skryf vir die nageslag om te onthou (in stede van fokofpolisiekar en die antwoord). Die eenvoudige waarheid is dat Johannes Kerkorrel ’n onuitwisbare merk gelaat het op die Suid-Afrikaanse landskap.

 

Hy word deur talle onthou as ’n soort ‘revolusionêre’ figuur. Maar dit was interessant om te sien presies hoe die spesifieke nuusinsetsel geformuleer was. Ek beskou die bepaalde insetsel as ’n waardige vertolking van Kerkorrel se lewe. Want in die insetsel is dit nie Kerkorrel se polities gelaaide protesmusiek beeld was seëvier nie, maar eerder Kerkorrel die kunstenaar. Dit was bloot hier na die einde van die berig genoem dat Kerkorrel bekendheid verwerf het as protessanger, nadat hy sy werk as joernalis verloor het weens sy uitgesproke berigte in die koerant.

 

Die eenvoudige waarheid is dat begaafde musikante soos Kerkorrel maar sukkel in ’n land waar die meerderheid van ons so swaarkry dat ons eerder musiek verkies wat ons laat vergeet as verstaan. En ek dink Kerkorrel het self iets hiervan blootgelê in daardie legendariese lied van hom, ‘Hillbrow’, waar hy sing:

 

“Ons sit in die son en drink wyn

ons survive met ’n helse lot pyn in hierdie land ja

kom ons drink op die een wat sy drome oorleef…”

 

Uiteindelik, en dan nou ten minste vir myself, was Kerkorrel, wil ek glo, geen ‘revolusionêre’ figuur nie. Nou ja, ’n aardskonserwatis kan mens hom seker ook nie noem nie. Met sy protesliedere en homoseksuele verhoudinge (en ook, soos ek verstaan, die heel eerste gay liefdeslied in Afrikaans op die melodie van ’n ou volkswysie nogal!). Jy kan nie. Maar as mens praat van revolusionêre ‘Afrikaner’ kunstenaars, dan is die naam wat die sterkste in my gedagtes na vore tree die van Breyten Breytenbach. Beslis nie die van Johannes Kerkorrel nie.

 

Vir my was Kerkorrel uiteindelik bo alles ’n briljante kunstenaar. Hy het ’n gawe gehad vir komposisie. Sy musiek sal waarskynlik vir ewig deel vorm van die Afrikaanse musiekerfenis, anders as talle ander meer moderne kunstenaars wie se albums lank na Kerkorrel se heengaan opgeneem was maar alreeds stof vergaar.

 

’n Goeie kunstenaar is wat my betref ’n mens wat ons help om meer te VERSTAAN. Want wat is kuns tog anders as ’n vorm van kennis tendaarstelling?

 

Johannes Kerkorrel het baie mense gehelp om meer te verstaan en minder te vergeet. En vandag sukkel ons om hóm te vergeet. Dit is jammer dat ons nie vandag nog sulke kunstenaars het nie. Dalk sien ek hulle net nie meer raak nie. Maar nee, ons kunstenaars van vandag is dikwels asof hulle nie juis veel het om te sê. Hulle sing nou maar want daar’s groot geld in die ‘entertainment business’. Maar nou ja, as ek die boeke reg verstaan, dan was Kerkorrel, met al sy glorie ten spyt, eerder ’n kerkmuis as ’n Kerkorrel in sy laaste dae op aarde. Boonop het hy kwaai issues met die mediamense gehad, wat weinig goeie woorde vir hom en/of sy werk gehad het. En hom nooit regtig verstaan en aanvaar het nie.

 

Dit verklaar miskien hoekom baie kunstenaars verkies om liefs nie die tipe pad te stap wat Kerkorrel as kunstenaar gestap het nie. Maar dit verklaar ook waarom meeste van daardie kunstenaars nie ’n insetsel op die nuus gaan he ’n dekade nadat hulle dood is nie, en belangriker nog, waarom hulle musiek sal moet plek maak op radiostasies vir bloot nuwer weergawes van hulle eie oppervlakkige wysies, en natuurlik plek sal maak vir die musiek van Kerkorrel.

 

Op ’n meer ernstige noot (ha, ’n noot nogal! Praat van die duiwel). Ek lees dikwels oor selfmoord. En as daar een ding is wat ek tussen al my informele studie geleer het oor selfmoord, dan is dit dat selfmoord nooit ’n probleem oplos nie. Dit kan ook nooit pynloos wees nie. Dit kan pynloos wees in die sin van dis vinnig oor en verby en die oorledene weet nie veel van wat fisiologies met hom/haar gebeur het nie. Maar die pyn wat selfmoord veroorsaak lê in die skade wat dit doen aan die gemeenskap wat agtergelaat word. Selfmoord stroop bykans almal wat agterbly se lewenskwaliteit en waardigheid.

 

En dan is daar nog ’n fassinerende kenmerk van selfmoord, en dit sluit nou aan by die bostaande, en dit is dat weinig mense wat selfmoord pleeg WIL eintlik doodgaan. Die oorgrote meerderheid van sulke mense wil eintlik net die probleem wat hulle beleef opgelos kry. En hulle bereik ’n stadium waar daar, in hulle oë, net een uitweg oorbly.

 

Die hartseer uiteinde is dan natuurlik dat die uiteindelike selfmoord baie meer vrae as antwoorde laat, en dat die oorledene uiteindelik die teenoorgestelde regkry as wat hy/sy beoog met die selfmoord.

 

Maar dit is maklik om vir mense te loop en vertel dat selfmoord ’n leuen is wat nie regtig die probleem oplos nie. Die enigste ding wat mens eintlik kan doen om jou medemense te help is om te veg vir ’n samelewing van groter geregtigheid en verdraagsaamheid. Baie soos wat Kerkorrel self met sy lewe gedoen het.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>