Profile photo of Barend

by

Wat van ’n ‘AIR KONSERTINA’ toernooi????!!!!

November 12, 2012 in Uncategorized

Ek het twee geheime wat ek nou gaan deel. Ek kan NOGSTEEDS nie kom oor die wonderlike CD wat ek gekry het by Radio Rosestad nie. BALKE TOE Boeremusiek. Ek luister die ding nou amper dag en nag. Ek is amper soos ’n tiener met die nr. 1 album van die Billboards af.

 

Maar dis nie een van die twee ‘geheime’ wat ek wil deel nie. Die een groot geheim is dat ek, Barend van der Merwe, nou besig is om in ’n ‘air konsertina’ speler te verander. Dit is presies net soos die baie bekende ‘air guitar’, maar net met (of dan nou sonder) die konsertina.

 

Sien, die ding is, ek is self ’n kitaarspeler. Ek dink vir daardie presiese rede sal ek waarskynlik nooit ooit ’n knap ‘air guitarist’ word nie. Ek sal net nooit gemaklik kan wees deur te maak of ek kitaar speel terwyl ek weet ek kan die ware Jakob tog tot ’n mate speel nie. Maar die laaste tyd het ek erg geoefen en geskaaf aan my vaardighede as ‘air concertinaist’. Veral op wysies soos ‘Tant San van Christiana’.

 

En daarmee wil ek my tweede groot ‘geheim’ hier blootlê. En dit is dat my eie ouma ook ’n ‘tant San van Christiana’ was. Ek glo nie sy was dieselfde tant San as die een waaroor die liedjie handel nie. Dalk, wie weet? Maar wat vas staan is sy was ook tant San, en sy het gewoon in Christiana, daar in Robynstraat 119.

 

Ek dink ons kort ‘seriously’ ’n ‘air konsertina’ kompetisie in hierdie land. Ek moet bieg ek gebruik die woord ‘seriously’ net om ‘browny points’ te wen by die vervaardigers van Kyknet en 7de Laan (Ek praat nie onder normale omstandighede só nie).

 

Ek dink regtig ons kort so iets. Kan Karin Meiring en kie nie so iets vir ons aanmekaar slaan nie? Ek twyfel of ek sal wen, maar ek sal graag deelnemer nommer een wees! Ek sal skaamteloos die platform le van so iets (Dis nou as ek ooit die oudisies slaag). Dan kan die hele ding ’n lekker afsetpunt word van ons land se wonderlike Boeremusiek. Ek is baie seker mense sal inskakel. Dit kan ’n wonderlike tradisie word. Dit kan ’n nuwe flair gee aan Boeremusiek. Dit kan mense lok wat nie Boeremusiek juis ken nie.

 

My voorlopige voorstelle is dus as volg. Voor die amptelike program opgeneem word, word daar ’n kompetisie gehou waar lede van die publiek kan help om te besluit wat die naam van die program sal wees. Mense kan byvoorbeeld via epos en teksboodskappe titels nomineer. En dan kan daar gestem word vir die ‘beste’ titel. Die wenners van hierdie kompetisie kan kontantpryse, CD’s en ’n VIP besoek aan die openingsespisode wen.

 

Vir die paneel van beoordelaars kan ons byvoorbeeld bekendes uit die Boeremusiekkringe kry, bv. iemand soos Ollie Viljoen.

 

As aanbieders sal dit ’n goeie plan wees om weer vir Kabous Meiring en Jaco (ek kan nie sy van onthou nie en weet net hy is van die Disselblom/Villa Rosa faam) te probeer kry. Hierdie twee aanbieders het die vorige Boeremusiek program op KykNet (Varstrap) aangebied en kykers sal vertroud wees met hulle.

 

Tydens elke episode word daar dan van bekende en/of opkomende orkeste gebruik gemaak om die ‘air konsertina spelers’ te begelei. Tussendeur die gebeure kan daar gesels word met die lede van die  bepaalde orkes sowel as die deelnemers. So kry die orkeste blootstelling. Mens kan byvoorbeeld ook daaraan dink om die bepaalde orkes wat die aand speel se konsertinaspeler te gebruik as medebeoordelaar op die paneel vir daardie bepaalde episode.

 

Ek sê, gee ons die ‘air konsertina’ NOU!

2 responses to Wat van ’n ‘AIR KONSERTINA’ toernooi????!!!!

  1. Hi Barend

    Jy moet jou lug-korsentina geniet. Weereens dankie vir Sondag se kuier.

    Mooibly.

    • Hi Tertius! Dankie. Dit was goed dat ons weer bietjie kon gesels! Als van die beste vir jou T! Mooi loop.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>