Avatar of Barend

by

BALKE TOE Boeremusiek

November 12, 2012 in Uncategorized

Die gawe mense van Radio Rosestad gee so toe vir my ’n CD. Dis ongelooflik om te dink dat CD’s eintlik al ‘verouderde’ tegnologie is, is dit nie? Ek meen, dit voel of dit nog anderdag was wat mense CD’s begin koop en luister het. Dit was nog nou die dag man, in die 90’s eintlik, wat die CD ‘groot’ geword het. En nou is dit ’n onooglike item wat net rondlê. Wat ‘clutter’. Net NOG een van daardie dinge wat ons soms so ywerig versamel net om dit nie saam met ons in die kis te laai nie (en nou praat ek NIE van die wakis nie, al is ons die nakomelinge van die Voortrekkers).

 

Ek moet bieg, toe ek hoor die CD se naam is ‘BALKE TOE’, toe lig my wenkbroue so sentimeter of wat. Dit het beslis in die proses die plooie verdiep. Die woorde ‘BALKE TOE’ het dadelik die volgende name in my gemoed losgelaat: Kurt Darren, Juanita du Plessis en Bobby van Jaarsveldt (ek het niks teen hierdie mense persoonlik nie, dit is maar net hulle komposisies wat ek dikwels nie stimulerend vind nie). Maar toe ek uiteindelik die ou plastiekomhulseltjie in my hand hou, toe voel ek skielik so tinteling in my gemoed. Dit is daai gevoel wat jy kry as ’n mooi meisie vir jou glimlag. Daai gevoel wat jy kry as jy ’n klein kindjie sien wat uitgelate speel. Daai tipe ding. Want dit is toe al die tyd ’n versameling van wat populêr bekendstaan as ‘Boeremusiek’.

 

En dit is lekker musiek! Dit was lekker om weer ou bekende wysies te hoor soos ‘The Green Beret’, ‘Blue eyes crying in the rain’ en ‘tant San van Christiana’. Jy kan luister na ‘Stamp daai boude lam’, gespeel deur (die ‘late, great’) Zack Van Niekerk op sy mondfluitjie en daar is ook ’n weergawe van ‘Ou Waenhuis’ op hierdie album deur ene Jannie Ludick en die Kitaarkêrels. Ek moet bieg hierdie is nie my gunsteling weergawe van ‘Ou waenhuis’ nie. Daarmee sê ek nie die weergawe op hierdie album is ‘swak’ nie. Ek sê net. Ek gebruik hierdie lied as my luitoon en dit is by verre my gunsteling stukkie Boeremusiek. Maar ek het beslis my gunsteling weergawe en dis ongelukkig nie hierdie een nie, Ek meen, ek is self ’n ywerige kitaarspeler gewees op my dag. En selfs nou nog pluk ek soms die kitaar uit. En mens kan wonderlike dinge op ’n kitaar doen, maar ’n kitaar sal nooit ’n konsertina kan wees nie. Nooit. Selfs al was die enigste twee musiekinstrumente op aarde die kitaar en die konsertina, en jy gee die kitaar vir Mozart en die konsertina vir ’n gemiddelde musikant, dan sou daardie gemiddelde musikant ‘Ou waenhuis’ beter kon speel op sy konsertina as wat Motzart dit op die kitaar sou kon doen. ’n Kitaar is nie ’n konsertina nie. Die nuanses wat ’n konsertina na die tafel bring is net eenvoudig nie haalbaar op die kitaar nie.

 

Ai, dit was nou ’n lekker CD. Ek vermoed hierdie is ’n CD wat ek dalk so rukkie sal bere. Net vir sommer. Gelukkig is ek nie ’n sentimentele mens nie en klou nie aan sulke dinge vas nie. Ek wil hierdie een bere net met die hoop dat die klanke wat daaruit kan kom my nog heelwat plesier sal verskaf.

 

So, as ek vanaand my gebedjie gaan opsê dan gaan ek dankie sê vir Boeremusiek. En ek hoop baie ander mense sal my voorbeeld volg.

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>