Profile photo of Barend

by

.

November 13, 2012 in Uncategorized

Daar bestaan die persepsie onder sommige dat mense wat in Afrikaanse skole matrikuleer nie regtig goed kan Engels praat nie. Ek het absoluut geen idee waar hierdie persepsie vandaan kom nie maar dit bestaan. Net die afgelope Sondag is die Afrikaanse skole se prestasies weer in die koerante besing.

 

Die oorgrote meerderheid van leerders (indien nie almal nie) wat in Afrikaanse skole matrikuleer, neem Engels as eerste addisionele taal. Hierdie leerders is aan die einde van matriek redelik goed daartoe in staat om in Engels te kan kommunikeer. Gaan toets maar gerus sulke leerders! Gaan besoek ’n gemiddelde Afrikaanse hoërskool en praat met die gr. 12 leerders Engels. Dit sal hierdie sinnelose debat oor of leerders se regte ontneem word indien hulle in Afrikaans studeer tog prakties op die proef stel.

 

Nee wat, ek glo hierdie dinge nie. Ek sal dit nooit glo nie. Daar is geen verband tussen ’n persoon se vermoë om ’n tweede taal te gebruik en die persoon se voorkeur van moedertaalonderrig nie. Inteendeel, ek glo dat mens juis mense se regte skend deur nie aan hulle die opsie te gee om in hul moedertale te studeer nie. Want mens leer die maklikste moeilike konsepte aan in jou eie taal as in ’n tweede of derde taal.

 

Dit was net hierdie afgelope naweek dat die Afrikaanse skole weer so geloof was in die Rapport. En ek wil raai dat die feit dat hierdie mense nog die waarde van moedertaal onderrig hoog ag, speel geen geringe rol in hulle sukses nie.

 

Moet ons enige mens van die reg op moedertaal onderwys ontneem?

 

Ek wens ons kan die terme ‘Engels’ en ‘Afrikaans’ en en en uit hierdie debat kry. DIT GAAN OOR MOEDERTAAL ONDERRIG! En dit gaan oor die waarde, inderdaad die belangrike rol wat ons moedertale in ons gemeenskappe speel (ongeag of dit Afrikaans of Engels of Sesotho of Swahili of wat ook al is). Dit is krities vir die toekoms.

 

N. van Centurion beweer Afrikaans is besig om te sterf, maar die sensus bewys dis eintlik besig om te groei. Moet ons regtig hierdie groeiende getal Afrikaanse mense ontneem van die reg tot onderwys in hulle moedertaal?

 

Ek dink geen mens behoort ontneem te word van onderrig in hulle moedertale nie. Dit is vir ironies dat sommige mense in hierdie land so verskriklik anti-koloniaal kan raak in hulle retoriek, maar dan word Engels nagejaag asof dit manna uit die hemel is.

 

Mens kry selde dat ‘Engelse’ mense hulle kinders na skole sal stuur wat nie in Engels onderrig nie. Jy kry dit soms, maar dis min. Selfs daar waar hulle bly in streke waar Engels nie oorheers nie, word die kind maar liefs na Engelse skole gestuur. En hoekom? Want hierdie mense weet hoe kosbaar moedertaalonderrig is. Dit is een ding wat baie Boere maar by die Engelse kan leer.

 

Die kakies kon nie eintlik goed skiet in die Boereoorlog nie, maar jou moedertaal, so glo ek, is die sterkste wapen wat jy het tot goeie geletterdheid. En dit weet ‘hulle’ duidelik beter as wat baie van ‘ons’ dit weet.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>